Ook pa’s (en nie net swanger ma’s nie) drink hulle ongebore kinders in ’n Fetale Alkohol Sindroom-gevaar in, wys studie
Die studie, wat Bolandse dorpe insluit, het vir die eerste keer bevind dat pa’s se drinkery ook daartoe kan bydra dat kinders met Fetale Alkoholspektrumversteuring gebore word – korter in lengte, kleiner koppe en ’n laer verbale intelligensie. (Illustrasie: Chante Priga / 7SALT.com)
Waarom moet dit jou bekommer? Jongmense – tieners ingesluit – “drink skrikwekkende hoeveelhede alkohol” en “word al meer ouers van geaffekteerde kinders”.
Die studie is gedoen in Wellington en omgewing en ook in die Langeberg-dorpe Robertson, Ashton, Bonnievale en Montagu. “Plase bly steeds ’n brandpunt, maar ons het ook ervaar dat, met soveel plaaswerkers wat deesdae in die dorpe woon, daar ’n geweldige toename in voorkoms in dorpsgebiede ook is,” sê dr. Marlene de Vries van die Universiteit Stellenbosch se Departement Psigiatrie.
- Naas die US en die Mediese Navorsingsraad, was die Amerikaanse universiteite van Noord-Carolina, Nieu-Mexiko en Stanford, die staatsuniversiteite van New York en Kalifornië en Sanford Health by die navorsing betrokke. Dit het pas in die vaktydskrif Alcohol: Clinical & Experimental Research
- Terwyl daar in die verlede meestal op die rol van swanger moeders se drinkery in die voorkoms van Fetale Alkoholspektrumversteuring (FASV) gefokus is, verander die prentjie nou met dr. De Vries-hulle se bevindings.
- Hulle studie wys “dat ʼn pa se alkoholgebruik ʼn klein, maar direkte nadelige impak op ʼn kind se ontwikkeling teen die ouderdom van sewe kan hê”. Die pa se drinkery – en veral “binge drinking” – dra by “tot die skade wat deur alkoholgebruik tydens swangerskap veroorsaak word”.
- Onder die vernaamste risikofaktore in ons gemeenskappe, tel onbeplande swangerskappe, meen dr. De Vries. “Wanneer swangerskappe nie beplan word nie, drink vroue dikwels tot op drie of vier maande en selfs langer in swangerskap sonder om te besef dat hulle swanger is,” verduidelik sy. “Dit het dan reeds ’n invloed op die ontwikkeling van die fetus, selfs al hou sy op met drink wanneer sy besef sy is swanger.”
Maar dr. De Vries wys op ’n ander bekommernis wat spesifiek in die plaaslike bevindings bespeur is: “Jongmense, en dan bedoel ek van jong tieners af, drink skrikwekkende hoeveelhede en word, ten spyte van hul jeug as beskermende faktor, al meer ouers van geaffekteerde kinders.”
Hoe is die navorsing gedoen? Luidens ’n verklaring van die US, het die navorsers data van vyf studies oor die voorkoms en eienskappe van FASV onder graad 1-leerders in die Wes-Kaap ontleed om te ondersoek of pa’s se drankgebruik kinders wat met FASV gediagnoseer is, beïnvloed. Die kinders se biologiese ma’s of wettige voogde het ʼn vraelys oor die risikofaktore vir FASV voltooi.
- De Vries sê: “Ons bevindings toon dat kinders wie se pa’s alkohol gedrink het, meer geneig was om korter te wees, kleiner koppe te hê en swakker in verbale IK-toetse te vaar. Die studie het voorts getoon dat alkoholgebruik deur beide ouers tydens swangerskap die hoogste risiko vir die kind se ontwikkeling inhou. Dit het ook geblyk dat ‘fuifdrinkery’ (oftewel binge drinking) deur die pa, maar veral deur beide ouers, die nadeligste uitwerking op die kind se ontwikkeling het.”
- “Oor die algemeen is bevind dat hoe meer pa’s gedrink het, hoe swakker het hul kinders gevaar,” sê sy. “Maar daar moet in gedagte gehou word dat al hierdie gevolge waargeneem is by kinders wie se ma’s [self] alkohol tydens swangerskap gebruik het.”
- De Vries en haar kollegas wys daarop dat ʼn pa se drinkery alleen nie die kanse verhoog dat ʼn kind met FASV gediagnoseer sal word nie. Waar die ma egter tydens swangerskap gedrink het en die pa ook ʼn swaar drinker was, was die kind meer geneig om die ernstigste simptome van FASV te toon.
- Bygesê: Of die pa’s se rol in FASV voortspruit uit verswakte spermkwaliteit of ander epigenetiese invloede (dit beteken veranderinge in hoe gene werk wat nie die wysiging van die DNS-kode self behels nie), is nog onduidelik.
Wat is die verskil tussen FASV en FAS? Fetale Alkoholsindroom (FAS) is die diagnose of voorkoms van Fetale Alkohol Versteuringsindroom (FASV) waarin die kind die ernstigste gevolge van alkoholblootstelling ervaar.
- Indien jy ’n aptyt vir akademiese leesstof het, kan jy toegang tot die volledige artikel (“Does paternal alcohol consumption affect the severity of traits of fetal alcohol spectrum disorders?”) hier kry: https://onlinelibrary.wiley.com/doi/10.1111/acer.70105?af=R
