CALEDON op HETE KOLE oor OPTOG: Prestige-fabriek en Boland-kollege se kampus glo gesluit. Waar is die politieke leierskap?

Theewaterskloof-munisipaliteit is in ’n warboel ná drastiese besluite wat Vrydag in ’n raadsvergadering op Caledon geneem is. Ander moeilikheid vereis egter dringender aandag.

Die groter prentjie: Die munisipaliteit moet vanoggend antwoorde verskaf op die eise oor onder meer behuising, wat die Land Party onlangs tydens ’n optog op die dorp gestel het. Foto: SYDNEY ARMOED

2.03.2026 | NUUSMAKERS: Net eers oor Vrydag se vergadering. Soos Mondstuk Media op ons Facebook-blad berig het, het die raad resolusies aanvaar oor onder meer moontlike dissiplinêre stappe teen die uitvoerende burgemeester, Lincoln de Bruyn.

  • Die meer kritiese besluit wat geneem is, was dat die munisipale bestuurder (MB), Walter Hendricks, voorkomend geskors word en sewe dae gaan kry om te sê waarom hy nie uit sy pos verwyder moet word nie.
  • Robbing Hendricks to pay Hermanus’: Die direkteur van korporatiewe dienste, GW Hermanus, wat verantwoordelik was vir die klagte teen mnr. De Bruyn, neem van vandag af waar in mnr. Hendricks se pos. Ons kon dit daarom nie verhelp om die ou gesegde uit kerkverband hieraan te koppel nie, naamlik “Robbing Peter to pay Paul”.

Die lang verhaal van die langnaam-direkteur: Hierdie verwikkelinge is ten nouste verbind met die ontwrigting wat geruime tyd al veroorsaak word deur die teenwoordigheid van die omstrede direkteur van gemeenskapsdienste, Wilfred Schrevian Evan Solomons-Johannes. Hy het die klagte teen mnr. Hendricks ingedien.

  • Dit word in die algemeen aanvaar dat dit in reaksie was op mnr. Hendricks se volharding met dissiplinêre stappe teen mnr. Solomons-Johannes oor die beweerde wanbesteding van dermiljoene rande gedurende sy termyn as rekenpligtige beampte, of MB.
  • Nóg ’n besluit wat Vrydag geneem is, was dat mnr. Solomons-Johannes se Achilleshiel, Paul Mabhena, as finansiële direkteur, geskors word nadat hy mnr. Solomons-Johannes ’n ruk gelede te lyf gegaan het. Die saak dien tans in die Caledon landdroshof – soos ook die saak van crimen injuria wat mnr. Mabhena teen mnr. Solomons-Johannes gemaak het.

Terug na vandag: Hierdie gebeure vind alles plaas teen die agtergrond van ’n opvolg-optog wat vanogggend deur die Land Party op die dorp gehou word. Die party geniet geen formele verteenwoordiging op die TWK-raad nie. Hulle eis onder meer grond vir informele behuising en dat die taalbeleide van plaaslike skole heroorweeg moet word.

  • Die optog wat vir vanoggend beplan word, is om formeel antwoorde van die TWK-raad te kry. Wat die antwoorde gaan wees, gegee die politieke onstabiliteit wat tans ervaar word, is onseker.

’n Dorp onder beleg? Mondstuk Media het die burgemeester genader om kommentaar te kry oor die feit dat die dorp op hol is oor die beplande optog. Die storie word onder meer versprei dat daar ’n algehele “shut down” beplan word. Ons het nog niks terug gehoor van mnr. De Bruyn nie.

  • ’n Amptelike kennisgewing van TWK stel inwoners in kennis dat plaaslike wetstoepassingsbeamptes die situasie sal dophou en dat munisipale dienste sal voortgaan.
Leave a Reply