‘Gaan julle maar aan!’ Caledon-rugbyklub se voorsitter slaan terug teen aanvalle op sosiale media
Die gemeenskap van Caledon kry vanaand geleentheid om bors skoon te maak by ’n publieke vergadering wat deur die dorp se rugbybestuur belê is.
Waarom maak dit saak? Die klub boer steeds agteruit ná nóg ’n nederlaag die naweek in Boland se Groot Uitdaag-kompetisie. Maar die beleërde voorsitter, past. Rodney Nissen, hou die blink kant bo.
NUUSMAKERS | 6.07.2026: Die kennisgewing vir vanaand se vergadering om 18:00 was skaars op Caledon-rugbyklub se Facebook-blad geplaas, toe kom die vrae, soos waarom dit ver weg van die gemeenskap gehou word – by die plaaslike gholfklubhuis?
- Die sogenaamde “terugvoer”-vergadering word as ’n PR-poging deur die klub se voorsitter, past. Rodney Nissen, beskou. Hoewel hy heeltyd voorhou dat die klub met ’n heropbouproses besig is, word hy deur ondersteuners daarvan beskuldig dat sy bestuurstyl die oorsaak van die agteruitgang is.
- Punte op die agenda sluit in ’n vorderingsverslag oor die bestuur se werksaamhede; en huidige projekte.
- Die teenwoordiges sal ook geleentheid kry om vrae te stel.
Vraetyd: Een van die vrae wat reeds gevra word, is waarom ’n sogenaamde “youth development centre” deel uitmaak van die herstel van die klub se gevandaliseerde klubhuis. ’n Eerste herstelde deel van die klubhuis is reeds in gebruik geneem. Maar nou staar die klub munisipale moeilikheid in die gesig omdat daar glo nie volgens die korrekte bouregulasies van die plaaslike Theewaterskloof-raad te werke gegaan is nie.
Skande op skande: Die afdanking verlede naweek van die klub se direkteur van rugby, Alex Kleinsmith, het ook steeds die tonge los – veral nadat hy sy kant van die saak gestel het. Dié hooggekwalifiseerde afrigter en tegniese ontleder wys in ’n mediaverklaring ook vinger na past. Nissen se bestuurstyl en die wyse waarop hy glo soos ’n outoritêre leier besluite op sy eie neem – selfs oor afrigtingsake en spankeuses. En intussen blyk die bult steeds te steil te wees vir die klub in die Overbergstreek van Boland se Groot Uitdaag-kompetisie: laasnaweek is Caledon deur Genadendal geklop; die afgelope Saterdag deur Kleinmond. Maar die klub se spelers bly toegewyd – en die ondersteuners bly lojaal.
Geldsake: ’n Netelige kwessie waaroor veral gegis word, is die feit dat die klub blykbaar in die omgewing van R10 000 in die skuld is by die voorsitter se maatskappy, Nissen Holdings – hoewel hy altyd wal gooi dat dit sy seuns is wat die maatskappy besit en bestuur.
- ’n Wedstryddag-plan vir Caledon se tuiswedstryd teen Sea Hawks einde Mei, wat verkeerdelik na Sea Hawks gestuur is, het aan die lig gebring dat Caledon byvoorbeeld betaal vir die oprigting van ’n gasvryheidstent wat aan die Nissens behoort. Nóg ’n diens, wat glo teen betaling deur die familiemaatskappy aan die klub gelewer word, is foto- en videografie op tuiswedstryddae.
- Die genoemde plan sluit ook betaling in vir ’n sogenaamde kombuisbestuurder, ’n nuwe pos wat glo geskep is vir die vrou van ’n gekoöpteerde bestuurslid.
- Mondstuk Media het verlede week geskryf dat onder andere die verkose ondervoorsitter, sekretaris en kassier van die klub, elkeen vir sy of haar eie rede, al bedank het. Die president se naam moes ook bygevoeg gewees het, verneem ons nou.
“Winde van verandering”: In ’n (Engelse) boodskap wat past. Nissen oor die naweek op die klub se Facebook-blad geplaas het, skryf hy dat die winde van verandering deur die klub waai. “Despite the numerous attacks and criticism on social media, our Executive remains focused on our strategic goals for 2026,” lui die boodskap. “We will not be distracted from the work that needs to be done.”
