Jayden Adams se selfdood: Wat ek vermoed het, was toe so. Ons moet keer dat dit nie met ander gebeur

HEINDRICH WYNGAARD het onrustig gevoel toe hy lees dat die Bafana-ster Jayden Adams homself opgehang het, dae nadat hy teruggekeer het van die Fifa Sokkerwêreldbekertoernooi.

Waarom? Die (voorlopige) verklaring daarvoor het net nie voldoende geklink nie. Nou het meer aan die lig gekom. Hoe moet ons daarop reageer?

STANDPUNTE | 13 – 20.07.2026: Die berig in verlede Sondag se uitgawe van Rapport oor Jayden Adams se dood, geskryf deur Julian Jansen, het verwys na twee verliese wat hy in die onlangse verlede moes verwerk. Dit was die afsterwe van sy ouma, Marianna Hartzenberg, op 18 Junie; en dit was – ’n ruk voor daai – die tragediese insident waartydens sy boesemvriend, Ashwin Andries, doodgesteek is.

  • ’n Mens verstaan dat dit Jayden emosioneel hard moes tref, want hy was natuurlik naby aan sy ouma en om ’n boesemvriend aan die dood af te staan, is soos om ’n bloedbroer te verloor.
  • Maar die joernalis in my wou weet: Wat is daar nog wat ons nie van weet nie?
  • Navrae aan iemand naby aan die familie se respons: “Dis baie sensitief, boeta.”
  • Nou het ’n tweede berig, wat gister verskyn het, gehelp om die vraag te beantwoord.

Die agtergrond: Adams, wat slegs 25 jaar oud was, het homself glo gehang in ’n woonplek in Tamboerskloof, het die eerste berig gelui. Die Bafana-ster, wat in al vier die span se Wêreldbekerwedstryde gespeel het, laat luidens dié berig sy ouers, Juanito en Candice Adams, asook sy vriendin, Aqueelah Adendorf, en hul vyfjarige dogtertjie agter. Gister se berig maak egter ook melding van nóg ’n (jonger) kind wat Jayden by ’n ander vrou, Jody Solomons, het.

Die geld-euwel: Hewige argumente het glo tussen Jayden en Aqueelah plaasgevind, aldus die Jansen se nuutste berig, toe hulle verlede Vrydagaand saam met vriende uit was en ook later toe hulle tuis by die gehuurde blyplek was. Dit het in die vroeë oggendure, so vyfuur se kant, weer opgevlam. Maar geld was ook blykbaar deurentyd ’n issue, skryf Jansen, oor geld wat Jayden vir sy ouers gegee het, hoewel hulle hom nooit vir geld gevra het nie.

Breekpunt: Die vraag wat by my opgekom het – sonder dat ek myself as ’n sielkundige wil voordoen – is hoe moontlik dit is dat die verlies aan sy ouma en sy vriend die rede kon wees wat Jayden by die punt sou kry waar hy sy eie lewe neem? In gister se Rapport-berig, word bekend gemaak dat hy glo teen 8:00 sy pa gebel het om te sê hy kan dit “nie meer vat nie” – die berig sê nie wat hy nie meer kan vat nie – “en dat hy homself ‘gaan doodmaak’”.

  • Teen die tyd dat sy pa by die plek in Tamboerskloof aankom en die deur oopskop van die badkamer waarbinne hy homself toegesluit het, was dit te laat.

“There are more questions than answers”: Soos die woorde van die bekende liedjie sê, is daar ook heelwat vrae wat nog onbeantwoord bly:

  • Het niemand anders hom uit die badkamer probeer kry nie?
  • Hoe erg was sy besteding as dit so ’n probleem vir sy vriendin was?
  • Het hy geld belê om vir hom (en sy kinders) voorsiening te maak wanneer hy nie meer die dag sokker kan speel nie?
  • Hoe gaan ons seker maak dat mans meer openlik begin praat oor dit wat hulle diep binne-in hulle pla – sonder om te voel dat dit hulle “sag” kan laat lyk of kan maak dat hulle as “nie mans genoeg nie” beskou sal word?

Laaste gedagte: Die dood van Jayden Adams, ’n jong sportster uit die gemeenskappe wat dikwels afgeskeep word en nie dieselfde geleenthede kry as ander nie, is ’n verlies vir bruin mense in die algemeen – en, natuurlik, ook vir die hele land en sokkerpubliek. Ons moet hom onthou as ’n voorbeeld van iemand wat die kanse aangegryp het wat hy gebied is en hard gewerk het om sy sukses te verdien.

  • Maar ons moet ook begin om behoorlike emosionele en finansiële boustene (of spreekwoordelike omheinings) in ons families en ons gemeenskappe in plek te sit om ander, jong talentvolle sportlui te beskerm teen die daaglikse aanslae op jou geestesgesondheid en die versoekings wat saam met swaarverdiende groot geld kom.
Leave a Reply