Waaroor spoel ons mond uit? Gayton Mckenzie en die PA se ‘grondhonne’, wat soos ‘politieke barbare’ aangaan

Wat? Mondstuk Media stem volmondig saam met ons inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, se waarskuwing die naweek in ’n meningsartikel in Rapport teen wat hy “politieke barbare” noem.

Waarom? Dit is ’n beskrywing wat Wyngaard gebruik weens die vieslike taal waarmee Gayton Mackenzie, leier van die Patriotic Alliance, en sy ondersteuners hul opponente op Facebook uitskel.

STANDPUNTE | 20 – 27.07.2026: Die artikel begin met ’n verwysing na Pieter van der Westhuizen se lekker Nama-rieldansliedjie “Sout, manne, sout!” om lesers te wys op die gevaar van die “politieke barbare”: “Sout, manne, sout! (…) Hier kom ’n fout!” haal Wyngaard uit Van der Westhuizen se liedjie aan.

  • Die gevaar wat hy opsom, is die soort taal waarin die ondersteuners van Gayton Mckenzie en hyself reageer teenoor opponente of mense wat kritiese vrae oor die “Prez” en sy party vra.
  • Wyngaard haal ook uit die PA se party-woordeskat aan, wat hy meen afkomstig is van tronkbendetaal.
  • “Nooit moet hulle baiza (of terugstaan) nie,” skryf hy. “Die hond moet spreekwoordelik ‘los gemaak word’ (teen politieke opponente) en as ‘grondhonne’ (of voetsoldate) moet ‘patriotte’ trots die vyand stormloop. ‘Saloet!’ (óók uit bendetaal oorgeneem) is die party se saamstaan-slagspreuk.”

Fadiel vannie Kaap: Wyngaard koppel die PA en die National Coloured Congress van Fadiel Adams aan mekaar. Beide dié partye speel op die swaarkry-gevoelens van bruin mense, maar nie een van die twee het al behoorlike planne bekend gemaak oor hoe hulle gaan help dat dit maatskaplik, ekonomies en polities beter gaan met dié gemeenskappe nie, argumenteer Wyngaard.

  • Hy skryf: “Gayton Mckenzie se PA staan eerste in dié ‘bruinspoel’-klas; Fadiel Adams gebruik kroeknotas (of crip notes).”
Die sosiale media-illustrasie by Heindrich Wyngaard se artikel vir Rapport.

’n Ander tyd: In die artikel verwys Wyngaard na bruin skrywers wat in die verlede teen die apartheidsregering met hul skryfwerk stem dik gemaak het. Hy haal die dominee-digter Patrick Petersen aan wat destyds ’n beroep op sogenaamde “swart Afrikaanse skrywers” gedoen het “om dit wat vieslik, vuil en lelik is en wat so teen ons bekýk, belééf en besin word, letterlik af te skryf”.

Die ryk leier en die arm agterryers: Mckenzie het ’n ruk gelede in sy kritiek op Liam Jacobs, wat van die DA na die PA en toe weer terug DA toe geloop het, gesê die PA is vir die “laagste, armste mense” en die DA vir die “middelklas” en “ryk mense”. Wyngaard skryf dat hy nogtans heeltyd praat oor hoe ryk hy en sy familie is:

  • “En intussen word spesifiek Mckenzie se volgelinge verlei (of mislei) deur die aanlokheid van sy verhale oor die weg na ‘melk en heuning’ wat hy sou gevolg het toe hy as bankrower uit die tronk gekom het en homself sou ‘opwerk’ tot ’n skatryk sakeman met belange in die mynwese en vele ander bedrywe.”
  • Hy skryf ook: “Die waarheid oor die miljoene rande wat in sy skoot geval het met die omstrede Goldfields-myntransaksie, word in die proses versluier – en jy word gewaarsku om nie die leier se gesag te bevraagteken of uit te daag nie.”

Nou se dae: “Soos wat [Patrick Petersen se] generasie skrywers in ’n vroeër tydperk teen die (wit politieke) ‘barbare by die hek’ gedoen het, moet die huidige generasie bruin skrywers ook hul stemme laat opklink om vandag se bruin (politieke) ‘barbare by die hek’ – in Petersen se woorde – ‘letterlik af te skryf’.”

  • Dit is die slotsom waartoe Wyngaard kom, maar hy waarsku ook die bruin skrywers of kommentators wat kritiek op Mckenzie en sy mense lewer:
  • “Solank as wat hulle bedag en voorbereid is daarop dat die teenreaksie van die ‘grondhonne’ nogal ‘vieslik, vuil en lelik’ kan raak, soos ’n mens gereeld op Facebook ervaar. Sout, manne, sout!
Leave a Reply