Oom Bennie van ‘in Boland speel ons nie politiek nie’ wil nou burgemeester word. Raai vir watter party
Nadat Mondstuk Media geskryf het oor die gemeenskapsaktivis Billy Claassen wat homself by die PA aangesluit het, het nóg ’n hoëprofiel-aansluiting nou bekend geword.
Waarom is dit belangrik? Omdat dit glo Bennie van Rooi, Boland Rugby-president, is. Mnr. Van Rooi, voorheen ’n ANC-kader, het in die verlede gesê: “In Boland speel ons nie politiek nie.”
NUUSMAKERS | 6.07.2026: “Dag se geen kommentaar,” was die reaksie van Bennie van Rooi, president van die Boland Rugby-unie, toe Mondstuk Media hom gister nader vir sy reaksie op dit wat ons publikasie Vrydag vertel is:
- Dit is naamlik dat mnr. Van Rooi hom glo by die Patriotic Alliance van Gayton Mackenzie aangesluit het.
- Maar dit was nie al nie: Mnr. Van Rooi, ’n inwoner van Ashton, word blykbaar ook geoormerk om as die PA se burgemeesterskandidaat vir Langeberg in die komende plaaslike verkiesings te staan.
- Die verkiesing vind op Woensdag, 4 November, plaas.
Koebaai, kamerade: Die nuutste verwikkeling dui aan dat mnr. Van Rooi nou sy rug keer op sy kamerade in die ANC nadat hy in vorige verkiesings ook die ambisie gehad het om as ’n ANC-kandidaat sukses te behaal. Dié stuk persoonlike geskiedenis is verlede jaar deur die burgerregte-organisasie Kaapse Forum opgehaal toe mnr. Van Rooi die organisasie gekritiseer het oor navrae wat verband hou met die beweerde omkopery van skeidsregters en sy eie noue verhouding met voorsitters van klubs wat geïmpliseer word.
- “In Boland speel ons nie politiek nie,” het mnr. Van Rooi toe famously gesê.
- Maar behalwe sy eie politieke betrokkenheid, is sy adjunk, Pat Marran, ook ’n bekende ANC-kader. Mnr. Marran kan dalk self sy kameraadskap verruil om ’n “grondhond” van die PA te word, is ook aan Mondstuk Media gesê.
‘Billy is binne’: Soos die gesegde in die PA lui wanneer nuwe lede aansluit, spesifiek as dit prominente figure is, is die aktivis Billy Claassen nou ook “binne”. Mnr. Claassen het onlangs sy vriende op Facebook ingelig dat sy kop terug politiek toe staan. Einde verlede week is die aankondiging toe deur mnr. Mackenzie gemaak dat mnr. Claassen nou ’n “patriot” is (of ’n “grondhond”, soos binne die party na lede op gemeenskapsvlak verwys word).
- Soos Mondstuk Media op ons Facebook-blad geskryf het, het mnr. Mackenzie gesê hy was nog altyd mnr. Claassen se grootste aanhanger spesifiek vir die werk wat hy gedoen het as kampvegter vir die regte van plaaswerkers.
- In die onlangse verlede het mnr. Claassen sterk ondersteuning in die openbaar uitgespreek vir die beweerde slagoffer in die verkragtingsaak van twee rugbyspelers van Wellington.
Nadat Mondstuk Media ontvangs erken het van mnr. Van Rooi se antwoord op ons navraag (met die boodskap “Ons aanvaar dit so. Dankie”) het hy teruggeskryf: “Julle opinie.”

[…] LEES | Oom Bennie van ‘in Boland speel ons nie politiek nie’ wil nou burgemeester word. […]