Rugbyvolk vra wat vat ondersoeke na ref-omkopery so lank. Kaapse Forum vermoed ’n slang in die gras
Wat? Die beweerde omkopery van skeidsregters in Boland-rugby is heel moontlik ernstiger is as wat die unie van “prez” Bennie van Rooi tot nou voorgegee het.
Waarom? Sowel SA Rugby as Boland (Pty) Ltd se ondersoeke duur glo voort, terwyl die Boland-unie nou deur Kaapse Forum by die Inligtingsreguleerder oor sy ondersoek verkla is.
NUUSMAKERS | 13 – 20.07.2026: Spekulasie duur voort op sosiale media oor wat bevind is in SA Rugby se eie ondersoek na die beweerde omkopery van Bolandse skeidsregters, wat al van verlede jaar af aankom. Mondstuk Media het goeie rede om te glo dat die SARU-ondersoek einde se kant toe staan. Na verneem word, gaan die groot onsekerheid oor hoe die uitkoms, wat verreikende gevolge vir rugby kan inhou, bestuur moet word.
Hier kom dinges: ’n Bron wat voorheen vir SA Rugby gewerk het en kontakte binne die organisasie het, het Saterdagoggend aan Mondstuk Media gesê: “Ek het hierdie week betroubaar verneem dat SARU se report is klaar en dat hier groot k*k kom.”
- Die bron beweer verder dat ’n lys name glo in die verslag vervat is wat verskeie rolspelers by die bewerings betrek. Dit sou glo klubvoorsitters, klubs, skeidsregters en “selfs [Boland-] unie mense” insluit.
“Gee kans”: Nadat die spekulasie op sosiale media oor die uitkoms van die SA Rugby-ondersoek begin toeneem het, het Mondstuk Media die land se rugbybaas, Mark Alexander, genader. In ’n persoonlike oproep na ons publikasie, het hy gesê SA Rugby besef mense wil weet wat die uitkoms van die ondersoek is. “Ons ondersoek is in ’n gevorderde stadium,” sê hy, “en ons sal op die gepaste tyd daaroor met die publiek kommunikeer.”
- Die regsfirma wat vir die doel van die ondersoek deur SA Rugby gekontrakteer is, is die grootste op die vasteland – ENSafrica, wat beteken ’n groot klomp geld word daarvoor betaal.
- “This appointment underscores SARU’s commitment to maintaining the highest levels of integrity, transparency, and accountability within the game,” het die nasionale beheerliggaam in September verlede jaar in ’n e-pos aan Kaapse Forum gesê. SARU verduidelik verder in die e-pos: “Given the seriousness of the allegations, we have mandated ENSafrica to lead a thorough and impartial process in accordance with the applicable legal and regulatory framework.”
Kampvegter bly krap: ’n Woordvoerder vir Kaapse Forum, Aldo Carelse, sê die Bolandse rugbypubliek het lank genoeg gewag vir die finale uitkomste van die ondersoeke. “Solank as wat die bevindings nie volledig openbaar gemaak word nie, sal die agterdog oor skeidsregters se hantering van wedstryde en die unie se hantering van die saak voortduur,” beklemtoon hy.
- Carelse sê ook: “Hierdie situasie maak dat Kaapse Forum glo daar sit meer agter die bewerings as wat Boland Rugby-unie tot nou voorgegee het.”
- Kaapse Forum se klag teen die unie gaan daaroor dat hulle weier om uitvoering te gee aan ’n PAIA-aansoek vir inligting oor die unie se ondersoek.
- Die organisasie het ook die afgelope tyd gereeld gevra vir inligting van die Boland Rugby (Pty) Ltd se uitvoerende hoof, Quintin van Rooyen. Tot op datum het mnr. Van Rooyen slegs gesê die ondersoek duur voort.
Terugflits: In November 2025, Saterdag die 29ste, het Boland-president Bennie van Rooi ’n perskonferensie saam met die unie se eie ondersoekspan na die ref-bewerings gehou. Dit was na afloop van ’n vergadering met klubvoorsitters by die Boland-stadion in Wellington.
- In die agtergrond het die klubvoorsitters gesmul aan worsrolletjies wat deur die UB-lid me. Patricia Vorster uitgedeel is.
- Van Rooi het die ondersoekspan aan die woord gestel. Hulle het TWEE belangrike punte gemaak oor “die huidige stand van die ondersoek en wat ons beplan in die toelkoms”.
- Bevinding 1: Die belangrikste punt was “dat daar ’n gebrek is aan begrip van wat wedstrydknoeiery is”. Ongewilde beslissings deur skeidsregters word summier as wedstrydknoeiery beskou, het hulle gesê, maar dan word dit nie deur “genoeg bewyse” gerugsteun nie.
- Bevinding 2: Wat as uiters onrusbarend beskou kan word, het die Boland-ondersoekpaneel erken dat skeidsregters onder “baie druk” is weens hul “sosio-ekonomiese omstandighede”. Talle bevind hulself in “laer inkomste-werke” of is werkloos. Dit maak hulle “kwesbaar” vir omkopery, het die paneel bevind.
Stilte voor die storm? Geen aankondiging is sedertdien deur Boland gemaak oor wat die finale uitkoms van die proses was nie. Mnr. Van Rooi, wat hoop om tot SA Rugby se bestuur verkies te word, se kop staan ook intussen politiek toe. Mondstuk Media het op 6 Julie berig dat hy by die Patriotic Alliance aangesluit het en glo as dié party se burgemeesterskandidaat vir Langeberg oorweeg word. Kliek hier om die storie te lees.
