’n Lewensles uit die storie wat oom Alspraat verlede week vergeet het om te vertel oor ’n vriend wat in die hospitaal beland het

En julle sê toe ook net mooi niks nie oor dié dat hierdie oom van julle, vergeetagtig soos wat hy soms kan wees, in laasweek se rubriek ’n stuk begin sny het en toe glad nie die stuk klaar gesny het nie. Amper sê ek soos die kinders sê: “Lag my klaar!” Maar sulke tye loer ek altyd maar oor my skouer vir die oorle’ vrou, soos toe sy nog hier was om oor mý skouer te loer. Ek hoor haar helder: “En watse verspottigheid is dit dié van ’n ouman wat soos die kinders wil klink?”

Die storie was een wat hierdie oom Alspraat se vriend in die Kaap uit sy hospitaalbed vertel het – seker nou nie ’n storie wat vir almal iets sal wees nie, maar hier waar ek nou op die stoep sit, ’n koppie boegoetoe van Montagu se museum in die hand, het ek nogal gedink agter die “nie ’n storie wat vir almal iets sal wees nie”, lê vir my en vir julle tog ’n duur les, soos wat dit vir my vriend in die hospitaal in die Kaap was. My vriend wat in die hospitaal in die Kaap was, is oor die algemeen baie privaat, so ek was op ’n manier nogal verras deur sy boodskap.

Ons is nou nie elke dag in kontak nie, maar dis miskien hoekom dit altyd vir ons twee voel asof ons net weet wánneer die een by die ander een moet inloer – op WhatsApp, soos ek laasweek so half spoggerig gesê het, want julle het seker gedink julle oom Alspraat is nie by dié goete nie, maar moenie my vlak kyk nie, ek is by!

En ek dink eers miskien is my vriend nie vandag heeltemal by nie, want hy kom altyd so op die bôl voor – heel blessit tyd besig, dan hier, dan daar, met dit en dat, by dié en daai, regtigwaar soos iemand wat nooit grond vat nie. Dan sê hy altyd: “Jy weet, my geleerde broer, ou Alspraat, lat ek liewigste besig bly vir al daai mense wat so heeldag sitte niks doen nie.” Seker nie ’n skimp na my kant toe nie, want ek het my deel vir ampig veegtag jaag in die onnigwys gedoen, mompel ek toe in my allenigheid. Soos met my, het die Overbergse bgry by hom gebly al is hy nou al hoeveel jare in die Kaap (en dit slaan by tye sterk deur so halfpad deur ’n sin). Hoe’t ons altyd gesê? “What’s in you in, is in you in.” Sulke tye is ek net te dankbaar hy noem nie name nie, want mense trek maklik ’n skoen aan as dit hulle pas, maar ek maaind nie, want, soos ek sê, het ek mos my eie dae van besig wees gehad. En nou wat ek daaraan dink, dink ek dat ek seker ook skool gehou het vir baie van daai wat my vriend nou so beskinner of miskien moet ek maar net sê bespreek oor hulle hulself met die minste besig hou: koffie, TikTok en ouma Sarie.

Hoe kry mense dit reg? Sit in die son; sit op die winkelstoep; sit op die sypaadjie. Hang oor die draad; hang op die hekkie; hang teen die muurtjie. En soos wat die son beweeg en later hier oor die Grootkopberg begin sak en die berg begin skadu gooi, beweeg die klomp hier by ons al om die huis, sirkel in die jaart rond, skuif al agter die laaste bietjie warmte aan. Nee, jimmel, so sal ek nie kan nie, het ek al hoeveel maal gedink, maar niks gesê nie, want die Woord leer ons mos dat die oordeel jou nie toekom nie. My vrou sal nou daai vers net so uit haar kop uit, onder haar doek wat haar hare vashou, soms gevleg, maar meestal bo op die kop vasgesteek, onthou het. Weet nou nog nie vir wat sy tog so verskriklik moeite gedoen het om haar grys hare weg te steek nie. Hier sit ek en worry my nie. “Toe-toe-toe,” sou sy sê, “as jy nie so bles was nie, my ou donkie, sal joune ook gewys het.”

“Amen, broer Alspraat,” kom die boodskap toe nourie dag van my vriend in die Kaap, “wat is die markprys van patats?” (Sensitiewe saak dié vir ons Genalers omdat ons altyd op skool deur die kinders “patatvreters” genoem is.) Nou as ’n boodskap op dié manier begin, dan lees ek liewerste eers die storie klaar op Mondstuk, waarmee ek op daai oomblik besig is. Jy kan mos sien dis ’n ghai-maak besigheid. En toe is dit nie, julle, soos dié oom Alspraat wat soms dink dat hy alsweet gou agterkom toe ek die tweede sin van my vriend in die Kaap se Whatsapp-boodskap lees: “Het vanoggend op pad kantoor toe vir iets helemal anders sommer by die hospitaal se noodgevalle ingeglip – nou lê ek hier as ’n noodgeval in die, soos die personeel so mooi sê, hoësorg-eenheid.” Ek maak op daai oomblik amper ’n glips aan die voorkant van my broek, want op my ouderdom dink jy dat jy nog in beheer van alles is, dan is jy nie, maar niemand sou gelukkig agterkom nie, want ek is mos maar op my eie hier vandat die oorle’ vrou nie meer hier is nie. “Wt!?” skryf ek terug en sien eers agterna ek het die “a” van “wat” weggelaat en die vraagteken moes voor die uitroepteken gewees het, maar steur my min daaraan.

“Ons dink ons is oraait,” sê my vriend, “maar ons is nie altyd so oraait as wat ons dink nie.”

In hierdie oom Alspraat van julle se lewe van ampig sewentag jaar, was daar min kere wat hy nie geweet het wat om terug te sê nie.