Neville D, ‘magtige’ musikale talent van die Kaap, praat oor sy Mighty Men-mylpaal. Dit was ‘awesome’, sê hy
Om verlede naweek die prys en aanbidding te kon lei by past. Angus Buchan se eerste Kaapse Vlakte Mighty Men-saamtrek, was vir die gospelkunstenaar Neville D ’n “groot, awesome voorreg”.
Waarmee vergelyk hy dit? Sy nominasie en bywoning van die Grammys in 2016: “Ek het daar gevoel asof ek Kaapstad, die Cape Flats en Suid-Afrika represent – en by Mighty Men het ek gevoel of ek Kaapstad in prys en aanbidding lei.”
Neville D kom al ’n hele 25 jaar in die musiekbedryf aan – ’n mylpaal wat hy beplan om te vier “net om dankie te sê”, vertel hy Mondstuk Media in ’n onderhoud oor verlede naweek se Mighty Men-byeenkoms by die Athlone stadion.
- “Wat ek bekom het as ’n kunstenaar en human being is bó my verwagtinge,” sê die kind van Kalksteenfontein op die Kaapse Vlakte. “Ek het drome gehad, ja, maar wat ek bekom het, is beyond my imagination.”
- Dit sluit die Grammy-benoeming in saam met Israel Houghton vir “How awesome is our God”; treffers wat hy vir jazz-kunstenaars soos Judith Sepuma geskryf het; en ’n string gospeltreffers van sy eie, soos (die eerste) “Calling My Name”, “Die Here weet wat ek doen”, “Nuwe dinge” en “Nobody like Jesus”.
Skakel in: Neville is die laaste jaar en ’n half reeds ’n aanbieder op Radio Tygerberg se ontbytprogram. “Dis nie iets wat ek gedink het ek sal ooit doen nie,” sê hy daaroor. “Om hierdie kant van die mic te wees, is iets anders. ’n Tall order.” Maar dit pas hom goed omdat hy “lief is vir praat en hou van musiek”.
Soms roer hy ook die pot op sosiale media, soos toe hy gevra het waarom enigiemand sal wil betaal om ’n show by te woon waar jy eintlik maar kry wat jy Sondae in die kerk kry. Hieroor het party gelowiges “amen” uitgeroep; uit ander monde het dit soos “hiert jy, satanskind” geklink. “Ek like om oor real issues te praat,” verduidelik Neville. Soms kom dit egter nie “so lekker oor nie”; soms kan mense “nie jou hart hoor nie”.
- “Maar ek dink maak nie saak wat jy post nie, daar sal altyd iemand wees wat saam met jou disagree. Maar ons moet sê wat ons voel, sê wat ons glo, sê wat ons conviction is. Som mense gaan dit like en som mense gaan dit nie like’ie.”
Mentor vir die volgende generasie: Wat vir Neville D vandag die belangrikste is, wég van sy eie prestasies, is om vir jonger kunstenaars ’n mentor te wees soos wat ’n Allou April en wyle Robbie Jansen, byvoorbeeld, vir my hom was.
Maar familie altyd eerste – en noudat sy en Liezle se kinders groot is, twee van hulle op pad uit die huis om hul eie dinge te doen, is dit vir hom belangrik om te verseker “dat die exit goed is”. “En in terme van ek en vroulief, dat ons twee vir mekaar die beste bly wees – ons gaan mos nog ’n familie wees selfs met die kinders uit die huis.”
Die helder ligte wat nou al vir 25 jaar oor sy lewe en loopbaan skyn, verberg ’n donker kant. Dit is toe Neville sy ma aan die dood afgestaan het. “Ons wat groot geword het in die pinksterkerk word mos geleer om te bid en iemand word gesond,” sê hy. Toe gebeur dit nie vir sy ma nie. “Dit het my laat wankel. Maar ook geloof het my [in daardie tyd] deurgedra, want maak nie saak wie jou verlaat nie, God sal jou nooit verlaat nie.”
How awesome is our God?
