… en Blaine Jones, spiertier agter die mikrofoon, passievol oor mense en mik TV toe
Die joernalistiek was altyd Blaine Jones se loopbaan-plan, sedert sy grootword-dae op Malmesbury, geruimte tyd voordat hy in 2022 by RSG agter (of voor) die “Op & Wakker”-mikrofoon ingeskuif het.
Wat sê hy nou? “As ek so terugkyk, is ek bly ek het deur die druk, die lesse en die bergklim gegaan…”
Soggens tussen 7:00 en 9:00: “Ek is Blaine Jones…,” hoor jy hom op “Op&Wakker” uit die RSG-ateljee in Auckland Park, Johannesburg, homself voorstel wanneer hy sy “In die kollig”-insetsel aanbied of jou op hoogte van die verkeersnuus hou.
- Hy is in Kaapstad gebore, op Malmesbury opgegroei en toe na Bloemfontein verhuis.
- Ná sy joernalistiekstudies in Potch by die Noordwes-universiteit, het hy by OFM in Bloemfontein begin werk, waar hy ook as student ’n vryskutjoernalis was.
- “Tydens my tyd daar en deur tyd saam met OFM-aanbieders deur te bring, het ek ’n passie opgebou vir wat radio te bied gehad het,” sê hy. “Om nuus op lug te lees en na my bydraes te luister, terwyl ek huis toe ry van die werk af, het my liefde daarvoor laat toeneem.”
Maklik was dit nie: Sy beginjaar in Johannesburg onthou hy as ’n “baie moeilike jaar”, maar dit was uiteindelik ’n waardevolle leerervaring.
- “Hoewel ek graag sou wou glo ek was reg, was ek dalk nog nie gereed vir die groot platform nie, maar ek het geweet ek was gebore om ’n radio-aanbieder te word.”
- Hierdie jaar vier hy drie jaar by RSG, terwyl hy sedertdien ook by die aktualiteitspan aangesluit het as medewerker by Monitor, Spektrum en Brandpunt.
- “My volgende stap is televisie-aanbieding,” sê hy met oortuiging. “Dit is iets waaroor ek regtig passievol is.”
Waar pas ons opskrif by hierdie artikel en op die voorblad in? “Ek werk twaalf ure per dag, tussen die oggendprogram en RSG se nuusdepartement. Ná werk gaan oefen ek by Virgin Active en gedurende die week het ek kerkaktiwiteite. Nou dink baie dalk ek maak my dood, maar ek het geleer dat jy jouself en jou welstand eerste moet plaas, ongeag die hoeveelheid ure wat jy werk.” En iewers tussen-in, so gereeld as wat dit kan, maak hy darem ook tyd vir spiertier-kiekies vir sy volgelinge op sosiale media, soos op die een hiernaas gesien kan word.
