Wie inspireer ons? Jayden Bantom wil Sewes toe nadat hy Stormers dronk hardloop

Wat? Die grootste uitblinker in die Sanlam Boland Kavaliers se Curriebeker-wegholsege teen die Stormers XXIII gister in Wellington, se volgende mikpunt is die URC en daarna die BlitzBokke.

Hoekom? “Oor die manier hoe ek speel en my spoed en die space wat daar is,” sê Jayden Bantom vandag in ’n onderhoud met Mondstuk Media.

NUUSMAKERS | 20 – 27.07.2026: Die eerste persoon wat hy gister gebel het om oor sy spog-vertoning vir die Sanlam Boland Kavaliers te vertel, was sy ma, Olivia, onder by die huis in Jansenville in die Oos-Kaapse Karoowêreld. “Ek het haar verduidelik dat dit ’n goeie dag vir my was,” sê hy.

  • Eintlik was dit meer as ’n goeie dag vir die 26-jarige Jayden Bantom: Nie net het hy VIER drieë gedruk nie, maar ook vier doelskoppe én ’n strafdoel deur die pale gestuur.
  • Die naaste wat hy al voorheen aan só ’n dag ervaar het, sê hy, was met sy Curriebeker-debuut verlede jaar – óók teen die Stormers – op DHL-stadion. Hoewel hy op dié dag slegs 10 minute speeltyd gekry het, “kon ek baie doen”, soos om sy spanmaat Donovan Don te help om die top-drieëdrukker in die Curriebeker-kompetisie te maak.
Jayden Bantom sweef nóg ’n keer oor die doellyn, terwyl ’n Stormers-verdediger hom vergeefs probeer keer. Foto verskaf deur BOLAND RUGBY

Gunsteling-posisie? Terwyl hy gister in die linkervleuel-trui vir die Kavas uitdraf, is heelagter sy voorkeur-posisie – en oor sy bykomende verantwoordelikheid as stelskopper sê hy houtgerus: “Ek het maar al die jare geskop, maar die vertroue wat die [Kavaliers] coaches in my het, het my my meer confident gemaak.”

Rolmodelle: Wanneer ’n mens by Bantom wil weet na watter speler hy opgekyk of sy eie spel op skoei, dan noem hy die naam van ’n ander land se held: Will Jordan van Nieu-Seeland, “want sy tipe game is na aan my, attacking wise”. En plaaslik? “Cheslin Kolbe,” antwoord hy. Hoekom? “Oor sy goeie voetewerk,” sê hy. “Ek is naastens aan wat hy kan doen op die veld.”

Hartsake: Die vrou in sy lewe, is sy meisie, Shaan Ayford van Kirkwood, ook onder in die Oos-Kaap. En toe Mondstuk Media met hom gesels, was hy op pad terug van die winkels, waar hy vir sy (amper 3-jarige) seuntjie, Aaron, tekkies gaan koop het. Wie weet, miskien wil die volgende generasie Bantom-rugbytalent al begin opwarm.

Die dag van môre: Die volgende doelwit wat Jayden vir homself gestel het, was om sy buiging in die URC te maak – en daarna sal hy graag vir die Suid-Afrikaanse Sewesspan wil uitdraf. Maar natuurlik hang dit nie van homself af nie, besef hy, soos wat sy gunsteling-vers in die Bybel, Jesaja 60 vers 22, dit stel: “Wanneer die tyd reg is, sal God dit laat gebeur.”

Leave a Reply