‘Oom Bennie is binne’: Boland-president lê bo-aan PA se lys vir Langeberg
Mondstuk Media se storie in Julie, was toe akkuraat: Bennie van Rooi, Boland se rugbybaas, is inderdaad die Patriotic Alliance se burgemeesterskandidaat in Langeberg.
Waarom maak dit saak? Dié nuus raak bekend, terwyl SA Rugby se ondersoek na beweerde refs-omkopery in die Boland nou glo in die hande van senior advokate is.
POLITIEK | 1.09.2026: Die sluiting Vrydag van die Verkiesingskommissie (OVK) se proses vir die benoeming van kandidate, het bevestig wat Mondstuk Media eksklusief op Maadag, 6 Julie, geskryf het: Oom Bennie baiza nie.
- Die president van Boland-rugby het egter op daardie stadium omtrent teen die karre geskop. Gesprekke met politieke partye beteken nie dat enige besluite geneem is of ooreenkomste aangegaan is nie, het hy gesê.
- Die PA se “prez”, Gayton Mckenzie, het ook hard probeer uitvind wie die inligting met Mondstuk Media gedeel het, maar ons publikasie kap zip oor ons bronne.
LEES | Oom Bennie van ‘in Boland speel ons nie politiek nie’ wil nou burgemeester word.
Gelys: Noudat die plaaslike verkiesing van Woensdag, 4 November, twee maande weg is, is Van Rooi se naam bevestig as die nommer een-kandidaat op die PA se Langeberg-lys – gedruk en getik tot binne-in die OVK se hoofkantoor.
- Wat volgende gebeur, is die hersieningsproses van kandidate en die publisering van die finale kandidatelyste op 16 September; teen 25 September behoort kandidate hul OVK-sertifikate te ontvang.
- Min. Mckenzie het gisteraand op ’n Facebook Live gesê die party het omtrent 3 000 wykskandidate en sowat 2 000 proporsionele lys- of PR-kandidate geregistreer. Sommige PA-kandidatelyste is egter “gesaboteer”, het hy aan sy volgelinge gesê, deur “leiers met vuil harte wat mense geskrap het”.
In ’n ander liga: Hierdie tyd van die jaar loop ook saam met die finale liga-wedstryde van die seisoen in Boland Rugby se kompetisies – Groot Uitdaag, Streek en Gemeenskapskild – waarna die uitspeelrondes, soos die gesogte Top 12, sal plaasvind. Hoe Van Rooi beplan om aandag hieraan te gee, terwyl hy ook verkiesingsveldtog voer, is onduidelik. Sprake bestaan dat hy solank tydelik sy presidentskap aan sy adjunk, Pat Marran, kan oorhandig. Marran het laas aan Mondstuk Media gesê hy bly getrou aan die ANC.

Die donker wolk in die lug bó Wellington: In Fonteinstraat in Wellington, waar Boland-rugby se hoofkantoor geleë is, is die atmosfeer tans gevul met afwagting en onsekerheid weens SA Rugby se ondersoek na bewerings van omkopery van skeidsregters en wedstrydknoeiery.
- Terwyl daar die afgelope ruk op sosiale media oor die inhoud van SARU se verslag gespekuleer word, beskik Mondstuk Media oor inligting wat meer as net benoude springe in Boland-rugby teweeg kan bring. Na ’n bepaalde rolspeler word byvoorbeeld – deur iemand wat die verslag gelees het – as ’n goner verwys, oftewel iemand wie se dae getel is.
- Wie dus ook al toekomsplanne het, sal dit dalk noodgedwone moet aanpas indien die bevindings in die verslag tot strafregtelike vervolging van beweerde skuldige partye lei, is aan Mondstuk Media gesê.
- Ons volg die inligting hierdie week verder op.
Agter die skerms: Onlangse gissings dat die uitvoerende komiteelid Philip Humphreys, wat eers die skeidsregter-portefeulje gehanteer het en nou finansies, bedank het, is deur Boland weerlê. Die unie het by navraag gesê Humphreys, ’n lojale ANC-lid, asook die prokureur Rudi Cupido, wat Boland se eie ondersoek na die skeidsregter-skandaal gelei het, “is steeds in diens van die organisasie”.
