Eers wit, toe swart, weer wit en uiteindelik bruin: PARC diep Sandra Laing se hartroerende rasse-verhaal op
Wat en wie? Die stigter van People Against Race Classification, Glen Snyman (middel), het Gauteng toe gereis om respek aan Sandra Laing (links) te gaan betoon. Haar man, Johannes, staan regs.
Hoekom? Mev. Laing is uit ’n wit Afrikaner-huwelik gebore en is verwerp weens haar “bruin” voorkoms. Mnr. Snyman meen dit bewys die absurditeit van ras-etikette.
NUUSMAKERS | 13 – 20.07.2026: Die groter doel van Glen Snyman se onlangse besoek aan Gauteng, was om onder meer in die Nasionale Argiewe navorsing te gaan doen oor die geskiedenis van rasseklassifikasie in die land. In die besonder wou hy ook die wetgewing bekom waardeur BBB-EE- (of swartbemagting-)status aan Chinese Suid-Afrikaners toegeken is.
- Mondstuk Media wou by hom weet:
Hoe het jy gevoel toe jy Sandra Laing ontmoet?
Ek en Sandra het al baie kere telefonies met mekaar gesels, maar om haar uiteindelik persoonlik te ontmoet, was vir my ’n besondere voorreg. Dit was ’n emosionele en geskiedkundige oomblik. Sandra se lewensverhaal het my nog altyd diep geraak, en dit was bemoedigend om te sien dat dit goed gaan met haar en haar familie.
Waarom was dit vir jou belangrik om haar te ontmoet?
Sandra Laing se lewensverhaal is waarskynlik een van die duidelikste voorbeelde van die menslike gevolge van rasseklassifikasie in Suid-Afrika. Sy is gedurende haar leeftyd drie keer amptelik deur die staat herklassifiseer: aanvanklik as wit by geboorte, daarna as swart, later weer as wit en uiteindelik as bruin. Haar verhaal toon hoe rasseklassifikasie nie bloot ’n administratiewe proses is nie, maar ’n beleid wat ’n mens se identiteit, waardigheid, gesinslewe en toekoms ingrypend kan beïnvloed en verwoes.
Wat is die relevantheid van haar ervaring vir die stryd wat jy en PARC voer?
Vir PARC is haar verhaal ’n kragtige herinnering aan waarom ons glo dat geen mens deur die staat volgens ras geklassifiseer behoort te word nie. Hierdie lewensverhaal dien as ’n waarskuwing vir almal wat nog na mense verwys in terme van ’n sogenaamde ras.
Wat is die pad vorentoe?
PARC beoog om deel te neem aan die hofsaak wat Rescue SA Civil Rights Alliance teen die regering aanhangig gemaak het. Sandra het haar steun aan ons uitgespreek en gesê dat sy bereid is om, indien nodig, saam met ons hof toe te gaan en haar persoonlike getuienis te lewer.
- Ons doel is om op ’n vreedsame en grondwetlike wyse te werk vir ’n Suid-Afrika waarin elke burger as individu erken word en waar verouderde en neerhalende rasseklassifikasie uit ons wetgewing en administratiewe stelsels verwyder word.
- Ons glo dat die waardigheid en gelykheid van elke persoon die grondslag van ’n ware nie-rassige samelewing behoort te wees.
Opgeteken en uitgebeeld: Die storie van Sandra Laing word vertel in Judith Stone se boek When she was white en ook in die bekroonde rolprent Skin.
- Besoek PARC se webwerf hier om toegang te verkry tot opvoedkundige inligting oor die geskiedenis van rasseklassifikasie in Suid-Afrika.
