Hoe ’n 1%-aanpassing jou kan help om slegte gewoontes in goeies om te skep. Ons is tog beter as wat ons dink
Bruin gemeenskappe, lyk dit soms vir hom, vaar die beste met alles wat afbrekend en nie opbouend is nie, skryf HEINDRICH WYNGAARD. Maar dit hoef nie so te wees nie, glo hy.
Hoekom maak dit saak? Wyngaard, wat Mondstuk Media se stigter en inhoudshoof is, het gepraat by die gala-aand van die Athlone-sentrum vir hoop en heling in die Paarl.
STANDPUNTE | 6.07.2026: Ons vaar die beste met die uitvalkoers op skool. Ons is saam met swart meisies voor in die ry met tienerswangerskappe. Ons is bo aan die lys met bendebedrywighede. Ons is Maandagoggende die meeste in die hof vir die besit van en handel in dwelms oor naweke. En:
- Ons jongmans tussen 17 en 35 maak in die omtes van 70% of meer uit van die tronkbevolking in die Wes-Kaap, terwyl hulle op daardie stadium veronderstel is om ekonomies aktief te wees en te sorg vir hulle kinders en gesinne en vir die ouma wie se pensiongeld nou vir sy kinders ook moet sorg.
En as dit kom by dit wat vir jou ’n uitkoms uit armoede kan bied, lê ons laag: Ons syfers is die laagste vir matrieks wat ná skool tersiêre onderrig opneem: slegs 5% in totaal van alle bruin kinders, wat darem skool klaar maak, gaan leer verder, het die laaste statistieke hieroor gewys – en wat die Afrikaanssprekende bruin kinders betref, het dieselfde opname getoon, is dit nóg minder: net 1,4%; en ek sien dit op my tuisdorp.
Hoe het ons so gekom? as ek my vriend oom Syd se woorde bietjie mag aanpas. Want dit was nie altyd so nie.
Ons gemeenskappe het tog ’n trotse geskiedenis van uitskieters, baanbrekers, verskilmakers en pioniers – selfs al was daar altyd ook (en ons aanvaar dat dit altyd so sal wees) diegene wat dit nie maak nie, wat aan die onderpunt van die skaal moet oorleef. Maar daar is in ons geskiedenis baie wat gewys het ons kan uitstyg wanneer ons die geleentheid kry – of self skep – en wanneer ons die uitdaging aangryp; wanneer ons geroepe daartoe voel.
Natuurlik is dit moeilik om innoverend te dink wanneer ’n gemeenskap vasgevang is in die ellende van sosiaal-maatskaplike duiwels. Jy dink tog beter op die gholfbaan en wanneer jy park runs doen of sundowners drink en sushi eet in ’n fênsie restaurant. Niks om oor te worry nie – en beslis nie slippies by die ATM wat wys “onvoldoende fondse” nie.
Maar as jy soggens by die venster uitkyk oor ’n stuk vaal veld van uitsigloosheid en in die straat sien jy net mense met sukkel-stappies en die kinders loop en rook dagga op pad skool toe om die honger te stil en die skollies vat jou tekkies af wat jou enigste paar skoene is en die meisie sê maar ja vir seks sonder kondome omdat sy die geld nodig het en die seun voel so goed ná sy eerste tjoef dat hy instem om self die tik te verkoop, want dan hoef hyself nooit weer te koop nie want hy het nou vrye toegang daartoe.
En dan sien ons hoe loop daai hoë mense se pragtige meisiekind al weer swanger in die straat, hang daar by die kêffie rond, baklei met haar ouers vir geld vir tik en slaan die vensters stukkend en breek die huis van binne af as daar nog iets oor is wat afgebreek kan word as dit nie reeds alles gesteel is om te gaan verkoop vir ’n appel en ’n ei aan dieselfde drug dealers wat die drugs verskaf nie; en dan is daar die seun wat so stil was en mooi geleer het, wat nou op die sypaadjie staan en argumenteer met ’n stuk klip in die pad en hy draai om om vir daai selfde stuk klip te waarsku: “Jy gaan sien wat gebeur as ek nou weer hier verby kom!”.
En die kinders en die grootmense wat dit sien gebeur lag dat die trane loop oor daai mal klong of klimeid as hulle dit sien en op daardie oomblik besef hulle nie dat tik die mens se brein vernietig nie … generasies van ons kinders is reeds daarmee heen … en dat elke tikkop, soos ons hulle so gemaklik noem om hulle vir ewig te verdoem, kon (en kan dalk steeds) ’n potensiële baanbreker en uitskieter en pionier wees as iemand onder ons net ’n bietjie meer sou omgee.
Omgee is hoedat juffrou Sylvia Matthee vir Grant Williams en Kurt-Lee Arendse geleer rugby speel het by Laerskool Paulus Joubert; nou kan Rassie Erasmus die job klaarmaak. Omgee is hoe tannie Ans op 75 vir Wayde van Niekerk kon afrig tot Wêreldrekordhouer in die 400m by die 2016 Olimpiese Spele in Rio – nou presies tien jaar gelede – en nie hoe nie, maar vanuit die 8ste baan, wat hulle noem die buitenste baan, waarvandaan niemand nog die 400m kon wen voordat Wayde van Niekerk van die bruin buurte in Kraaifontein daai dag op die Olimpiese toneel verskyn het nie.
- Omgee is ook om mense en kinders wat hulle in die buitebaan van ons samelewing bevind, aan die hand te vat, soos baie ook vir my gedoen het toe ek – die kind van ’n algemene werker en ’n bediende – opgegroei het. Maar die genade wat my beskore was en steeds is, was nie en is steeds nie almal beskore nie.
Niemand van ons hoef of behoort egter lamgelê te word deur die uitdagings wat ons in die gesig staar nie: Of jy nou sukkel op skool, sukkel by die werk, sukkel om werk te kry, sukkel in jou verhouding of jou huwelik, sukkel met die kinders of die bure of die familie of die skoonfamilie; of sukkel om die groot deurbraak te bereik in jou lewe of jou loopbaan of jou besigheid waarop jy al so lank hoop en so lank voor bid.
DIE PROBLEEM Lê NIE NOODWENDIG BY JOU AS PERSOON NIE, wil James Clear, skrywer van die boek ATOMIC HABITS, ons laat glo. Die probleem is dikwels wat hy noem die stelsel waardeur jy verandering in jou omstandighede probeer aanbring. “Die stelsel”, meen ek, kan jou uitgebreide familie wees, jou werksplek, jou vriendekring, jou huisgesin of – en dit is seker waar ’n mens eerste moet kyk – die stelsel is meeste van die tyd JYSELF.
- Dit bring my terug na mev. Ingrid Johannes se versoek dat ek iets moet sê oor “die verwoesting wat verslawing in ’n gemeenskap sowel as in ’n gesin kan veroorsaak”. Ons is eintlik almal weldeeglik bewus van daardie verwoesting. Ons sien dit met ons eie oë en hoor dit met ons eie ore, elke dag wat die Here se son skyn of wind waai of reën val.
- In ATOMIC HABITS (met die subtitel Tiny Changes, Remarkable Results), verduidelik hulle op die voorblad die waarde wat jy uit die boek sal kry, is hoe om goeie gewoontes aan te leer en slegtes af te leer. Om aan drank of ’n dwelmmiddel verslaaf te wees, net soos om sleg te praat van ander mense of gewelddadig in die huis of in die samelewing op te tree, of nie respek vir ander mense te betoon nie of weet dat jy meer kan doen as wat jy bereid is om te doen daar waar jou bystand benodig word, is alles slegte gewoontes wat aan jou gegroei het. Dit moet nou in goeie gewoontes omgedraai word.
“This is a continuous process,” sê James Clear verder. “There is no finish line. There is no permanent solution.”
Maar dit begin met ’n 1% aanpassing: Herhaal dit elke dag, elke oomblik van elke dag, aan jouself en aan die mense rondom jou wat jy graag wil help om by ’n beter plek te kom in hul lewe. ’n Broer, ’n kollega, ’n kerksuster of -broer, ’n hardkoppige lewensmaat; ’n dwelm- of drankverslaafde. Die effek van daai 1% groei, of hoop op.
Ons is immers tog beter as sopkombuis- en Sassa-rye. Ons is meer as die niks wat ander dalk van ons dink. Ons moet dit net begin glo – een persent op ’n slag.
