DA-raadslid gee nie bes oor ‘Cederberg-skandes’. Dit is alles om Ruben Richards by te kom
Die Cederberg-raadslid John Hayes is skuldig bevind aan die oortreding van die raad se gedragskode oor hy vertroulike inligting op sosiale media gedeel het.
Waarom maak dit saak? Selfs al wil die raad nou hê hy moet tot aan die einde van die huidige termyn geskors word, bly hy nie weg van sosiale media af nie. Foto: FOOD FOR MZANSI
POLITIEK | 29.6.2026: Dit is nie die eerste keer dat dr. John Hayes in die moeilikheid beland, terwyl hy ’n raadslid in Cederberg-munisipaliteit is nie. Die vorige keer was dit ’n rassistiese uitspraak wat gelei het tot ’n skorsing van een maand, hoewel die raad wou hê dit moes twaalf maande wees. Maar die besluit oor sulke skorsings berus by die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, mnr. Anton Bredell.
- Nou wil die raad hê mnr. Bredell moet dr. Hayes skors vir die duur van die huidige termyn vir raadslede, wat einde Oktober eindig.
- Dit is voor die plaaslike verkiesings van 4 November.
Doktor in die dokter se visier: Die Hayes-veldtog is blykbaar teen dr. Ruben Richards van die Cederberg Eerste-organisasie gemik. Dr. Richards is tans die onderburgemeester en was ook voorheen die burgemeester.
- Dr. Richards het verlede Woensdag ’n sesde mosie van wantroue in ’n spesiale raadsvergadering oorleef.
- Die mosie is deur die DA ingedien en deur die PA gesekondeer.
- Die bewerings teen dr. Richards sluit onder meer in dat hy verantwoordelik sou wees vir “politieke onsekerheid” in die raad; dat Clanwilliam se waterprobleme weens sy toedoen is; en dat hy sou inmeng met die werk van die munisipale administrasie.
Tydsberekening: In die raadsvergadering verlede week het dr. Richards opgemerk dat dit interessant is dat die mosie teen hom op dieselfde dag dien waar die uitslag van dr. Hayes se dissiplinêre verhoor bekend gemaak is.
En nog is dit het einde niet: Dr. Hayes het op sy beurt intussen weer plasings op Facebook oor dr. Richards gemaak. Die nuutste is vandag oor dr. Richards glo ’n ondersoek na beweerde onreëlmatighede met ’n grondtransaksie sou keer; ’n vorge plasing was oor ’n moontlike veiligheidsbedreiging teen dr. Richards wat vertroulik met die polisie gedeel is.
