Die LP wat die bende-probleem in die President se gesig gevryf het: ‘How many more children must die before you act?’

Bende-geweld was nie op die ordelys met pres. Cyril Ramaphosa se vraag-en-antwoord-sessie verlede week in die Parlement nie. Maar Action SA-LP Dereleen James het verseker dat dit onder sy aandag gebring word.

Waarom maak dit saak? Me. James eis dat ’n noodtoestand verklaar word – en die President sélf “wil ’n ernstige, hardhandige intervensie hê”, het hy aan haar gesê.

Die doel van ’n noodtoestand is om die orde te herstel en die gemeenskappe te stabiliseer, sê me. James. “Wat ons tans sien, is basies uurlikse [bende-]moorde. Mense kry nie eens kans om te rou nie omdat hulle daagliks deur geweerskote geterroriseer word.”

  • Maar dit gaan nie slegs vir haar daaroor om troepe in die strate te ontplooi nie: Die noodtoestand moet verskeie staatsdepartemente, soos maatskaplike ontwikkeling, onderwys en ekonomiese ontwikkeling, die geleentheid bied om in ’n veilige omgewing hul deel te doen om die bende-euwel teen te werk.
  • In die brief wat sy aan pres. Ramaphosa oorhandig het, vra me. James ook onder meer dat straat-tot-straat-operasies uitgevoer word, huis-tot-huis, om bendes en dwelms uit te snuffel; dat spesiale howe, soos met die Sokkerwêreldbeker in 2010 vir bendeverwante-sake ingestel word; en dat SETAS in spesiale vaardigheidsontwikkelingsprogramme vir bendegeteisterde gemeenskappe moet belê.

Die volledige brief kan hier gelees word: Dereleen James_Open Letter to President Ramaphosa

Mondstuk Media het haar gevra wat die President se reaksie op haar pleidooi was. Die gesprek het in werklikheid langer geduur as wat ’n videogreep op sosiale media wys, sê sy. “Hy het oor ’n paar goed uitgebrei. Hy het gepraat oor sy vergaderings met die minister van polisie [prof. Firoz Cachalia]; en hy het gesê hy wil ’n ernstige en hardhandige intervensie op die Kaapse Vlakte hê.”

  • Getrou aan sy aard om in gesprekke sy sjarme in te span, wou die President ook weet waarom me. James deesdae so kwaad voorkom, waarop sy hierdie reaksie gereed gehad het: “Ek het aan hom gesê my woede spruit uit jare en jare se aktivisme – en geen verskil sien nie. Maar ek verkies nog steeds om nie ’n pessimis te wees nie. Wat ons in hierdie tye nodig het, is om hoopvol te bly.”
  • Oor prof. Cachalia se besoek verlede week aan bende-areas, waartydens hy erken het dat geen werklike polisie-plan teen die bendegeweld bestaan nie, klink sy egter minder optimisties. Ontmoetings met rolspelers, soos dié deur die minister, gebeur al sedert 2018 en al wat hulle kom doen, “is om na die mense te luister”. Teen hierdie tyd moes ’n behoorlike strategie bestaan het wat elke jaar hersien word omdat die bendes ook “slimmer” raak. “Maar om hierdie talkshops te hou, huh-uh, dit werk nie weer vir my nie,” sê me. James.

Wat is vir haar die verskil tussen haar vorige rol as ’n gemeenskapsaktivis en nou as ’n nasionale parlementêre verteenwoordiger vir ActionSA? “Ek dink die werk van ’n LP is nie veronderstel om net in die gemaklike sitplekke van die parlement te gebeur nie,” sê me. James. “Elke LP moet aktisivisme in hulle het – en as LP kry ek nou die geleentheid om op nasionale vlak nege provinsies te dien, en nie net in my eie gemeenskap nie.”

  • James se boodskap aan die inwoners van die Wes-Kaap is dat hulle dalk te gewoond geraak het aan die bende-situasie en as hulle lot begin aanvaar het. “Dit is tyd om daarteen op te staan,” sê sy. “Die mense wat ons gemeenskappe vernietig, is nie ruimtewesens nie: dit is ons familielede, ons kinders, ons ooms en ons pa’s. Ons moet beheer oor ons wonings en ons strate terugneem.”

Op hierdie laaste vraag was sy nie voorbereid nie: “Ontspan jy ooit en hoe?”

  • “I think that’s probably the most difficult question you’ve asked me,” antwoord sy in haar voorkeurtaal. “Uhm, I don’t know, hey. I honesty don’t know how to answer that question.”