Hier aan die einde van Jeugmaand, ’n boodskap aan jongmense: ‘Jy maak saak, en daar is hoop’
Die bekende teoloog LLEWELLYN MACMASTER, wat ook voorsitter is van die Cape Crime Crisis Coalition (C4), deel hier sy mening oor die toenemende werwing van jongmense deur bendes.
Waarom maak dit saak? Jongmense word maklik in die kloue van dié maatskaplike euwel vasgevang – en daarom is dit nodig dat daar gedurig nuut oor oplossings gedink moet word, skryf dr. MacMaster.
STANDPUNTE | 29.6.2026: Jongmense raak veral kwesbaar gedurende die vormingsjare wanneer hulle op soek is na identiteit, aanvaarding en ’n gevoel van behoort. Faktore soos armoede, werkloosheid, skooluitval, blootstelling aan geweld en beperkte geleenthede verhoog hierdie kwesbaarheid.
Kwaadgeld: Hoewel armoede ’n belangrike drywer van bende-werwing is, is dit nie die enigste rede waarom jongmense by bendes aansluit nie. Die behoefte om deel van iets te wees, om erkenning te ontvang en om betekenisvolle verhoudings te ervaar, speel dikwels net so ’n groot rol.
- Bendes vul dikwels die leemte wat ontstaan wanneer gesinne, skole en gemeenskappe nie daarin slaag om voldoende ondersteuning en begeleiding te bied nie.
Oplossings: Wetstoepassing is daarom nie die enigste manier hoe die probleem aangespreek moet word. Die oplossing lê ook in doelbewuste (sosiale) investering in onderwys, vaardigheidsontwikkeling, werksgeleenthede, sport, kultuur en veilige ruimtes waar jongmense kan groei en ontwikkel.
- Ons moet nie net misdaad bekamp nie, glo ek. Ons moet ook hoop skep.
’n Saak van geloof: Geestelike mentorskap en geloofsgemeenskappe kan steeds ’n belangrike rol speel om jongmense te help om waardigheid, identiteit en doelgerigtheid te ontdek. Ons sit definitief met ‘’n diep morele krisis. Een rede waarom ekself steeds aktief in inisiatiewe soos die C4 betrokke is, is omdat ek glo dat daar nog steeds hoop is deur die uistekende en positiewe werk wat aktiviste, gemeenskapsleiers en -organisasies, ouers, onderwysers, mentors en geloofsleiers daagliks doen om jongmense te ondersteun.
So where to? Met verwysing na die 50ste herdenking van die 1976-jeugopstande glo ek dat die uitdaging vir Suid-Afrika vandag is om te verseker dat die jeug van 2026 deur hoop eerder as wanhoop gekenmerk word. Dit vereis veiliger gemeenskappe, beter opvoedkundige geleenthede, ekonomiese ontwikkeling en platforms waar jongmense se stemme gehoor word.
- Dit beteken egter dat ons konstant nuut moet dink en doen.
In landsbelang: Die grootste belegging wat die land kan maak, is ’n belegging in sy jeug: “Elke jongmens moet weet: jy behoort hier, jy maak saak, en daar is hoop.”
Hierdie kort meningsartikel is ’n samevatting van dr. Llewellyn MacMaster se insette in ’n Jeugdag-onderhoud op RSG.
