Fluister in die ore van die All Blacks: Oom Stoffel van Hawston wil hulle volkslied vir hulle kom fluit
RASAAD ADAMS gaan kuier by ’n bekende inwoner van Hawston, wat graag ’n fluit-weergawe van “God Defend New Zealand” en “God Save the King” vir die All Blacks wil opvoer.
Hoe sê? Dit is sy grootste droom, vertel oom Stoffel Kees, nou al 70, wat hy graag wil bewaarheid voordat hy die aarde verlaat.
NUUSMAKERS | 1.09.2026: “Dit is net iets oorspronkliks,” sê oom Stoffel, soos die mense van Hawston hom noem. “Oral word ’n volkslied gewoonlik gesing. Ek wil dit net vir hulle fluit sodat hulle kan sien daar is ’n groot liefde en ondersteuning vir die Nieu-Seelandse rugbyspan, selfs aan hierdie kant van die wêreld.”
- Die knop in sy keel, terwyl hy hieroor praat, sê baie.
- Ons neem hom af waar hy glimlaggend die haka met sy een hand uitvoer en ’n geraamde foto van sy All Blacks-helde met die ander hand vertoon.
En daarom verbaas dit nie dat hy met Mondstuk Media se aankoms by sy woning in Dukeweg, ons reguit neem na ’n vertoonkas in sy sitkamer, vol foto’s van generasies All Blacks-ondersteuners. Bo-op die kas tel hy ’n verjaarsdagkaart met ’n All Blacks-tema op. Binne-in die kaart is boodskappe van sy familie, wat in Julie vir hom ’n partytjie ter viering van sy 70ste verjaardag gehou het. Die oom was besonder opgewonde oor die All Blacks-tema van die vieringe.
- “Man, dit was nog altyd ’n familieding,” vertel hy. “Ons ondersteun al baie jare lank die All Blacks. Daar is baie huise in Hawston waar jy ook die Nieu-Seelandse vlag sal sien wapper.”
Onder Hawstonners is oom Stoffel ook bekend as kitaarspeler en dan sing hy ook so ’n bietjie, maar dit is uiteindelik sy onwrikbare ondersteuning vir die All Blacks waarvoor hy die bekendste is. “Ons ken die geskiedenis van rugby in Suid-Afrika,” sê hy asof hy voel hy moet dié All Black-saak verduidelik. “Ek gaan eerlik wees en sê dit het ook daarmee te doen gehad dat Suid-Afrikaanse rugby, toe ek ’n tiener was, nie regtig geleenthede vir mense van kleur gebied het nie.”
Oom Stoffel is een van die stigterslede van die Hawston Gospel Bells-mannekoor. Die koor oefen weekliks en tree gereeld by gemeenskapsgeleenthede, verjaarsdae en troues op.
- “Ek het nog altyd ’n musikale kant gehad, en dan is daar hierdie fluitstorie van my wat mense so fassinerend vind,” sê hy. “Net soos rugby mense bymekaar bring, glo ek musiek doen dieselfde. En om ’n volkslied te fluit, is net iets uniek.”

In sy jongmansdae was oom Stoffel ’n kranige loskopstut, een van die eerste spelers wat vir Hawston uitgedraf het, maar ook ’n langafstandatleet wat die Comrades-marathon sewe keer voltooi het. Hoewel die dorp een van die land se opwindendste oud-Springbokke, Gio Aplon, opgelewer het en ’n ander speler, Frank Benjamin, lánk voor hom ook nasionaal naam gemaak het, bly oom Stoffel ’n stoere All Black. Nou koester hy nog net daai een groot droom: om eendag die Nieu-Seelandse volkslied vir dié span te fluit.
- Baie mense het al belowe dat hulle iets sou doen om sy droom te help bewaarheid, maar hy wag steeds. “Diep in my hart glo ek dat die geleentheid eendag sal kom waar ek die All Blacks-ondersteuners van Suid-Afrika op daardie platform sal verteenwoordig en die volkslied vir ons span sal fluit,” sluit hy af.
- Die trane sit vlak in die oom se oë.
