Erkenning vir Khoi- en Sanleiers kom nader. Hier is jou kans om kommentaar daarop te lewer
Die Parlement het weer met die proses begin om die erkenning van Khoi- en Sanleiers deur wetgewing vas te lê.
Hoekom is dit belangrik? Die proses is voorheen gestaak om meer oorlegpleging toe te laat. Nou het die publiek tot middel Augustus om kommentaar te lewer.
NUUSMAKERS | 29.6.2026: Erkenning vir die land se Khoi- en Sanleiers het ’n stap nader na finalisering geneem met die Nasionale Vergadering se oproep aan individue en organisasies om kommentaar te lewer op die wetgewing wat daarvoor voorsiening maak.
- Die Wetsontwerp op Tradisionele- en Khoi- en Sanleiers het onder ten doel om erkenning te gee aam Khoi- en Sangemeenskappe, die posisies van leiers in dié gemeenskappe en ook die herroeping daarvan.
- Dit sluit rolle in soos di van konings, koningskaprade, hoof tradisionele rade en subrade.
Koppestamp oor koningskappe: Die kwessie van leierskap en posisies soos hoofmanne- en vroue, konings en koninginne en prinse en prinsesse, het in die verlede al dikwels vir onenigheid in Khoisan-kringe gesorg. Die gedurige struwelinge en mense wat glo sonder meriete aanspraak maak op dié posisies, het ook daartoe gelei dat daar gereeld van binne en buite die gemeenskap gespot word hieroor.
Sê jou sê: In ’n advertensie wat deur die Portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering en Tradisionele Sake uitgereik is, word ook vermeld dat die wetgewing voorsiening maak vir die vestiging van provinsiale huise van tradisionele- en Khoi- en Sanleiers en plaaslike huise van tradisionele- en Khoi- en Sanleiers.
- Die wetgewing bevat ook ’n bepaling oor ’n gedragskode vir lede van die Nasionale Huis, provinsiale huise, plaaslike huise, tradisionele- en Khoi- en Sanrade en erkende tradisionele leiers.
Kontakbesonderhede: Die kontakpersoon vir kommentaar op die wetgewing, waardeur ook voorsiening gemaak word vir ’n Kommissie oor Khoi- en Sanaangeleenthede, is me. Shereen Cassiem by die e-posadres tklb@parliament.gov.za of selnommer 083 709 8533.
