STANDPUNT: Bruin jeug gaan ten gronde weens ’n gebrek aan kennis oor hul komvandaan. ’n VGK-dominee stel ’n dringende ‘korrektief’ voor
“Hy wat die geskiedenis verwaarloos, sal dit herhaal,” is ’n aanhaling van die Amerikaanse filosoof George Santayana uit sy 1905-werk “The life of Reason”. In 1948 is dit in ’n toespraak aangepas deur die Britse premier Winston Churchill: “Those that fail to learn from history are doomed to repeat it.”
Sê wie? Dr. Charles Flaendorp, leraar van die VGK Macassar, wat in sy matriekjaar deur sy geskiedenisonderwyser aan die aanhaling bekend gestel is. Sy bekommernis oor die bruin jeug se onkunde oor hul geskiedenis, het hom nou weer daaraan laat dink.
In ’n sekere sin is die aanhaling vandag, 120 jaar nadat Santayana dit oorspronklik gebruik het, op soveel vlakke waar van die bruin jeug en bruin mense in die algemeen. ’n Groot gedeelte van die bruin jeug ly aan ’n identiteitskrisis omdat hulle ’n geheueverlies ten opsigte van hulle geskiedenis het. Die huidige Suid-Afrikaanse sosiale wetenskappe-kurrikulum help ook nie eintlik nie.
PROBLEEMSTELLING: Die geheueverlies-probleem oor hul komvandaan vorm die basis vir al die ander sosiale uitdagings wat die bruin jeug vandag ervaar. Daar is geen grootskaalse trots en waardering vir hulle geskiedenis en kulturele erfenis nie. Jy vind eerder somtyds ’n skaamheid of ongeërgdheid, selfs ’n ontkenning van wie hulle voorouers was. Geskiedenis is dikwels ’n nie–onderwerp onder die bruin jeug. Dit alles het tot gevolg:
- ’n Gebrekkige spiritualiteit, daarom ’n vergrype aan dwelms en alkohol, en tienerswangerskappe wat die armoede-sirkel vergroot. Dit word ’n sirkel sonder einde. Daarvan getuig ook die groot persentasie bruin jeugdiges wat hulle in Korrektiewe Dienste-sentrums bevind. Die ongemaklike waarheid is dat daar geen korrektief op hulle gedrag plaasvind binne ’n gebrekkige Korrektiewe Dienste-stelsel nie.
- Verwarring omdat hulle deur ander groepe gedefinieer word oor wie hulle is. Hulle word deur verskillende name getipeer. Jy is óf ’n Kleurling, ’n anderskleurige, ’n bruin kind, of ’n coloured. Somtyds is jy ’n baster. Dan is daar nog die steriotipering ook: “tikkop”, “druggie”, “wynvlieg”, ens. Die huidige politieke elite dra by tot hierdie verwarring deur ’n volgehoue rasseklassifikasie-wet.
WAT STAAN ONS TE DOEN? As daar nie ’n korrektief op die bruin jeug se gedragspatrone en ingesteldheid kom nie, sal die geskiedenis van marginalisering, ’n gebrek aan kennis oor hulle geskiedenis, en die identiteitskrisis voortbestaan. ’n Rede waarom bruin jeugdiges nie as ’n groep deelneem aan die diskoers oor hulle taal, identiteit en historiese kulturele erflating nie, kan moontlik toegeskryf word aan hierdie gebrek aan kennis oor hulle geskiedenis.
’n Dringende, radikale plan is nodig om hierdie groep op te hef deur alle rolspelers in die samelewing:
- Begin by die opbou van hulle selfrespek en selfwaarde deur middel van opvoedkundige programme binne jou geloof en opvoedingsinstellings. Selfrespek begin wanneer jy jouself begin respekteer vir wie jy is en waarvandaan jy kom. Dit word versterk as jy jou geskiedenis herken, erken en ken. Dit vestig identiteit.
- Elke bruin kind moet sy/haar familieboom ken, gebrekkig of nie. Geen boom het net altyd mooi groen blare. ’n Her-prioritisering is nodig met die fokus op (bruin)menswaardigheid. Vestig ’n nuwe veranderde ingesteldheid. Bruin mense in die algemeen moet geleer word om hulle nie net te identifiseer in terme van hulle fisiese gelaatstrekke nie, maar ook in terme van hulle kulturele en geografiese geskiedenis. Leer die jeug op ’n weeklikse basis etiese waardes, konflikhantering en gesonde lewenskeuses.
- Dwing bruin kinders om ten minste hulle basiese skoolloopbane te voltooi. Hulle moet nie toegelaat word om die skool te verlaat alvorens hulle nie hulle matriek geslaag het nie. Ouers moet aanspreeklik gehou word indien dit nie gebeur nie!
- Die opvoedingspeil is die laagste onder bruinmense in die land. Die toelatingskoers vir bruin kinders by tersiêre instellings is ook die laagste in SA. Die inskrywings by voorskoolse instellings is egter die hoogste onder bruin mense.
- Leer die jeug om nie terug te trek in ’n kokon van selfbejammering nie. Die bruin jeug se minderwaardigheidskompleks moet opgehef word deur hulleself. Sterk bruin rolmodelle en opvoeders moet hiermee help.
Toegegee, ’n grootskaalse opvoedingstaak wag. Die marginalisering van bruinmense en veral hierdie generasie sal net opgehef word as die opvoedingspeil verhoog word. ’n Dramatiese ommeswaai deur bruinmense self is dus nodig.
NOU WAT NOU? Die ongemaklike, empiriese waarheid is dat die sosiale strukture in die bruin gemeenskap gehawend is en dit sal die proses bitter moeilik maak.
- Dr. Charles Flaendorp het sy doktorsgraad in sistematiese teologie met ’n histories-empiriese proefskrif oor die identiteit en spiritualiteit van bruin mense oor ’n tydperk van 200 jaar verwerf. Hy het ook ’n meestersgraad in geskiedenis. Tussen 2007 en Junie vanjaar was hy verbonde aan die Departement van Korrektiewe Dienste se Wes-Kaapse paroolraad.
