Sê nou maar Boland-rugby se bankrekening trek swaar, soos dit vertel word, waar sal Desember se bonusse vandaan kom? Die ‘prez’ en die ‘vice’ werk aan ’n plan

Wêreldwyd heers daar hierdie tyd van die jaar opgewondenheid oor Desember-bonusse, maar in een land, Boland, is dit glo nie ’n uitgemaakte saak dat daar genoeg geld daarvoor gaan wees nie. Of vir pres. Bennie van Rooi en die UB se “toelae” nie…

Dinge neuk: Laas maand was daar ook glo nie geld vir petrol vir die Boland-voertuie nie en nou is daar ook vrae oor poste wat geskep word en aanstellings wat glo gemaak word sonder dat daarvoor begroot is.

 

Dit lyk of Boland-rugby – die unie, nie die (Pty) Ltd nie – lewe soos mense wat meer geld uitgee as wat hulle verdien.

  • Die moeilikheid is nou, soos wat Mondstuk Media verneem, dat die unie dalk nie Desember-salarisse en -bonusse sal kan betaal nie.
  • Of dit die president, mnr. Bennie van Rooi, en sy uitvoerende komitee se maandelikse toelaes ook affekteer, is onduidelik.
  • Maar Boland se antwoord op ons navraag oor sy geldsake was positief: “Die Boland Rugby-unie was en is nog altyd in ’n posisie om verpligtinge teenoor werknemers na te kom.”
  • Op die vraag oor petrolgeld, was die antwoord: “Alle voertuie is tans operasioneel ter voorbereiding vir die Boland Rugby uitspele semi- en finale.”

Ten spyte van bogenoemde antwoorde, het Mondstuk Media verder verneem dat mnr. Van Rooi en sy adjunk, mnr. Pat Marran, self inspring om borge te soek om die unie uit die verknorsing te red.

  • Die unie sê: “Boland Rugbyunie is tans in gesprekke en sal altyd oop wees vir borge wie vennootskappe wil vorm met die Boland Rugby.” Ook: “Die regte tussen partye word onderhandel van borgskap tot borgskap.”
  • Nuwe borge word in Boland se antwoorde uitgenooi om die unie te ondersteun: “Borgskappe wie nie in konflik is met huidige Sanlam Boland Top 12 borgskappe, is welkom om aan te sluit by Boland Rugby.”
  • Soos wat Mondstuk Media dit het, sal borge wat aan boord kom, onder meer kan onderhandel oor Boland-stadion se naamregte, wat tans aan Sanlam, hoofborg van die Kavaliers en die Top 12-uitspele, gekoppel is.
  • Oor die naamregte van die stadion, sê die unie ’n interessante ding: “Die Boland Rugby-stadionregte behoort op die stadium aan Boland Rugbyunie.”

Mondstuk Media is ook ingelig dat die kontrak van mnr. Duitser Bosman, ’n konsultant, glo einde Oktober verstryk het en dat nie alle UB-lede geneë is daarmee om dit te hernu nie. Ons het vroeër oor hom geskryf. (Lees die storie hier.) Omdat mnr. Bosman se kontrak egter spesifiek ten opsigte van die Top 12-uitspele is, is hy tans nog aktief betrokke by die uitspele, wat volgende naweek ten einde loop.

  • Op ons vraag oor mnr. Bosman se kontrak sê Boland: “Alle diensverskaffers van die Boland Rugby-unie, insluitend mnr. Duitser Bosman (DB Sport) se kontrak is geldig.”

Boland-begroting 2025/26: Wat bekend is, is dat die unie blykbaar sowat R3 miljoen per jaar van sy aandeelhouers (“equity partners”) kry en SA Rugby betaal ook jaarliks ’n bedrag aan die unie oor. Hiermee moet die unie sy klubs ondersteun, maar klubs vra lank reeds vrae oor die besteding van die geld.

Mnr. Van Rooi maak glo ook aanstellings sonder die normale menslike hulpbron-prosedures, soos dié van ’n mnr. Patrick Visser, wat nou geskors is. Mondstuk Media wou by Boland weet:

  • Is dit waar dat mnr. Patrick Visser uit diens gestel is en wat was die rede daarvoor?
  • Is die pos waarin mnr. Visser gedien het, voorheen geadverteer en gaan die vakature nou weer geadverteer word?
  • Die unie se antwoord: “Mnr. Visser is tans op skorsing en die aangeleentheid is sub judice.”

Belangeverklaring: Die skrywer van hierdie storie verdien nie enige salaris of ander vergoeding van Mondstuk Media nie. Ons hoop is dat die Boland-personeel wel sal kry wat hulle toekom.

 

Leave a Reply