‘My naam is !Khūaboab’: Wes-Kaapse kultuur-minister skryf vir ons ná Khoisan-kritiek uit die Oos-Kaap

Die meningsartikel verlede week in Mondstuk Media deur die Baaise Khoisan-aktivis Christian Martin “plaas ’n belangrike onderwerp op die tafel”, skryf RICARDO MACKENZIE.

Wat is sy punt? Hy stem saam dat enige oppervlakkige benadering tot die Khoi en San se erfenis bevraagteken moet word, maar die debat daaroor, sê hy ook, “moet die volle prentjie weerspieël”.

2.03.2026 | STANDPUNTE: Die geskiedenis van die Khoi- en San-mense in die Wes-Kaap is diep verweef met pyn, onteiening en marginalisering. En ja, enige benadering tot hierdie erfenis wat oppervlakkig of uitbuitend is, moet bevraagteken word. Daarmee stem ek ten volle saam.

  • Maar dit is ook belangrik dat die publieke debat die volle prentjie weerspieël.

‘Want dit moet julle darem weet...’ As die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport wil ek dit duidelik stel: die provinsiale regering beskou Khoi- en San-erfenis as ’n lewende, ontwikkelende deel van ons samelewing — nie as ’n “kommersiële kommoditeit”, soos mnr. Martin dit verlede week in sy artikel stel nie. Netso het ons begrip en respek vir ander inheemse groepe in die Wes-Kaap. Daarom is ons gefokus op lewende erfenis.

CHRISTIAN MARTIN: Hierdie Khoisan-aktivis is moerig oor die lot van die Eerste Nasie in die Wes-Kaap

Die gevaar van kommersialisering van kultuur is ’n werklikheid, en dit is juis waarom die Departement doelbewus weg beweeg van modelle wat gemeenskappe slegs as uitstallings behandel. Ons huidige benadering fokus op:

  • die ondersteuning van lewende kulturele praktyke;
  • samewerking met Khoi- en San-gemeenskappe;
  • platforms waar gemeenskappe hul eie stories vertel; en
  • kapasiteitsbou vir kunstenaars en kultuurdraers.

Hierdie werk gebeur dalk nie altyd met groot opskrifte nie, maar dit is doelbewus en volhoubaar.

Museums en narratiewe: ’n Werk in uitvoering: Die kritiek dat Khoi- en San-geskiedenis histories as iets van die verlede aangebied is, is nie sonder meriete nie. Juis daarom het die Wes-Kaap die afgelope jare begin om:

  • museuminterpretasie te hersien;
  • gemeenskapskurering te bevorder;
  • meer kontemporêre Khoi- en San-stemme sigbaar te maak; en
  • inheemse kennisstelsels sterker te integreer.

Trouens, die Departement van Kultuursake en Sport het juis verlede week ’n betekenisvolle Khoi-San immersiewe kulturele ervaring by die George-museum ondersteun. Die geleentheid was ’n viering van inheemse kulturele praktyke, uitdrukking, storievertelling, lewendige geskiedenis en bowenal ’n platform vir inheemse groepe om ruimte op te neem.

  • Die geleentheid is deur verskeie lede van die Wes-Kaapse wetgewer bygewoon, insluitende Speaker Daylin Mitchell, Adjunkspeaker Reagan Allen, ANC-leier in die wetgewer Khalid Sayed, die burgemeesterskomiteelid Melvin Roelfse, asook gerespekteerde Khoi-San-lede.

Transformasie in die erfenissektor is ’n proses, nie ’n enkele gebeurtenis nie. Wat belangrik is, is dat daar ’n doelbewuste poging aangewend word om vorentoe te beweeg.

Gemeenskapsgedrewe benadering: Die departement het ’n gemeenskapsgedrewe benadering aangeneem om te verseker dat ons kulturele praktyke aktief volgehou en gevier word. Deur ons museums word skole genooi om direk betrokke te raak by kultuur in aksie, via spesiaalontwerpte lesse. ’n Uitgewerkte les word aangebied en daar word in noue konsultasie met gemeenskappe saamgewerk, sodat die kennis en praktyke van elke gemeenskap lewendig gehou word.

  • Programme in museums, kulturele feeste en erfenisprojekte is juis daarop gemik om te verseker dat Khoi- en San-erfenis as lewendig en relevant ervaar word — nie as ’n voetnota in die geskiedenis nie.

Erkenning, waardigheid en realistiese mandaat: Mnr. Martin maak verwysing na formele erkenning en breër strukturele veranderinge. Dit is belangrike gesprekke. In hierdie konteks is dit egter noodsaaklik om te beklemtoon dat daar ’n formele proses aan die gang is om eise vir Khoi- en San-leierskap en gemeenskappe te ondersoek. Hierdie proses word gereguleer deur die Kommissie vir Khoi- en San-aangeleenthede ingevolge die Tradisionele en Khoi- en San-leierskapwet (TKLA).

  • Tegelykertyd moet die onderskeid tussen provinsiale en nasionale bevoegdhede gerespekteer word, veral rondom kwessies soos statutêre erkenning en grondregte.

!Khūaboab, ’n naam met spesiale karakters én betekenis: Ek is wel bly dat daar onlangs ’n daadwerklike stap geneem is deur die minister van binnelandse sake, dr. Leon Schreiber, met die erkenning en registrering van !Khūaboab Lawrence as die eerste burger van Suid-Afrika om ’n identifikasiedokument te ontvang met sogenaamde spesiale karakters. Sy naam, !Khūaboab, kom van die Nama-taal en beteken “man van God” en het diep kulturele betekenis. Maar met sy geboorte kon sy familie nie sy naam registreer nie omdat die sisteem nie die ‘!’ en ‘ū’ klanke erken het nie.

Sy naam moes dus noodgedwonge aanpas word sonder die uitroepteken wat die klik-klank verteenwoordig. !Khūaboab is toe dus van sy naam op amptelike dokumentasie gestroop vir ’n aangepasde naam wat volgens sy ma niks beteken het nie. En nou op 18 jaar word sy naam vir die eerste maal deur die owerheid erken – en so ook word die deure oopgemaak vir ander in sy skoene. Hierdie is die soort inisiatiewe wat ek ten volle ondersteun.

Wat die Wes-Kaapse regering wél binne sy mandaat doen — en sal aanhou doen — is om:

  • kulturele sigbaarheid te versterk;
  • erfenis te beskerm;
  • gemeenskappe te ondersteun;
  • en platforms vir ekonomiese en kulturele deelname te verbreed

Die pad vorentoe: Die werklike toets is nie retoriek nie, maar volgehoue samewerking met gemeenskappe. Ons bly oop vir robuuste debat en insette van Khoi- en San-leiers en -aktiviste, insluitend kritiese stemme soos dié van mnr. Martin. Die Wes-Kaap se doel is duidelik: om te beweeg van simboliek na substantiewe vennootskap — op ’n manier wat waardigheid beskerm, geleenthede uitbrei en die volle rykdom van ons eerste kulture laat floreer. Die werk gaan voort.

  • Ricardo Mackenzie is die Wes-Kaapse Minister van Kultuursake en Sport.

 

Leave a Reply