‘Hulle kom vir ons!’ Die poppe gaan dans oor ondersoek na Theewaterskloof se ‘Generatorgate’-skandaal
Die Theewaterskloof-munisipaliteit het ’n diensverskaffer, genaamd ZWH, glo R128 miljoen vir die huur van 14 kragopwekkers betaal … en is blykbaar nog met R40 miljoen in die skuld by die maatskappy.
Hoe gebeur dit? Die Spesiale Ondersoekeenheid (SIU) moet nou die antwoord op die vraag probeer vasstel by amptenary en politici wat daarvoor verantwoordelik was.
NUUSMAKERS | 1.09.2026: Die Theewaterskloof-munisipaliteit het om verkeerde redes onder die aandag van pres. Cyril Ramaphosa gekom: hy het nou ’n ondersoek deur die SIU gelas na die beweerde onregmatige betaling vir gehuurde kragopwekkers en verwante dienste in die 2022/23-boekjaar.
LEES | Die volledige opdrag deur die President lui onder meer dat die SIU se mandaat is om na moontlike “serious maladministration, corruption, irregular expenditure, and unlawful or improper loss of public funds” moet kyk.
- Behalwe dat die SIU moet sorg dat die geld teruggekry word indien oortredings plaasgevind het, is sake hieroor ook reeds by die Valke en SA Polisiediens gemaak. Dit kan verder tot strafregtelike vervolging en moontlike tronkstraf vir skuldige partye lei.
Wie en wat? In die dokumente en klagstate oor die saak, word die diensverskaffer geïdentifiseer as ZWH Projects & Development, wat behoort aan mnr. Wilfred Herman en sy vrou, Zuleka, van Botrivier.
- Die maatskappy se naam is aanvanklik in ’n verslag van die Ouditeur-generaal genoem, waarin aangedui is dat ZWH glo aangestel is sonder ’n behoorlike kontrak en diensleweringsooreenkoms.
- Fakture is, na verneem word, ingedien vir die inhuur van die kragopwekkers, diesel en sekuriteit, sonder dat die pryse in die mark getoets is.
- Pryse vir kragopwekkers wissel van minder as R3 000 tot min of meer R115 000.
- In die OG se verslag word ook vermeld dat kragopwekkers glo vir TWK aangekoop is en dan weer aan die munisipaliteit uitverhuur is.
Rooi ligte: Die agtergrond tot die skandaal is die gedurige beurtkrag wat in 2022/23 ondervind is in die TWK-dorpe Grabouw, Greyton, Caledon, Villiersdorp, Botrivier, Genadendal, Tesselaarsdal en Riviersonderend. Dit het het gelei tot probleme by boorgate en pompstasies – en die bystand-kragopwekkers moes daarvoor bekom word.
- Die beweerde onbehoorlike besteding het plaasgevind toe ’n koalisie van die ANC, GOOD en PA in TWK in beheer was.
- Die DA verklaar nou dat hulle raadslede uit die staanspoor alarm gemaak het oor die moeilikheid en dat dit die Wes-Kaapse DA-regering is wat gesorg het dat dit tot by hierdie punt kom.
- Leon van Wyk, TWK-kiesafdelingshoof van die party, sê in ’n mediaverklaring: “Die saak is by minister Anton Bredell [Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning] aangemeld en ná ’n ondersoek deur die Wes-Kaapse regering se Forensiese Dienste, is dit na die SIU verwys.”
- Die DA sê ’n aspek van die saak is ook onder die soeklig geplaas deur TWK se Munisipale Openbare Rekeningekomitee (MPAC) en na die raad verwys, “wat gelei het tot die saak wat by die Polisie aanhangig gemaak is”.
‘Hulle kom vir ons’: Die rekenpligtige beampte ten tyde van die beweerde onregmatige besteding, was mnr. Wilfred Solomons-Johannes, tans direkteur van gemeenskapsdienste.
- Mondstuk Media het onlangs by ’n bron verneem dat mnr. Solomons-Johannes glo in gesprek met mnr. Herman by ’n plaaslike petrolstasie opgemerk het: “Hulle kom vir ons.”
