Oom Alspraat word genooi na ’n spoggerige Afrikaans100-doe en dis toe vir hom iets om oor huis toe te skryf
Hierdie oom Alspraat van julle hoor by die mense wat gereeld dorp toe gaan – dan ry hulle mos haastig hier voor die huis verby – daar is omtrent uitgevra oor wie nou eintlik dié oom is, wat laaste week in die eerste uitgawe van Mondstuk Media aan julle voorgestel is. Mmmmm …
Ag wat, sê ek, ek dink nie dis iets om te veel oor te kommer nie. Bid eerder dat ons ’n lang pad saam gaan stap, want die nuus wat oom Alspraat in die week van ’n vriend uit ’n hospitaalbed in die Kaap gehoor het, was soos daai briewe wat mens beginte lees en dan sommer weer wil toeklap. Oraait, dit was ’n WhatsApp-boodskap gewees, maar ek is mos in ’n ander tyd gemaak en gelaat staan.
Maar moet ook nie dink dat ek so ver agter die klip gebore is dat ek nog telegramme wil staat en stuur nie, al het ek op die nuus gehoor daai slim mense oorsee het nou so ’n ding gemaak wat hulle ’n Telegram-app noem. Selle ding, nuwe naam, sê ek toe, maar wat weet ons BTW’ers nou van sulke goed, ons wat deel is van die before time wasting-generasie?
Elk geval, laat ek julle uitvraers darem net dié stukkie vertel. Die eigenlike oom Alspraat is al lank al ’n spook, as ’n mens so mag sê oor die bemindes in die hemel, hier benede soms geweldig gemis, en ander kere vergete. So hier so Mei se kant hierie jaar, seker die tiende as ek my somme maak soos ek in die ou houtskooltjie geleer is, toe word ’n paar van ons oudstes genooi na ’n doe toe. En is oom Alspraat oor ’n doe! Kom vier saam julle, roep hulle in die uitnodiging. Afrikaans is nou al 100 jaar ’n amptelike taal – en is dit nou waaroor die geroep en gepoep gaan, het ek sommer vir een van die ander gesê, wie se gehoor nie meer so lekker saamwerk nie.
Ek is toe ook hier af, gestroll met die pad langs, verby die laaibrie en die misterpaliteit kantore in die hoofpad en hou links, Alspraat, koggel ek nog myself, versigtig áf oor die bruggie by Emil Weder se afdraai, Vanguard-saal verby tot binne in die Morawiese Kerk. Gelukkig was daar water en koffie en tee vir lafenis vir oumanne soos ek, wat al amper so oud soos ’n Afrikaanse gesegde is, maar mos glo ons is so jonk soos ’n nuutskepping. Tot die kniegte begin knaag.
Ons sit toe daar en eers is die biskop Jerome Slamat aan die beurt en uit eerbied vir sy amp het ek my oë streng op hom gehou, al was hier neffens my iemand se hond wat hom jou waarlik kom tuis maak het aan die voete van die manne van die brass band, asof hy ook genooi is, maar net om te kom lê en slaap. Om te dink, het ek nogal gedink. Maar die hond se teenwoordigheid het op die ou end gehelp dat ek wakker bly dat ek ook na die geleerde prof. Charlyn Dyers kon luister. Ons sê nog altyd vir haar Charlyn Wessels, op haar nooiensvan, want dit is hoe ons seker maak dat sy altyd een van onse hiervandaan-kinders sal bly.

Nou moet ek eerlik wees dat my konsentrasie nie altyd meer so lekker kan byhou by die hogere funksies van Afrikaans, soos gedenklesings nie, maar ek was darem nog by toe ek haar hoor praat oor die eerste koerant wat hier deur die Genadendal Drukkery gedruk is, désjare. Hulle het dit De Bode genoem en dis nou waar die storie van oom Alspraat – die oorspronklike – begint het. Hy het vir die koerant geskryf in ’n styl wat ons nogal baie van hou gehou het daai tyd, omdat alles anders tog sy stug en styf was, so ’n lekker ou gesels-saak met ’n vriend van hom – as die vriend ooit regtig bestaan het. Een sin wat vir my tog te kostelik was in die Prof. se aanhalings van Alspraat was toe hy oor die kinders in die skool sê: “Helle lijk om iets in helle taal te lees.”
Nou wat kan ek nou sê? Toe die mense van Mondstuk Media op die “Friends of the Genadendal Mission Museum” se Whatsapp-groepie vra of daar miskien “retired volunteers” is – want dit moet mos nou ge-Engels wees op daai groepie, lyk dit my – wat “from the comfort of your voorhuistafel or your voorstoep”, ’n geselsrubriek vir dié nuwe soortige op-die-internet-koerante wil skryf, toe is dit amper asof my oorle’ vrou in my oor fluister: “Nou ja toe, Miste’ van Giste’, hier is jou kans.” Ek het julle laas gesê ek luister nog graag na haar – en hier is ek nou: “Oom Alspraat – Die Tweede” of is ek eintlik maar net Mondstuk se “bode”?
