Legendes van Villiersdorp-rugby ‘word uitgehou’, sê hulle. Talle vertoë tot Boland ’niks aan gedoen’
Wie en wat? Gemeenskapslede en oudspelers van Villiersdorp beweer hulle word deur die klubbestuur daarvan weerhou om as lede aan te sluit.
Hoe? Die groep het al verskeie vertoë aan die klub gerig oor die aansluitingsfooi en betaalmetode, terwyl die unie ook oor ’n “ongrondwetlike” AJV ingelig is. Boland kry skynbaar stilstuipe hieroor.
SPORT | 13 – 20.07.2026: Die burgerregte-organisasie Kaapse Forum het onderneem om ’n groep oudspelers en ander gemeenskapslede van Villiersdorp in die Overberg behulpsaam te wees in hul stryd om toelating tot die plaaslike rugbyklub.
- Dié stryd word glo al sedert 2022 gevoer en vanaf 2023 tot in Februarie vanjaar is talle e-posse al aan die klub en Boland gerig om die situasie te beredder.
Hulle sê: Talle bewerings oor ongerymdhede word deur dié groep ontevredenes teen die klubbestuur gemaak, maar Mondstuk Media het besluit om dit nie hier te herhaal nie. Nadat Boland aanvanklik sy hoof van klubrugby, Kobus Vergotine, gestuur het om ondersoek na die saak in te stel, het die saak blykbaar net doodgeloop.
- ’n Huidige bestuurslid by SA Rugby en voormalige Boland-bestuurslid, adv. Willie Small, is ook blykbaar opdrag gegee om die saak te ondersoek, wat hy toe gedoen het.
- Geen reaksie is sedertdien van Vergotine óf Small ontvang nie, word aangevoer.
- Die ontevrede groep impliseer ook ’n huidige lid van Boland se uitvoerende bestuur, me. Patricia Vorster, in die onenigheid. Dit word gesê dat haar man ook op die bestuur dien en glo vir die voorsitter van die klub werk en dat sy die klub daarom beskerm.
Gemeenskap eerste: Nadat Kaapse Forum deur die groep vir bystand genader is, het die organisasie ingestem om die saak op te neem met die klub, sowel as met die Boland-beheerliggaam. Dit word hierdie week gedoen.
- Kaapse Forum se standpunt is dat rugbyklubs vir gemeenskappe daar gestel is en daarom maniere moet vind om geskille by te lê eerder as dat gemeenskapslede summier uitgesluit word.
- “Ons doel sal wees om te help verseker dat die ontevrede lede en die bestuur tot ’n vergelyk kan word sodat die verdeeldheid beëindig word,” sê Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum. “Rugby is die een sport wat ons gemeenskappe moet saamsnoer – en dit is waarom Kaapse Forum ’n positiewe rol in die uitkoms van die saak wil speel.”
Enige kommentaar? Mondstuk Media het boodskappe aan mev. Vorster en adv. Small gestuur om hul kommentaar te kry. Adv. Small het laat weet hy is in ’n vergadering, terwyl ons niks van mev. Vorster teruggehoor het nie.
Onderskrif: Die foto wat hierby gebruik word, is van Villiersdorp-rugbyklub se Facebook-blad verkry. Die twee bestuurslede op die foto is Lupeten Johnson (sekretaris en kassier) en Raymond Uren (voorsitter).
