‘Die boek van Wilden’: Clanwilliam se ‘vloek-dominee’ vertel die verhaal van sy lewe en gebroke huwelik

Wie en wat? Die “vloek-dominee” van VGK Clanwilliam, ds. Wilden Hector, is gister deur ’n vol oggenddiens terugverwelkom.

Waarom maak dit saak? Dit was in weerwil van sy afdanking deur die Ring van Clanwilliam. Mondstuk Media kan nou eksklusief onthul dat hy ’n boek oor sy lewe voltooi het.

NUUSMAKERS | 13 – 20.07.2026: “En die leraar kan nie meer die gemeente tot stigting dien nie,” was die oordeel wat oor ds. Wilden Hector van Clanwilliam se VGK gefel is. Maar gister was die oggenddiens tjok-en-blok vol nadat die kerkraad die besluit van die Ring om sy dienste op te hef, verontagsaam het en hom in sy amp behou het.

  • Die kerkraad beskuldig die Ring – op ’n ongekende uitdagende wyse – dat hulle “buite die bepalings van die Kerkorde” opgetree het. Hieroor sal die Ring op 28 Julie vergader, is by navraag aan Mondstuk Media gesê.

Uit sy mond: “Ek het lank tyd gehad om introspeksie te doen en op ’n manier die trauma te verwerk,” het ds. Hector voor die naweek gesê. Introspeksie was nodig oor wat hom vir ’n geruime tyd in die nuus en as ’n besprekingspunt op sosiale media gehou het. Dit is die gebruik van vloektaal, soos die p-woord, in ’n hewige argument met sy vervreemde vrou.

  • Hector, wat sedert verlede Maandag terug is in sy amp, het dit teenoor Mondstuk Media duidelik gemaak dat hy nie uit sy eie of uit “rebelsheid” teenoor die Ring na die preekstoel terugkeer nie.
  • Hy laat hom lei deur “die mandaat van die kerkraad”, wat in ’n mediaverklaring op Facebook hul besluit bekend gemaak het.

Uit sy pen: Dit het nou bekend geword dat ds. Hector die afgelope tyd ’n boek geskryf het oor nie slegs sy onlangse verlede nie, maar oor sy lewe tot nou. Die titel, Laaitie van die Asla, verwys na die woonbuurt in Piketberg waar hy opgegroei het.

  • In die “Voorwoord” skryf ’n mede-leraar oor die inhoud van die boek: “Dit is ’n reis wat jou aan die kraag gryp en jou dwing om te kyk na die dinge waarvoor ons meestal ons oë toemaak: die armoede wat in jou porieë gaan sit, die geweld wat soos mis oor ’n buurt hang, en die subtiele, dog verwoestende gewig van toksiese maskuliniteit wat van seuns mans probeer maak deur hulle harte hard te skroei.
  • Oor geweld in die soort gemeenskappe waarin ds. Hector opgegroei het, lui die “Voorwoord”: “Die geweld was nie net buite op die straathoeke nie; dit het ingesypel onder die deure van huise, in die psige van ’n generasie seuns wat moes leer om te bloei sonder om te huil.”

Hier wil ek nie bly nie: Oor die verbrokkeling van sy huwelik, hierdie kommentaar van die mede-leraar wat die “Voorwoord” geskryf het: “Die skrywer skroom nie om die spieël op homself te rig nie. Hy skryf met ’n ontstellende, skaamtelose eerlikheid oor hoe daardie diepgesetelde storms uiteindelik sy eie huwelik laat splinter het.”

  • Ook: “Dit is die tragiese kruispad van die verhaal: die oortuiging dat akademie en ’n nuwe adres jou outomaties genees het, terwyl die patrone van die verlede – die onverwerkte trauma, die weiering om broos te wees, die toksiese pantsers wat in die Asla gesmee is – stilletjies saam in die huweliksbed geklim het.”
  • En laastens: “Die huwelik het gebreek omdat die vlug ’n illusie was. Jy kan nie ’n nuwe lewe bou op ’n fondament wat nog rou bloei nie.”
Die VGK Clanwilliam se oggenddiens gister is goed bygewoon.

Mondstuk Media het einde verlede week op Facebook bekend gemaak dat ds. Hector ’n Skrif uit 2 Konings 6 vers 1 tot 7 gekies het vir gister se preek. Dit is die verhaal van die verlore byl, wat ons help verstaan dat God nie te groot of ver is vir ons alledaagse, praktiese probleme nie.

1 thought on “‘Die boek van Wilden’: Clanwilliam se ‘vloek-dominee’ vertel die verhaal van sy lewe en gebroke huwelik

  1. […] Die plasing wat beter gedoen het as die rugbystorie is dié oor Clanwilliam se “vloek-dominee”, Wilden Hector. […]

Leave a Reply