Stewels trap spore van hoop: Kaapse Forum en Puma span saam om jong sporttalent te ondersteun

Mense dink dalk nie altyd daaraan dat daar ook by sogenaamde spog-skole behoeftige leerders is nie. Wat egter vir die burgerregte-organisasie Kaapse Forum belangrik is, is om te kan help waar hulle kan, soos met die onlangse oorhandiging van Puma-stewels by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

Waarom maak dit saak? “Hierdie inisiatief gaan oor meer as net stewels,” sê Aldo Carelse van Kaapse Forum, wat die stewels aan die skool se nuwe sportonderwyser, mnr. Abri van Heerden, oorhandig het. “Dit gaan oor hoop.”

 

Hoërskool Jan van Riebeeck is een van Kaapse Forum se vennootskapskole, wat aktief talentvolle leerlinge uit minderbevoorregte gemeenskappe ondersteun deur beurse en mentorskap.

  • “Baie van hierdie jongmense kom uit die breër bruin gemeenskappe – en elke bietjie ondersteuning help hulle om nader aan hul drome te beweeg, op én van die veld af,” sê mnr. Carelse.
  • “Ons glo elke jong mens verdien die kans om sy of haar volle potensiaal te bereik of dit nou in die klaskamer of op die sportveld is.”

Die skenking vorm deel van Kaapse Forum se wyer vennootskap met Puma, sportvervaardiger, wat verlede jaar begin het toe die organisasie ’n borgskap van sporttoerusting ontvang het. Sedertdien het die forum sportklere en toerusting aan verskeie gemeenskappe en projekte regoor die Wes-Kaap versprei met ’n besondere fokus in die Boland.

Carelse vertel skenkings is deur die organisasie gedoen vanaf De Jager Primêr in Oudtshoorn tot sokkerklubs in Caledon en Genadendal. “Ons het op dié manier seker gemaak dat plaaslike helde en gemeenskapspanne toegerus en bemoedig word,” sê hy. Plaasskole, vroeëkinderontwikkelingsentrums (ECD’s), soos Botter Blommetjies; welsynsorganisasies soos Badisa; en plaaslike rugbyklubs, soos Morningstar, het almal reeds voordeel uit hierdie veldtog getrek.

“Dis juis hierdie soort samewerking wat gemeenskappe versterk,” sê Carelse. “Wanneer skole, vennootorganisasies en besighede saamstaan, skep ons geleenthede wat lewens verander.”

  • Kaapse Forum doen ’n beroep op individue en organisasies om betrokke te raak by projekte wat gemeenskappe versterk, jong talent ondersteun en in die toekoms van gemeenskappe belê.

 

 

Leave a Reply