Die ding gaan ruk op Oudtshoorn: The Rocketzzz, Emo, Early B en Jodi Jantjies is almal op pad af #KKNK30 toe
Die musiekverhoog by die 2026 KKNK-feesmark spog dié jaar weer met van die beste wat die bruin vermaaklikheidswêreld te bied het.
Waarom is dit belangrik? Jy kan elke dag ’n groot naam sien optree, onder wie Karin Kortje, Jodi Jantjies, Dr Victor & The Rasta Rebels en The Rocketzzz New Generation (in die middel op die foto).
Die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees, of kortom KKNK, word vanjaar vir die 30ste keer aangebied. Soos gewoonlik is die program vir die Feesmark se musiekverhoog gelaai met die name van sangers en musikante van formaat. Die skud jou biscuit-almanak lyk op die oomblik so:
Saterdag, 28 Maart 2026
- Early B – hoe sê hy nou weer? – “chise” by die Voluit Openingskonsert, wat 20:00 die aand begin, in die geselskap van legendes soos Amanda Strydom en Coenie de Villiers.
- Die program is saamgestel deur Janine Neethling en Nico Scheepers behartig die regie.
- Jy kan ook deur die dag na onder andere Bacchus Nel en sy Bra’s (om 10:30) tot Brendan Peyper (18:30) luister.
Sondag, 29 Maart 2026
- Karoo Pops word vanaf 20:00 opgevoer met ’n simfonie-orkes en Richard Cock se begeleierstokkie. Hier stiek Emo en Loukmaan en onder andere Karen Zoid yt.
- The Rocketzz se “New Generation”-weergawe is die middag om 13:00 op die verhoog, onder leiding van Manuel Losper, wat een van die laaste lede van die oorspronklike The Rockets met Jerry Watt as groepleier was.
- Karlien van Jaarsveld maak haar verskyning om 17:00.
Maandag, 30 Maart 2026
- Onse Idol, Karin Kortje, doen haar ding om 18:15, terwyl Jodi Jantjies (regs onderaan foto) en Robin Pieters ook gehoor kan word voordat Majozi om 19:30 aan die beurt kom.
Dinsdag, 31 Maart 2026
- Die groot Kaapse naam op dié dag se Feesmark-program, is die kletsryp-hoofman YoungstaCPT, wat die aand om 20:45 optree.
- Adam begin die dag om 10:30 en Juanita du Plessis behartig die middagskof (om 15:30).
Woensdag, 1 April 2026
- Legendaries verby, dié Dr. Victor & The Rasta Rebels, maak sy verskyning om 20:45.
- Maar gee solank nou al ook ’n applous vir Craig Lucas (18:15) en Andriëtte Norman (13:00).
Donderdag, 2 April 2026
- Die horlosie word teruggedraai met die herlewing van die Kaktus-konsert van vervloë dae.
- “Ou bekendes, nuwe gesigte en harde klanke gaan sorg vir ’n partytjie wat jy nie sommer gou gaan vergeet nie,” laat weet die feesbestuur.
- Noem maar op: Van Pletzen (22:30), Francois van Coke (21:15), Early B (20:15), BlackByrd (19:00) en koor vol ander talentvolle kunstenaars gaan die vermaak verskaf.
Vrydag, 3 April 2026
- En kyk watse name word vir hierdie dag tussen die res uitgelig: Die Heuwels Fantasties (21:45), Springbok Nude Girls (19:30), Refentse (18:15) en Robbie Wessels (17:00).
Saterdag, 4 April 2026
- Die Kaap se saksofoon-superster Don Vino (in die middel onderaan die foto) blaas die oggend om 10:30 ‘’n storm op en Early B blaas vanaf 22:00 die ligte dood.
- Maar Demi Lee Moore (20:45) en Appel (19:30) en Elandré (18:15) en Kurt Darren (17:00) is ook die aand daar.
- Die Afrikaanse cowboy Dodo Nyoka (regs agter op die foto) trek om 13:00 die middag sy verhoogboots vir feesgangers aan.
Jy kan meer oor die hele fees hier lees; en kliek hier om kaartjies te koop.
