Boland (steeds) bó in Curriebeker; Bokke ónder in Nieu-Seeland
Bolandse rugby-ondersteuners se oë was Saterdag eers op die Springbokke in Nieu-Seeland gerig en later die dag op die Kavaliers se Curriebekerstryd teen WP in die DHL Kaapstad-stadion.
Die uiteinde? Een dag, twee teleurstellings: WP 40 – Boland 22 (nadat die Bolanders rustyd met 8-7 voorgeloop het); en Nieu-Seeland 24 – Suid-Afrika 17. Rassie Erasmus se Bokke moet nou hulself opskerp vir die tweede toets komende naweek in Wellington, Nieu-Seeland, terwyl Hawies Fourie se Kavas steeds op pad na ’n semi-finaal is.
Om die Boland-WP-aksie te herleef, laai ons hier ’n SuperSport-video met hoogtepunte uit die wedstryd:
Miskien sou dit gehelp het as die Sanlam Boland-Kavaliers se gelukbringer – die kavalier op die perd – ook in die DHL Kaapstad-stadion galop het, soos wat hy altyd langs die veld in die plaaslike Wellington doen. Helaas, die span se skop was daar in die eerste helfte, maar toe die Streeptruie in die tweede helfte van rat verwissel, het die seelug hulle ietwat bedwelmd gelaat.

Wat ’n mens tog heeltyd in ag moet neem, is dat die Kavaliers ná ’n afwesigheid van amper tien jaar terug is in die Carling Curriebeker-kompetisie – en moenie vergeet nie dat WP voorlangs spog met ysters, soos Deon Fourie en Evan Roos (albei Springbokke), en agterlangs oor ’n lynsnyer soos Leolin Zass beskik. In die Kavas-span was dit kaptein Thurlow Marsh wat voorbeeldig leiding gegee het; Sibusiso Sangweni wat weer sy stempel afgedruk het; en die ster-vleuel Donavan Don, wat sy drieë druk-rekord verder verstewig het met nou nege vyfpunters in ses wedstryde.
Die Boland se insinking in die tweede helfte het die Kapenaars in staat gestel om hul eerste oorwinning vir die seisoen te behaal. Maar nou weet hulle ook watter soort aanslag om te verwag wanneer hulle hul halfeindstryd weg van die huis af moet gaan speel.
- En dit is hoe ons by die Bokke se wedstryd teen die All Blacks heelwat vér van die huis af kom: Dit was een nat en glyerige affêre doer onder in Auckland in die land van die silwer varing, wat die Bokke onseker laat voorkom het oor wat hulle te doen staan. Selfs die ervare spelers wat moes help dat die Kiwis se ononderbroke segetog van 50 wedstryde versteur word, het nie die verwagte resultate opgelewer nie. Nou staan die All Blacks se rekord op Eden Park op 51 onoorwonne wedstryde en die Springbokke moet besluit hoe hulle Saterdag in Wellington gaan walgooi.
- In Hendrik Cronjé se wedstrydverslag gister in Rapport wys die vinger na twee veterane in die Bokspan – haker Malcolm Marx en heelagter Willie le Roux. Maar ook na die skeidsregter, Karl Dickson van Engeland. Die vertoning van die blaser sou altyd in só ’n kritieke wedstryd onder die vergrootglas wees, skryf hy, maar die “groot verskil tussen wen en verloor” was vir Cronjé twee oomblikke in die wedstryd. Dit was die verbroude duikslag van Marx op Will Jordan, asook “Willie le Roux se tydsberekening en gestruikel” nadat Emoni Narawa ’n dwarsskop bemeester het, wat in ’n drie vir die All Blacks geëindig het.

- Soos ook elders berig, het die sogenaamde “Bomb Squad”, of plaasvervangersbank, gemeng presteer. Sacha Feinberg-Mngomezulu het Cronjé beïndruk “deur dadelik energie [te] verskaf” en “selfs by tye met die bal in die hand” aan te val.
- Die doodsteek vir Le Roux, is die stelling deur Cronjé dat hy verstaan hoekom coach Rassie gedink het Le Roux sou “vanweë sy goeie balverspreiding vanaf tweede- en derdefase besit, soos ’n Manie Libbok die beste uit die Bokke se agterlyn op die aanval kon kry”.
- Wat ’n wonderlike pluimpie vir Libbok, wat geen onbekende is aan die ontvangkant van kritiek nie. Maar noudat Le Roux nie die mas opgekom het nie, is die vraag of hy dieselfde medisyne as Libbok sal moet sluk deur sy plek in die span in te boet, terwyl Damian Willemse en Aphelele Fassi opgewarm sit en wag?
Storie aangepas 12:53 op 8 September 2025: Erasmus het uiteindelik verras deur nie slegs vir Le Roux te pos nie, maar deur net vir Cheslin Kolbe en Canan Moodie in die agterlyn te behou. Moodie skuif wel buitesenter toe, terwyl Ethan Hooker hom op vleuel vervang. Fassi is in Le Roux se plek ingebring en Willemse sal op binnesenter diens doen. Die nuwe skakelpaar is Cobus Reinach en Feinberg-Mngomezulu, met Grant Williams wat die plaasvervanger-skrumskakel is en Manie Libbok wat sy teruggekeer, hoewel ook op die bank.
