Duitser Bosman, ‘prez. Bennie’ van Boland se hoofman, maak geld én vyande deur sy betrokkenheid by die unie se Top 12-kompetisie. Waarom is dit so?

Die maatskappy Duitser Bosman Sport (DBS) speel ’n invloedryke rol in die kommersiële bestuur en bemarking van die gesogte Top 12-uitspele in Boland-rugby se Groot Uitdaag-kompetisie. DBS se waardes is: “eerlikheid”, “spanwerk” en “kreatiwiteit”.

Wat moet ons nóg weet? Die man na wie die maatskappy vernoem is, word beide geprys (onder andere deur die unie se president, Bennie van Rooi) en gekruisig (onder andere deur klubvoorsitters). Soet én suur moet hy in dié rol verduur. Wie is hy nou eintlik?

Duitser Bosman verkies om agter die skerms te werk. Hy word nie sommer op foto’s gesien nie. Maar die afgelope ruk het hy wel sy nek uitgesteek deur kommentare op Facebook te plaas op kritiek teen mnr. Van Rooi en sy uitvoerende bestuur (UB) se hantering van die bewerings oor skeidsregter-omkopery in die Boland.

Dit is die grootste skandaal wat die unie al getref het. Mnr. Bosman meen egter die kritici moet erkenning gee aan mnr. Van Rooi vir wat hy beskou as goeie leierskap en die sukses van, byvoorbeeld, die Sanlam Boland-Kavaliers is aan daardie leierskap toe te skryf. Die span het vanjaar tot in die halfeindronde van die Carling Curriebeker gevorder.

In wat waarskynlik bedoel was as ’n terugkerende kompliment, is mnr. Bosman by die trekking van die Top 12-uitspele op 24 September deur mnr. Van Rooi erkenning gegee vir sy rol in die sukses van die kompetisie. “Waar is Duitser?” het hy gevra. Toe sê in die rigting van mnr. Bosman, wat nie op kamera gesien word nie: “Baie dankie.” Hy verduidelik dan waarom hy mnr. Bosman in sy toespraak uitgesonder het: “Julle weet, toe ons begin, was die haat groot. Ek het … die eerste man wat ek genader het, was vir Duitser. Ek sê dit nou hier op die live dat mense weet: ék het hom gebring.”

Wat mnr. Van Rooi in die proses gedoen het, was om mnr. Bosman van agter die skerms te gaan haal en op die openbare verhoog te plaas. Dit het gemaak dat Mondstuk Media besluit het om te vra: “Wie is hy nou eintlik?” Ons navrae het die volgende menings en bewerings aan die lig gebring:

  • Hy het as student by die PUK (deesdae Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus) vir die ou Wes-Transvaal voorry gespeel en word vandag nog uit daardie kringe as “beterweterig” beskou, ’n speler wat gereeld met die afrigtingspan koppe sou stamp, wat glo nie deur almal vertrou word nie, wat deur sommige as “gevaarlik” beskou word en waarvan gesê word dat hy “net vir homself sorg”.
  • Bosman se vertrek in 2018 ná 11 jaar by die Varsity Cup-kompetisie was glo nadat hy koppe gestamp het met Francois Pienaar, oud-Springbokkaptein en grootbaas van die kompetisie. Die kompetisie was ook nie, soos wat deur sommige geglo word, mnre. Pienaar en Bosman se oorspronklike idee nie, maar is deur die voormalige Springbok-afrigter André Markgraaf eerste uitgedink, word ook uit die ou Wes-Transvaalse rugbykringe gesê.
  • ’n Bewering word gemaak dat Boland-rugby op ’n keer oor die idee van ’n mobiele gimnasium vir landelike klubs genader is en dat gesprekke hieroor net skielik doodgeloop het nadat mnr. Bosman glo betrokke geraak het.
  • Nóg ’n bewering word deur ’n voormalige professionele rugbyspeler gemaak dat mnr. Bosman by die ontwikkeling en bemarking van ’n app vir rugbyklubs betrokke was en hom wou oorreed om te help om die indruk te skep dat die app reeds suksesvol en gewild is.
  • Mnr. Bosman sou meer onlangs glo ook kommissie verwag vir die fasilitering van ’n borgskap vir ’n Boland-klub, wat hy blykbaar nie self gewerf het nie.

Uit Boland-kringe word gereeld vrae gevra oor die presiese inhoud van mnr. Bosman se kontrak met die unie. Hy verdien kommissie op borgskappe wat hy vir die Top 12 bekom, maar onsekerheid heers oor of dit 20% of 30% is.

  • Na verneem word, het mnr. Bosman al geskille gehad met onder andere mnr. Noël Bastiaan, ’n direkteur van Boland se kommersiële afdeling, Boland (Pty.) Ltd, asook die voorsitter van Safcol, mnr. Dimitri Jacobs, oor kritiese vrae wat hulle oor inkomste en uitgawes vir die Top 12 gevra het.
  • Ongelukkigheid bestaan ook oor daar van klubborge verwag word om terug te staan vir die Top 12-borge – indien die plaaslike borg as “in konflik” met die hoofborge beskou word – ten spyte daarvan dat hulle heeljaar die klubs ondersteun. “Die Top 12 is ’n verlengstuk van die liga-kompetisie [Groot Uitdaag],” sê een klubvoorsitter. “Nou moet ons borge eenkant toe staan, terwyl hulle honderde duisende rande deur die hele seisoen in die klubs belê.”
  • Dit blyk ook dat nie almal op mnr. Van Rooi se UB sy waardering vir mnr. Bosman deel nie. Ooggetuies vertel van ’n hewige woordewisseling tussen mnr. Bosman en mnr. Pat Marran, vise-president, oor die spyseniering by die Top 12-trekking. Die begroting was glo R100 000, maar ’n pastei en blaarslaai is bedien, terwyl die kos glo ook te min was.
  • ’n Werknemer van DBS, mnr. Lucian Cupido, is intussen verwyder as aanbieder van die Boland-program Kô pad toe!, wat op die unie se Facebook-blad en Youtube-kanaal uitgesaai word, oor ’n beskuldiging dat hy die unie-bestuur sou ondermyn. Dit het deels te doen met die spysenieringskwessie.
  • Mondstuk Media verstaan egter ook dat die gewilde mnr. Cupido se verwydering meegebring is deur ’n klagte van ’n live streamer, Oom Syd, oor mnr. Cupido hom glo nie die nodige bystand met klank verleen het gedurende die uitsending van die Top 12-trekking, waarvoor oom Syd in opdrag van mnr. Marran aangestel is nie. Mnr. Cupido, wat ook uitblink as kommentator, was die seremoniemeester vir die geleentheid.
  • Bogenoemde gebeure dui op die wyse waarop UB-lede by operasionele kwessies betrokke is, wat onder die vaandel van die algemene bestuurder van die unie, mnr. Kobus Vergotine, behoort te val. Hieroor bestaan daar ook ontevredenheid. ’n UB-lid, mnr. Geduld Veldtsman, het Vrydagaand die aanbiedersrol van mnr. Cupido op Kô pad toe! oorgeneem.
Lucian Cupido, gewilde aanbieder, kommentator en MC, is van die program “Kô pad toe!” gehaal. (Foto: Facebook)

 

Mondstuk Media het ’n lys vrae aan mnr. Bosman gestuur om sy kommentaar vir hierdie artikel te kry. Ons het hom ingelig dat ons spertyd Vrydag teen die einde van die dag is of dan op die heel laatste gisteroggend. Hy het met ’n glimlag-emoji gereageer en ons korrespondent as ’n “kwaadstoker” bestempel. Ons plaas nogtans graag mnr. Bosman se kommentaar wanneer ons dit ontvang.