‘Ekonomiese transformasie vir generasies’ is wat Oompie se nuwe party belowe. Waar is ons geld? vra sy beleggers
David Cupido, wat alom as “Oompie” bekend is, is gemotiveer om ’n politieke party te begin omdat hy besef het mense is nog nie ekonomies bevry nie, sê sy woordvoerder.
Waarom maak dit saak? Mnr. Cupido word steeds ondersoek oor ’n beleggingskema waarin mense belê het. Talle wag nog op die beloofde opbrengste.
POLITIEK | 6.07.2026: Die onlangse plasing op Mondstuk Media se Facebook-blad van ’n video waarin David Cupido (alias “Oompie”) vertel hoe maklik dit vir hom is om geld op die markte te maak, het hewige reaksie ontlok. Dit was kort nadat Son berig het dié omstrede karakter van Touwsrivier gaan nou sy eie politieke party begin.
- Die 4th Generation Movement, afgelei van die naam van sy skema waarin mense glo derduisende rande belê het, is intussen gestig en blykbaar ook nou by die Verkiesingskommissie (IEC) geregistreer.
- Gistermiddag het die beweging ’n bekendstellingsvergadering in die Lutherse kerk in Worcester gehou. Dit is nie duidelik hoe goed die vergadering bygewoon is nie.
- “Waar is die mense se geld?” wou talle van die kommentare op Facebook weet ná Mondstuk Media se plasing. Sommige “beleggers” is glo ook al dood, terwyl hulle op hul geld gewag het. Hieroor kon Mondstuk Media nie ’n antwoord kry toe ons mnr. Cupido met ’n paar vrae genader het nie.
“Wie’s jou Oompie?” “Oompie” het ons na die beweging se sekretaris-generaal, Philip Stryers, verwys. Mnr. Snyers het dit onmiddellik duidelik gemaak dat hy nie tevrede is daarmee dat ons sy leier se noemnaam gebruik nie: “My leier is mnr. David Cupido en sal dit waardeer as u dit so sal respekteer,” het hy gesê.
Drie uit ses: Die ses vrae wat Mondstuk Media gestuur het, was 1. Wat onderskei u party/beweging van ander partye? 2. Is u party betyds vir die 4 November-verkiesing geregistreer? 3. Indien so, waar oral beplan u om kandidate te plaas? 4. Wie is u burgemeesterskandidate? 5. Wat is die president se boodskap aan mense wat groot verliese gely het met sy beleggingskema? 6. Hoe beplan hy om hulle vertroue terug te wen?
- Snyers se reaksie was dat ons “spoedig” antwoorde op vrae een tot drie sou kry. (Dit verskyn hier onder.) Vraag vier “sal mettertyd aan die publiek deurgegee word”, het hy bygevoeg.
- Oor vrae vyf en ses het hy egter geantwoord: “[Dit] is onvanpas op hierdie oomblik.”
Vraag 1: Wat onderskei u party/beweging van ander partye? “Waar ons gedink het die stryd is verby, sien en ervaar ons die stryd was gedeeltelik, want ons (alle mense in SA) is nog nie ekonomies bevry nie,” antwoord mnr. Snyers. “[Dus] is 4th Generation Movement se slagspreuk: ‘Ekonomiese Transformasie vir Generasies’.”
- Snyers sê ook: “Ons onmiddellike uitdaging is om werkloosheid aan te spreek en dan te verseker dat ALMAL blootstelling het aan die basiese dienste. Ons is reeds in gesprek met voornemende en potensiële beleggers wie in ons mense, munsipaliteit, distrik, provinsie en land wil belê.”
Vraag 2: Is u party betyds vir die 4 November verkiesing geregistreer? Mnr. Snyers se antwoord: “Ons het ons aansoek binne die tydsbestek ingedien by die OVK. Ons het al kommunikasie vanaf die OVK ontvang wat aandui ons sal geregistreerd wees teen 4 November 2026.”
Vraag 3: Indien so, waar oral beplan u om kandidate te plaas? “Huidiglik het ons aansoek gedoen om in die Distrik deel te neem,” sê hy, “wat meemaak dat ons NET in die Distrik (dorpe en wyke binne dié Distrik) kandidate kan plaas.”
- Die foto hiernaas is ’n skermgreep uit die genoemde video. Mnr. Snyers het belowe dat hy by mnr. Cupido sal hoor oor Mondstuk Media se versoek vir ’n mooi foto van hom.
