Ashwin Willemse maak ’n ‘comeback’: Die voormalige Springbok-vleuel hou rugbyklinieke in die Suid-Kaap

’n Nuwe toevoeging word hierdie week gemaak tot die aanbod van die Ebrahim Patel Community Cup-rugbytoernooi, wat oor Paasnaweek op George plaasvind. Oud-Springbok Ashwin Willemse speel ’n rol daarin.

‘Comeback kid’: Willemse maak as deel van die toernooi se aktiwiteite sy terugkeer tot die veld, maar darem nie om self uit te draf nie. Hy bied Woensdag en Donderdag rugbyklinieke op George en Pacaltsdorp aan.

23.02.2026 | SPORT: Die Ebrahim Patel Community Cup-toernooi is vernoem na die voormalige president van Saru, oftewel die South African Rugby Union wat onder Sacos sy sport beoefen het voordat rugby-eenheid in 1992 bereik is. Patel was ook later president van die nuwe SA Rugby-beheerraad. Uit sy waardes as leier – onder meer “dat rugby ’n instrument is om mense op te hef en jong talent ’n platform te gee” – het die idee vir die toernooi ontstaan.

Romano Lekay is die baasbrein van die EPCC: “Ons wil nie net ’n toernooi aanbied nie,” sê hy. “Ons wil ’n impak maak.”

  • Dit is wat daartoe gelei het dat hulle besluit het om vanjaar ook met rugbyklinieke met “rolmodelle en ervare spelers” te begin. Ashwin Willemse, voormalige Springbokvleuel en SuperSport-kommentator, is die eerste een.
  • “Hierdeur word jongmense toegang gegee tot vaardighede, mentorskap en blootstelling wat hulle andersins dalk nooit sou ontvang nie,” sê mnr. Lekay. “Ontwikkeling begin by grassroots-vlak – en dis waar ons fokus lê.”

Willemse sê oor sy betrokkenheid: “Ons gaan fokus op basiese tegniek, wedstrydintelligensie en dissipline, maar ook op karakter, selfvertroue en verantwoordelikheid. Soos Lekay onderstreep hy dat deelnemers – gr. 11’s en 12’s – ’n volle pakket gebied gaan word: “Deelnemers kan uitsien na ’n ervaring wat baie meer is as net ’n rugbykliniek. Dit gaan oor energie, inspirasie en praktiese vaardighede.”

Die rugbyklinieke vind as volg plaas:

  • Woensdag, 25 Februarie; George Hoërskool (2nm.); en
  • Donderdag, 26 Februarie; Pacaltsdorp Hoërskool (1nm.).

Omdat die organiseerders van die toernooi glo “in die omvattende ontwikkeling van gemeenskappe”, word finansiële geletterdheidsessies ook as deel van die klinieke aangebied. ’n Motiveringspraatjie word eers gehou, dan die finansiële geletterdheidsessies en dan die rugbyklinieke self.

Geld-gelerentheid: “Finansiële geletterdheid is een van die grootste struikelblokke tot volhoubare sukses in ons gemeenskappe,” sê mnr. Lekay. “Daarom het ons besluit om finansiële opvoeding saam met die rugbyklinieke aan te bied – om jongmense toe te rus nie net vir die veld nie, maar vir die lewe.”

Leave a Reply