Waarvoor kry ons die meeste kyke? Boland se blaser-skandaal en Clanwilliam se ‘vloek-dominee’

Wat? Mondstuk Media se Facebook-plasings en stories oor die (onafgehandelde) ondersoeke na bewerings van skeidsregter-omkopery in die Boland, kry steeds baie aandag.

Hoe? Die kyke (of “views”) vir die vooraf-plasing op Facebook oor verlede Maandag se storie hieroor was meer as 300 000. Dié oor Clanwilliam se “vloek-dominee” was selfs meer.

SOSIALE MEDIA | 20 – 27.07.2026: Die gewildste stories op ons Facebook-blad die afgelope ruk, was dié oor die ondersoeke na bewerings van skeidsregter-omkopery en wedstrydknoeiery in Boland-rugby.

  • Soos Mondstuk Media verlede Maandag berig het, is daar nog nie uitsluitsel oor die ondersoeke wat deur SA Rugby en Boland Rugby (Pty) Ltd gedoen is nie, terwyl die Boland Rugby-unie nog net sy voorlopige bevindings bekend gemaak het.
  • Die burgerregte-organisasie Kaapse Forum het intussen die unie by die Inligtingsreguleerder verkla oor die unie ’n PAIA-aansoek ignoreer.
  • Boland (Pty) Ltd het aan die organisasie gesê hulle het nog nie die finale bevindings van hul ondersoekspan ontvang nie, terwyl mnr. Mark Alexander, SARU-president, aan Mondstuk Media gesê het hulle ondersoek is in ’n gevorderde stadium.
  • Maar die waarheid is blykbaar dat ’n verslag van 80 bladsye reeds in die beheerliggaam se besit is – en dat die saak Vrydag by SARU se uitvoerende bestuursvergadering bespreek sou word.

Kyk nou so: Die Facebook-plasing oor SARU se vergadering, het amper 50 000 kyke gekry en as dit saamgetel word met die 320 000 kyke van die vooraf-plasing oor verlede Maandag se storie op Mondstuk Media se webwerf, dan trek die kyke by 370 000 verby.

Naby genoeg: Nóg ’n plasing wat goeie aftrek gekry het, was einde verlede week se scoop oor die oud-WP-rugbyspeler Calla Scholtz, wat vir die oortreding van ’n beskermingsbevel aangehou en in die hof verskyn het. Scholtz het sy Springbokkleure op ’n binnelandse toer verwerf. Die plasing het net minder as 150 000 kyke gekry.

  • Nadat Mondstuk Media se storie eksklusief geplaas is, het ander media, onder wie Netwerk24 en Rapport ook die storie opgevolg.
Leave a Reply