Uitgawe 44
Uitgawe 42
Uitgawe 41
Uitgawe 40
Uitgawe 39
Uitgawe 38
Uitgawe 37
Uitgawe 36
Uitgawe 35
Uitgawe 34
Uitgawe 33
Uitgawe 32
Uitgawe 31
Uitgawe 30
Uitgawe 29
Uitgawe 28
Uitgawe 27
Uitgawe 26
Uitgawe 25
Uitgawe 24
Uitgawe 23
Uitgawe 22
Uitgawe 21
Uitgawe 20
Uitgawe 19
Uitgawe 18

SPESIALE UITGAWE: In liefdevolle herinnering aan Dugulth Ferreira, beter bekend as TikTok dans- en rymklets-ster ‘Junior King’ (1996-2025)
Ons bring vandag vir die eerste keer ’n spesiale uitgawe van Mondstuk Media uit omdat ons glo die verhaal van Junior King is te belangrik om dit slegs op Facebook te hanteer. Hierdie jongman het nie slegs sy talent aangewend om vir homself aansien te wen nie. Hy het dit gebruik om kinders te help om deur die aanleer van danspassies die uitsigloosheid in bruin gemeenskappe teen te werk, hier waar talent dikwels die enigste wegkomkans van armoede en ellende en maatskaplike struikelblokke is. Mag Junior King se nalatenskap voortleef.

’n Rugbyster se ma praat met ons oor Kersfees. Lesse is in 2025 geleer. Drome is bewaarheid. En Mondstuk Media keer weer op 19 Januarie 2026 terug.
Die helderskynende rugbyster van Kylemore, Edwill van der Merwe, se ma Chareldine praat oor hom en oor Krismis by die huis. Ons vra die RSG-man Jody Hendricks oor hoe 2025 vir hom verloop het en Keeicha McPherson van Bethelsdorp deel haar droom wat hierdie jaar bewaarheid is. Dan word stamhoof Brendon Torob Adams van die PA onder kruisondervraging deur Sumayyah Campher Petersen geneem, terwyl Keith Meyer sy misnoeë te kenne gee oor hoe die media besluit om foto’s van bekendes by stories oor familielede se skandes te gebruik. Plus: Maryna Marengo-Barnard is ’n mamma van die gemeenskap wat wenke gee oor gesonde vakansie-pret vir die kinders – al is daar nie altyd geld vir lekker dinge nie. FOLLOW ons hierdie vakansie op Facebook tot ons eerste uitgawe vir 2026 op Maandag, 19 Januarie verskyn. Seënwense!
Marco Jones se seisoen van staal vir Robertson Town. Plus: Glen Snyman veg voort teen die term ‘Kleurling’; en kyk hoe gaan ons kinders dood...
Die Bolandse rugbyvolk se tonge het die afgelope seisoen behoorlik geklap oor die talent van Marco Jones, wat vir Robertson Town in Boland se Groot Uitdaag-kompetisie en Top 12 uitgedraf het. Ons leer hom beter ken. ’n Ent verder op die N1, hou Glen Snyman uit Oudtshoorn aan om vir vyftien jaar lank al te veg dat rasseklassifikasie afgeskaf moet word. Die dood van kinders op plattelandse dorpe die afgelope ruk, tref Mondstuk Media diep; en Heindrich Wyngaard het ’n hewige debat ontketen met sy video oor fondsinsamelings deur skole en ander instellings in ons gemeenskappe. Lekker lees, Mondstuk se mense!

‘Lady Azelia’ lei nou die Suidoosterfees se direksie; ons onthou dat vandag die vrystellingsdatum van die slaafgemaaktes is; en die tragiese dood van ’n jong ma in die dal van genade
Ladismith is dalk meer bekend vir kaas en Karoo-lam en die skryfwerk van Abraham H. de Vries; nou ook vir Azelia Morkel se prestasies as, onder meer hoof van die TV-kanaal Via en nuwe voorsitter van die Suidoosterfees se direksie. Ons groot kwessie van die week, is die ignorering van die slawe op 1 Desember. Ons vier die Kokertoekennings van die Afrikaanse Taalraad. En ons deel ook vandag die tragiese selfdood van ’n jong ma van Genadendal oor die afgelope naweek.

Hoe ’n joernalis ’n mediabaas geword het. Prof. Jakes Gerwel en die Kong-kerk; en waarom is die ‘patriots’ nie lekker met anne’ mense nie?
In ’n tydperk waar media-organisasies afskaal en koerante gesluit word, het John Bailey die ongewone ding gedoen deur ’n koerant te koop. Toe kry hy twéé. Ons praat met dié gebore Wellingtoner oor waarom hy dié mal perd opgesaal het. Plus: Die meningsvormer Jason Lloyd gee ’n nuwe rede om prof. Jakes Gerwel te onthou; en vir wat gaan die “patriots” so te kere oor “prez” Gayton McKenzie se onderhoud met Mondstuk Media?

’n Onderhoud met die ‘Prez’; hulde aan dr. Franklin Sonn; en wat sê julle oor juffie wat haar biscuit op TikTok skud dat die krummels spat?
Die PA-leier, mnr. Gayton McKenzie, het nie nog gewag vir vandag se uitgawe van Mondstuk Media nie toe vertel hy al vir sy ondersteuners van die onderhoud wat hy aan ons toegestaan het. Maar ook toe nou weer op sy manier. Ons moedig jou dus aan om die storie te lees en die video op Facebook te kyk. Maar ons wil, soos altyd, ook debat aanmoedig, hierdie keer oor TikTok-videos waarin spesifiek juffrouens darem net te gemaklik vergeet dat hulle volgelinge ook voor hulle in die klaskamer sit en dat kinders nie altyd doen wat hulle gesê word nie, maar veel eerder doen wat hulle sien. JULIAN EMDON van EMDON VIDEO + PHOTO het die voorbladfoto geneem.

Die lot van die Kaapse vrou: een word benoem as ’n adjunk-minister; die ander een word wreed vermoor. Plus: Boland soek ‘dollie’ en Neville D sing vir die land
Ons uitgawe vandag verskyn later as normaalweg, maar dit is om ’n goeie rede. Ons glo aan gebalanseerde en etiese beriggewing en het daarom gewag vir Boland-rugby se antwoorde op ons vrae oor die unie se geldsake. ’n Ander rede is dat ons inhoudshoof besluit het die uitgawe kan nie verskyn as ons nie iets geskryf het oor die wrede dood van Jamie-Lee de Bruin, onderwysstudent van De Doorns, nie. Dankie vir julle geduld. Laat weet ons wat julle dink van hierdie week se uitgawe - en onthou om ons op Facebook te “follow”, want ons laai deur die week brekende stories daar, soos Vrydagaand s’n oor me. Alexandra Abrahams wat adjunk-minister gaan word. Ons het dié storie voor ander Afrikaanse media ontvang. Lekker lees, Mondstuk se lekke’ mense!

Oom Peter Marais gee redes om die huwelik 60 jaar lank te vier; die sielkundige Allen Grootboom vra of ons nog ’n gewete het; en wat is die betekenis van die syfer 10?
Ons vier hierdie week saam met die alombekende oud-politikus Peter Marais en sy vrou, Bonita, hul sestigste huweliksherdenking. Mondstuk Media het ook sy eie rede vir die viering van ’n klein(er) oorwinning, naamlik die plasing van ons tiende uitgawe. Dit mag min klink, maar dit was geen geringe taak nie. Ons diep denker van die week, is dr. Gregory Allen Grootboom, self ’n oud-politikus, maar ook ’n gerespekteerde sielkundige, wat ons konfronteer met die filosofiese vraag of ons nog ’n gewete het en of ons gewetenloos geraak het? Lekker lees, lekke’ Mondstuk-mense!

Neo Cornelius se lewe is op 15 kort geknip, maar sy lig bly helder skyn. Plus: Matrieks se eindeksamen is ’n ‘gemeenskapsdroom’
Ons doel hier by Mondstuk Media is om stories te vertel op wyses wat dit toeganklik, verstaanbaar (of verteerbaar) en leersaam vir ons teikengehoor te maak. Soms vereis dit dat ons moeilike besluite moet maak, soos oor die video wat ons verlede week saamgestel het oor die ongeluk wat klein Neo Cornelius van Caledon se lewe geëis het. Sommige mense het gevoel die video was te gou en die wonde nog te rou; ander het verstaan ons wou wys hoe ongelooflik tragies - en sinneloos - ’n gemeenskap beroof is van ’n engelkind. Noudat Neo se begrafnis agter die rug is, bring ons in hierdie uitgawe hulde aan hom. Ons krap ook in die polisie-ondersoek rond om te help verseker dat geregtigheid vir hom en sy familie sal geskied. Op ’n heeltemal ander noot laat die onderwysmens Graeme de Bruyn ons anders dink oor die gr. 12-eindeksamen.

Die ‘Rassie van die Boland’ wat gesag ‘rasper’ ... Plus: Nuwe drama by die Theewaterskloof-raad; en McKenzie-moeilikheid in die politiek
Ons het hierdie week ons kategorieë so ’n bietjie aangepas: “Politiek en Politici” kom byvoorbeeld by omdat ons gereeld aandag gee aan die politiek en die mense wat daarin ’n rol speel. Vandag se uitgawe getuig daarvan. Die storie oor twee McKenzies, minister Gayton en raadslid Angus, het sy oorsprong by twee Facebook-plasings. Dit is ’n goeie bewys van Mondstuk se benadering: ons vat sosiale media-plasings en sit dit om in stories wat deur ervare joernalistieke hande aangepas word vir ons aanlyn-platform. Ons plaas ook intussen ons eerste kerkstorie – wat ’n ander aspek is van ons gemeenskappe waaraan ons nou meer aandag wil gee. Lekker lees, Mondstuk se lekker mense!

Skrywers, akteurs se 'looks', naamgee op doopdae, bruin jeug se keuses in die lewe en geskorste munisipale amptenare wat 'by die werk' opdaag
Ons is verheug om Uitgawe #7 met jou te deel. Dit bevat ’n anderste soort verslag oor die 5de Swart Afrikaanse Skrywersimposium; prikkelende rubrieke deur Selvin Hein (oor die bruin jeug-debat) en Danie van Wyk (oor die vreemde name wat bruin mense soms vir hul kinders gee). Natuurlik bly aktualiteit ook nie agter nie, want dit is ’n belangrike deel van Mondstuk se resep, soos ons storie oor Wilfred Solomons-Johannes en die Theewaterskloof-munisipaliteit aandui. Maar altyd ook lighartigheid - hierdie keer oor Dean Smith van "Suidooster", a.k.a "Antie Bettie", en sy "looks". Geniet dit, julle!

’n TikTok-sensasie, ’n verskilmaker en menings oor Gayton McKenzie, bruin jeug en oor bollemakiesie slaan in Boland-rugby...
Romantha Botha praat oor haar TikTok-video's wat gereeld viral gaan; en Fredericka Plaatjies vertel hoe sy ’n lykshuis in ’n kleuterskool omskep het. Ons vra wie is Duitser Bosman, wat so geprys word deur Boland-rugby se president, Bennie van Rooi; en wat gaan Robertson Town maak as hulle Saterdag in die Gold Cup én Top 12 moet speel? Heindrich Wyngaard wonder of dit waar is dat die Here vir Gayton McKenzie tronk toe laat gaan het om die land te red; en ds. Charles Flaendorp het ’n voorstel oor hoe bruin jongmense oor hul geskiedenis geleer kan word. En julle geliefde oom Alspraat tob oor ’n oudleerder van hom, die bekkige tuinman Jôhnny.

Die man wat ’n nuushuis wou begin om as ’n spreekbuis vir afgeskeepte gemeenskappe te dien en hulle stories op ’n eenvoudige wyse te vertel. Nou is dit vyf uitgawes later
Ons is trots om hierdie week ons vyfde uitgawe vir jou te bring. Dankie dat jy hier is; dankie dat jy ander van ons vertel. Sedert ons op 1 September 2025 ons eerste uitgawe geplaas het, het ons net liefde en waardering ervaar. Die werk is baie; arbeiders min. Maar geen omkeer nou meer nie. Ons stel vandag vir die eerste keer ons stigter formeel bekend en vra hom om sy droom vir Mondstuk uit te lê. Hy is die mediapersoonlikheid en burgerlike aktivis Heindrich Wyngaard, o.b.a "Mnr. KLOP!". Jy kry ook o.m. politiek en, soos altyd, humor en inspirasie.

’n Groot saamstaan-droom in inheemse geledere; Nicolette Kinnear se hartseer; en wat is die ‘heilige ekonomie’?
Die begin van die Madlanga-kommissie se ondersoek na bewerings van politieke inmenging in die werk van die polisie, het ook die dapper stryd van die vermoorde lt.kol. Charl Kinnear in herinnering geroep. In hierdie uitgawe praat sy vrou oor haar diepe teleurstelling dat sy moordenaars, vyf jaar ná sy dood, nog nie aan die pen gery het nie. Ons praat ook met die organiseerder van die Nasionale Khoi & San-eenheidskongres; en ons ontmoet die jong sportfotograaf Henko Nel.

Bende-noodkreet; hoe ongebore babas 'FAS' gedrink word; en ons praat met die NZ-koor wat ons volkslied wonderlik laat weerklink
Ons het Mondstuk se voorblad-nuusmaker, Dereleen James, leer ken as ’n teenmisdaad-aktivis van Eldoradopark in Johannesburg, wat ’n stryd gevoer het teen die dwelms wat ook haar seun ingesluk het. Nou loop sy as LP die President tromp-op in die Parlement om te veg vir die veiligheid van alle gemeenskappe. ’n Ander bekommernis neem intussen toe, naamlik die bevinding dat pa’s se drinkgewoontes ook ongebore babas aan Fetale Alkohol Sindroom blootstel. Ons het darem ook aangenamer stories hierdie week, soos dié oor die Nieu-Seelandse koor wat die volkslied verlede naweek so roerend mooi gesing het.

’n Bruin BLOEDBAD?
(Bloei: blossom; bloei: bleeding.) Die aanbreek van lente behoort ons vrolik te laat, soos op ons voorblad uitgestraal deur die radiomense Sue Pyler-Slabbert en Blaine Jones. Maar ’n skadu word daaroor gekaats deur die vloei van bloed op straat. In hierdie week se MONDSTUK, bied ons jou ’n mengsel van lente bloeisels én die letsels wat deur bendegeweld in ons gemeenskappe gelaat word. Jy gaan ook weer kan lag vir oom Alspraat se sêgoed; en ons het ons eerste scoop!

Jou splinternuwe NUUSHUIS
Mondstuk Media is opgewonde om ons eerste uitgawe aan jou bekend te stel. Dankie dat jy kom inloer het en onthou om ’n gewoonte daarvan te maak. Maandag is nou Mondstuk-dag. Ons doel is om die nuusaanbod vir Afrikaanssprekende gemeenskappe te verbreed deur stories - kort en kragtig aangebied - wat jy nie sommer elders sal vind nie; en inspirasie en insig. Ons moedig jou aan om ons voorblad af te laai en om ons op sosiale media te volg.
