Die dood van ’n sportster: JULIAN JANSEN sê hoe hy as joernalis die balans tussen hartseer en feite behou

Waarom? Ons het die ervare joernalis Julian Jansen gevra wat dit verg om te kan skryf oor ’n tragedie soos die selfdood van die sokkerheld Jayden Adams.

Hoe? “Ek dink die belangrikste is om baie na aan die familie te kom,” sê hy, “want dis ontsettend moeilik en [’n] baie sensitiewe arena wat joernaliste betree.” (Foto deur Edrea du Toit)

NUUSMAKERS | 13 – 20.07.2026: Die vryskutjoernalis Julian Jansen, wat vir Rapport en Kuier-tydskrif verslag doen, het verlede naweek die berig oor Jayden Adams se dood vir Rapport geskryf.

  • Ná die onthullings gister in sy nuutste berig oor die selfdood van die sokkerster, het Mondstuk Media hom gevra: Hoe pak ’n joernalis so ’n sensitiewe storie aan om ’n balans te kan behou tussen die familie se hartseer en om die feite uit te krap?

Só maak mens: “Ek dink die belangrikste is om baie na aan die familie te kom, want dis ontsettend moeilik en [’n] baie sensitiewe arena wat joernaliste betree,” antwoord hy, “om die ouers, vrou [of] meisie direk te nader, so ek soek ’n betroubare persoon/persone in die binnekring.”

  • Soms kry jy “maklik en met dankbaarheid iemand wat jy in die bnnekring ken”, sê hy, soos hy gelukkig was met hierdie storie. Wanneer só ’n persoon bereid is om met die jou as joernalis te praat, “is jy meer seker dat die feite nie net sterk is, maar ook akkuraat”.
  • In die afwesigheid van só ’n bron, voeg hy by, “is daar nie ’n storie vir lesers nie”. Wat lesers soek, is “meer detail” en nie “spekulasies” nie.

Feite en families: “Joernaliste moet (nooit) nie die hartseer van families kompromiteer deur onfeitelike inligting nie,” sê Jansen. “Gee die familie regverdiglik die platform met ’n stel vrae – en dis hul prerogatief om te antwoord al dan nie.”

  • Jansen sê hy is ’n voorstander daarvan dat families “wat so skielik in rou gedompel word”, ’n woordvoerder moet kry. Dié woordvoerder sal dan “al die feite kan verifieer” en ook “spekulasies in die wind slaan”.
  • Wat ewe belangrik is, is dat sodanige woordvoerder “ook die betreding deur die media in daai emosionele spasie sal voorkom en beskerm”.
Jayden Adams en sy vriendin, Aqueelah Adendorf.

Oorsprong van Jayden se uitdagings met geestesgesondheid: Mondstuk Media wou ook van Jansen weet of hy in sy ondersoek en beriggewing kon agterkom watse faktore moontlik ’n rol kon speel in die uitdagings wat hy vermoedelik met sy geesteswelstand ondervind het. “Op die oog af was dit dalk die twee sterftes van nabye geliefdes, maar Ashwin is drie jaar gelede oorlede en ons verwag almal dat oumas ons gaan verlaat.”

  • Jansen sê: “Duisende mense gaan deur sulke trauma en verwerk dit. In Jayden se geval dink ek dis meer as die twee verliese wat hom dalk in daardie sielkundige gat laat val en gehou het. Ek reken daar is dalk onaangespreekte trauma en pyn, maar wat die snellers en oorsake is, wil mens nie spekuleer nie.”
  • Dit is moontlik dat Jayden se familie presies weet wat die oorsprong van sy geestestoestand was, sê Jansen, maar in sy berig gister het hy geskryf die familie het blykbaar ooreengekom dat niemand oor die omstandighede rondom Jayden se dood sal praat nie.

Hierna: Jansen sê dat indien dit wel depressie was wat daartoe gelei het dat Jayden Adams “so traumaties ’n einde aan sy lewe gemaak het, is dit ’n wekroep vir ons as burgers dat ons dit moet (laat) aanspreek”.

  • “Depressie diskrimineer nie: Hier was ’n jongman op die kruin van sy sportlewe,” sê Jansen. “Soek hulp en moenie skaam wees daaroor nie,” moedig hy ander aan. “Dit is dalk die een les wat ons uit Jayden se dood kan neem.”

Julian Jansen is ook bekend as die skrywer van boeke oor ware misdaadverhale. Sy nuutste boek, Op die spoor van die Stasiemoordenaar, word deur Tafelberg uitgegee. Kyk hier na ’n Pagecast-onderhoud oor dié boek, wat ons inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, met Jansen gevoer het.

Leave a Reply