Hy was in 2024 die ‘Sacha’ van Boland se Groot Uitdaag en Top 12. Waarom word 2025 toe vir hom ’n Kavas-seisoen van min kanse?

Lorenzo Swart, aka Miter, word deur die “Rassie van die Boland”, coach Herschelle van Aswegen, die “mees talentvolle speler in Suid-Afrika” genoem. Hy ken hom goed; hy het hom self afgerig.

Maar wat het dié seisoen van Swart geword? Nadat hy in die Boland-opset opgeneem is, het hy slegs enkele vriendskaplike wedstryde vir die Kavaliers gespeel. Nogtans, sê hy, was dit vir hom “definitief die moeite werd”.

Onder die Bolandse rugbyvolk is Lorenzo Swart (26) bekend vir sy aanvallende spel en spoed, ’n systap wat opponente dronkslaan en ’n skopvoet waarmee hy myle vir sy span kan wen of sekuur pale toe kan mik.

  • “Just an absolute gem who should be playing at the highest level if he works extremely hard,” sê Herschelle van Aswegen, wat die “Engelse coach” en die “Rassie van die Boland” genoem word. Hy was “Miter” se afrigter verlede jaar by Caledon. “He has the potential to be a Blitz Bok, but I believe he lacks the mental performance and touch.”
  • Coach Hersch sê as Swart egter meer “IDPs” op sy eie doen, met ander woorde meer onafhanklike spelerontwikkeling, sal hy onder die bestes tel.

Swart is een van die spelers wat die afgelope paar seisoene lewe aan Boland se Groot Uitdaag-kompetisie en Top 12-uitspele gegee het. Behalwe wat reeds oor hom gesê is, verras hy ook soms met skepskoppe – én hy kan gevaarlik verdedig. Dan verstaan jy waarom hy twee keer reeds as die agterspeler van die Top 12-toernooi aangewys is. Die laaste keer was verlede jaar toe hy saam met Caledon die halfeindstryd gehaal het. Miter is op klubvlak waarskynlik die naaste wat jy kan kry aan die Bok-losskakel Sacha Feinberg-Mgomezulu, hoewel hy meermale op heelagter gebruik word.

Dit is hoe hy deur die Boland-afrigter Hawies Fourie raakgesien is. Wellington het daarom sy nuwe tuiste geraak. “Om deel te wees van Boland-Kavaliers was ’n droom,” sê hy oor sy 2025-hoogtepunt. In sy eerste Boland-seisoen, het Miter egter net in vyf vriendskaplike wedstryde vir die Kavaliers kon speel, twee daarvan teen ander lande: Kenia en Namibië.

  • “Ek voel baie goed oor die jaar,” sê hy aan Mondstuk Media. Dit is veral oor wat hy alles geleer het, “want as ’n speler weet ’n mens net soveel, jy weet nooit alles nie”.
  • Hy laat hom nie in ’n blik druk as hy gevra word of dit die moeite werd was om die jaar in Wellington deur te bring nie. “Yes, definitief was dit die moeite werd.”

Swart het dié jaar twee klubwedstryde vir Caledon gespeel voordat hy Boland toe is; hy het die meeste van sy rugby (sowat tien wedstryde) egter vir sy nuwe klub, Newtons, gespeel. Wat sy kanse is om by Boland te bly, weet hy nog nie: “Coach het ’n one on one gehad met ons,” sê hy, “maar beslis wil ek deel wees van Boland Kavaliers.”

Tog is dit die gees van sy vorige klub, veral op “game day”, waarna hy die afgelope seisoen die meeste daar in Wellington verlang het – en ook die gemeenskap se “cheer” en trots. “Dis iets wat mens beslis mis van die huis,” sê hy, “asook die kinders wat so opkyk na mens en ná die wedstryd na mens hardloop om te kom groet en foto’s te neem.”

Rugbymense glo Lorenzo “Miter” Swart beskik oor al die vaardighede wat ’n speler op die veld benodig om insluiting in die Kavas se beginspan te regverdig. “Obviously,” stem Coach Hersch saam. Maar talent alleen is nie genoeg nie; meer is nodig. Jy moet ook van die veld af jou staal kan wys, word gesê, byvoorbeeld deur gedissiplineerde optrede en oefen op jou eie.

Weg van die huis af wees, weg van jou vriende en familie en jou hart se punt, behandel egter nie alle spelers ewe goed nie. Miter kan nou ook daarvan getuig.

 

 

Leave a Reply