Eyebrow pre-Header bv. Wie inspireer ons?

Saru-helde word deur SA Rugby vir ’n pop gevat, sê dié oudspeler. Dis hoekom hy die All Blacks ondersteun

Pieter Lourens spoel sy mond uit oor SA Rugby en duur “Greatest Rivalry”-kaartjies. Nou word hy gekap omdat ’n All Black is (soos sy foto saam met Sean Fitzpatrick wys).

Sy verweer? “As my geskiedenis in rugby nie erken word nie, maar Frik du Preez en Jan Ellis s’n, hoekom moet ek die Bokke ondersteun?”

SPORT | 1.09.2026: SA Rugby word deur ’n oudspeler aan die SACOS-geaffilieerde Saru-kant daarvan beskuldig dat hulle leë beloftes aan rugbylegendes uit dié era gemaak het. Dié oudspeler en ook bekende sportadministrateur, Pieter Lourens, haal ’n brief uit wat die destydse uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, in 2001 aan die “Yesterday’s Heroes” gerig het.

  • Oberholzer dien tans weer in die pos nadat Jurie Roux se paaie met SA Rugby geskei het omdat hy iewers op pad soontoe homself glo skuldig gemaak het aan die onbehoorlike besteding van miljoene rande in sy vorige werk by die Universiteit Stellenbosch.
  • Lourens, wat tussen 2011 en 2019 baan- en veldvoorsitter by ASA was, het in ’n Facebook-plasing oor die naweek sy misnoeë uitgespreek oor die duur kaartjies vir die All Blacks se “Greatest Rivalry”-toer na Suid-Afrika.
  • Dit is in dié plasing dat hy skryf SA Rugby sou die helde van weleer uit die Saru van ouds met onder meer gratis kaartjies na toetse beloon het. Oberholzer se brief, wat Mondstuk Media onder oë gehad het, belowe ook uitnodigings na gholfdae voor toetse en dat tydskrifte en ander inligting aan die helde beskikbaar gestel sou word.

Waarom het jy gespeel? Nou word daar uit SA Rugby se geledere gevra of die oudspelers aan die sport deelgeneem het om agterna daarvoor vergoed te word en of dit uit liefde vir die spel was? Ook word gevra wat doen die spelers self om rugby op plaaslike vlak in hul gemeenskappe te bevorder?

  • Die historikus dr. Hendrik Snyders, wat al verskeie boeke oor rugby en ander sportsoorte geskryf het, vra: “En waarom word daar gedurig net na rugby gekyk wanneer oor verering gepraat word? Wat het Atletiek Suid-Afrika byvoorbeeld al gedoen vir hulle eie ‘yesterday’s heroes’, huh?”
  • Dr. Snyders was in die verlede die hoof van The Springbok Experience-rugbymuseum by die V&A Waterfront in Kaapstad. Die museum het die volledige geskiedenis van rugby in Suid-Afrika uitgebeeld, maar is gesluit omdat dit nie kommersieël suksesvol was nie.
Pieter Lourens (derde van links agter) in die Saru-span wat in 1982 aan die SACOS-spele deelgeneem het.

Die groter prentjie: Mnr. Mark Alexander, president van SA Rugby, sê aan Mondstuk Media hy het homself al in die openbaar uitgelaat oor die “ridiculous” kaartjiepryse. “Maar ons moet verby die kaartjiepryse kyk na die groter prentjie – en dit is dat die toer R6,8 miljard vir ons land se ekonomie inbring.”

  • Lourens vind dié argument problematies omdat “die gewone burger wat daardie ekonomie vorm, juis deur die pryse uitgesluit word”.
  • “Wanneer die goedkoopste kaartjie reeds rondom R850 begin en ander kategorieë tot duisende rande kos,” sê hy, “word die gewone man en vrou in die straat in werklikheid uitgesluit.”

Wie’s jy om te kla? Die vinger van skynheiligheid word ook nou na Lourens verwys oor hy nie ’n geheim daarvan maak dat hy ’n Nieu-Seelandse ondersteuner is nie. Hieroor sê hy aan Mondstuk Media: “Dis eenvoudig: as my geskiedenis in rugby en my eie geskiedenis nie deur die Springbokke erken word nie, maar [Springbokke uit die wit-era, soos] Frik du Preez en Jan Ellis word erken, hoekom moet ek die Bokke ondersteun?”

LEES | Pieter Lourens se meningsartikel in hierdie uitgawe: ’n Sport wat sy geskiedenis vergeet, verloor ’n deel van sy identiteit.

Leave a Reply