Wat het ons geleer? Jakes Gerwel, oudrektor van UWK, het in sy studente-dae gedigte ook geskryf
Wie? Navorsing deur die gerekende letterkundige prof. Steward van Wyk (links) het nuwe inligting oor ’n voorganger in dié veld, prof. Jakes Gerwel, aan die lig gebring.
Waar? Prof. Van Wyk het die naweek by die Etienne van Heerden-veldsoirée ’n praatjie gelewer oor prof. Gerwel se kreatiewe skryfwerk, wat hoofsaaklik ongepubliseerde gedigte is. Regs op die foto staan Van Heerden.
KULTUUR | 20 – 27.07.2026: Omdat prof. Jakes Gerwel vanjaar 80 sou word, ’n man wat bekend is as onder andere oudrektor van UWK en kantoorhoof van oudpres. Nelson Mandela, het prof. Steward van Wyk dit goed gedink “om sy skryfwerk aan verdere ondersoek te onderwerp”.
- “Die fokus is veral op sy vormingsjare as letterkundige en intellektueel,” het prof. Van Wyk sy gehoor in die Victoria Manor-hotel in Nxuba (voorheen Cradock) meegedeel.
- Prof. Gerwel het deur lesings, referate en deur boekresensies sy rol as letterkundige uitgeleef, terwyl hy in talle toesprake en ook in koerantrubrieke vir Rapport sy stem as intellektueel laat hoor het.
- Oor sy eie kreatiewe skryfwerk was weinig bekend tot met prof. Van Wyk se praatjie die afgelope Vrydag. “Min mense is bewus van hierdie gedigte en dis te betwyfel of dit ooit bestem was vir publikasie,” het hy gesê.
Mondstuk Media publiseer vandag een van die gedigte wat, soos die meeste ander wat prof. Van Wyk ontdek het, in prof. Gerwel se vroeër jare (circa 1970) geskryf is:
O my mooi bruin taal
Soos die grond
en aards soos my mense
hoe verbleek sweef jy nou
in die leë winde
wat oor ons land hang
soos ’n plaag
van woorde
- Prof. Van Wyk se volledige praatjie sal eersdaags op die webwerf LitNet te lees wees.
