Top-klub in Boland laat loop sy hoof van afrigting ná nóg ’n vernedering op sy tuisveld. Krisisvergadering gehou
Die Caledon-rugbyklub het sy direkteur van rugby, Alexar Kleinsmith, half-elf Saterdagaand via WhatsApp afgedank nadat die klub geklop is deur nóg ’n “mindere” buurspan, Genadendal.
Waarom maak dit saak? Die klub ervaar vanjaar een van sy swakste seisoene ooit in die Boland-unie se Groot Uitdaagkompetisie. ’n Krisisvergadering vind vanaand plaas.
SPORT | 29.6.2026: Die 2026-seisoen van die eens roemryke Caledon-rugbyklub kan uit twee hoeke beskou word – een is dat die bestuur besig is om die klub te herbou; die ander hoek is dat dinge net erger raak.
- In die nuutste verwikkeling het die klub sy direkteur van rugby, Alexar Kleinsmith, in die pad gesteek nadat Genadendal hulle Saterdag tuis met 34-31 geklop het.
- Die besoekers is in die verlede beskou as een van daai spanne teen wie Caledon in liga-kragmetings “geoefen” het.
- Kleinsmith het sy bedankingsbrief – met geen datum daarop nie – Saterdagaand om 22:28 via ’n WhatsApp van die sekretaris, Desmond Arendse, ontvang; die volgende oggend om 6:30 is die brief ook per e-pos gestuur.
Uit die binnekamer: Arendse is een van die bestuurslede wat deur die voorsitter, Rodney Nissen, gekoöpteer is en wat nou ’n sentrale rol op die verswakte bestuur speel. Dit is nadat verkose bestuurslede, soos die ondervoorsitter, sekretaris en kassier, almal oor ’n tydperk lank bedank het. Ingeligtes vertel dat Nissen die kitaar slaan glo tot met spankeuses en die onlangse aanstelling van ’n nuwe A-span-afrigter nadat Neville Simmers uit dié pos bedank het.
‘Loop, kliphard!’: Nie net heers onenigheid op bestuursvlak nie, maar ook ondersteuners hou nou nie meer terug met hul kritiek nie. Facebook gons behoorlik elke keer wanneer die span nie die mas opkom nie – en die onlangse skerp kritiek van een ondersteuner, Preston Julies, het nou daartoe gelei dat hy van alle tuiswedstryde verban is.
- Julies het by navraag aan Mondstuk Media bevestig dat hy ’n brief in dié verband ontvang het. Maar hy wag steeds dat die klub hom voorsien van ’n klagstaat wat moet aandui op grond waarvan hy dissiplinêr aangekla is.
- Die ironie is dat hy in sy plasing op Facebook krities oor Kleinsmith was – en nou is Kleinsmith tog in die pad gesteek.
- Selfs simpatieke ondersteuners kan nie meer hul teleurstelling wegsteek nie. Ná die naweek se pak slae teen Genadendal het die legendariese Boland en Saru-agterspele, Joshlin Ontong, op Facebook geskryf die spelers het al uitgeput voorgekom nadat hulle voor die afskop opgewarm het.
Wat nou? In die brief aan Kleinsmith word hy genooi om aan te bly as “tegniese analis”. Die bestuur bedank hom vir sy “harde werk agter die skerms om ons klub te bou”. Na verneem word, vergader die bestuur vanaand met spelers om oor die pad vorentoe te besin.
