Die draadspanner wat ’n doktor geword het, vertel nou sy volle verhaal in ’n boek wat een van die dae verskyn

Een van die land se bekendste polisiekundiges, dr. Lennit Max, wat in sy lewe al op die plaas en op die spoorweë gewerk het, het nou ’n boek geskryf.

Waarom is dit belangrik? Max, wat in graad agt (of standerd ses) uit die skool is, vertel onder meer hoedat hy uiteindelik tot provinsiale kommissaris en ’n doktor in die regte gevorder het.

NUUSMAKERS | 29.6.2026: Op die omslag van sy boek, getiteld A Life that Refused to Bow, word ’n foto gebruik van dr. Lennit Max in volle generaal-gewaad: hoed, uniform, medaljes. In die agtergrond sien ’n mens ’n man wat op die spoorweg werk en ’n student wat graad vang met ’n universiteitsgebou wat uittroon.

  • Dit som die verhaal op wat binne die boek vertel word.
  • Max dra sy outobiografie op aan onder andere sy pa, Jan, saam met wie hy draad gespan het op plase in die Bredasdorp-omgewing waar hy opgegroei het; en aan sy ma, Lettie, “wie se krag, gebed en opofferings ons gesin deur honger, vernedering en swaarkry gedra het”.
  • Naas sy vrou, Farouz, en twee seuns, Denzil en Lennit jnr., word die boek ook opgedra aan elke kind “wat arm groot geword het en misgekyk is of wie se drome te groot was om te verbeel”.

“This is not a story of privilege,” skryf dr. Max, wat ook al provinsiale polisieminister en ’n nasionale LP was, in die voorwoord van sy boek. “It is a story of resistance.”

Plaasarbeider tot polisieman: Die boek vertel onder meer hoedat dr. Max nadat hy klaar was met skool, elke jaar Kaap toe is om aansoek te doen vir toelating tot die polisie. Uiteindelik het hy homself opgewerk van ’n studente-konstabel tot ’n luitenant-generaal.

  • Die belangrikste les vir hom was egter dat sukses nie bepaal word deur titels of range nie, maar wel deur karakter.
  • Nóg ’n les wat hy met sy lesers wil deel, is dat leierskap moed vereis lánk voordat dit erkenning bring – “en dat ’n mens dikwels ’n prys betaal omdat jy die regte ding doen”. Dit kan lei tot “isolasie en verlies”.

Weet net: Die boek word deur dr. Max as sowel ’n les as ’n waarskuwing beskryf. Hy verduidelik dat dit beteken “mag sonder verantwoordbaarheid, politiek sonder beginsels, en leierskap sonder menslikheid is ’n gevaarlike kombinasie wat jare se swaarverdiende vordering in ’n kort periode tot niet kan maak”.

  • Mondstuk Media sal sodra die boek verskyn, ’n volledige onderhoud met dr. Max doen.
Leave a Reply