‘En dit is die einde van die wedstryd’: Wie gaan die Paasfees-bekers omhoog hou in Saldanha, George en Wellington?

Rugby in die Wes-Kaap geniet vandag een van die opwindendste dae van die seisoen met drie Paastoernooi-finale wat gespeel word.

Wat word verwag? Die vingers tokkel op toeskouers se fone oor wie met die louere gaan wegstap. Robertson Town sal in George hul krag wil wys, soos in dié foto op die EPCC se Facebook-blad.

6.04.2026 | SPORT: Dit gaan moeilik wees vir rugbyliefhebbers om vanmiddag te besluit na watter finaal hulle moet kyk. Miskien moet hulle mêtjies trek: Gaan jy vir die oudste toernooi (op Saldanha aan die Weskus)? Of verkies jy die toernooi wat hulde bring aan die legendariese rugbybaas Ebrahim Patel (onder in George in die Suid-Kaap), waaraan spanne uit die Boland, SWD én die OP deelneem?

  • Die EPCC-toernooi het ook nou ’n lekker scoop gekry deurdat die minister van sport, kuns en kultuur, mnr. Gayton Mckenzie, gisteraand op Facebook aangekondig het dat hy vandag George toe vlieg om die eindstryd by te woon.

Derde, maar nie die minste nie: Of kies jy die jongste toernooi, wat deur ’n huidige rugbyheld, Sanlam Boland Kavaliers-kaptein Thurlow Marsh, se stigting begin is (op Wellington in die hartjie van die Boland)?

Hoe ganit da? Anders gaan toeskouers heeltyd tussen die verskillende wedstryde moet rondspring – bietjie live streaming, bietjie televisie, maar die beste bly mos maar dat jy jouself langs die veld van enige van die wedstryde moet bevind. Die gees in die stadion kan net nie tuis ge-na-aap word nie. Maar jy kan altyd vir iemand by ’n ander wedstryd vra: “Wat is die score daar by julle?” Of jy kan na een van die vele Facebook-blaaie gaan waar updates geplaas word, soos Boland Voorstoep Rugby.

Dissipline: In die algemeen beskou, was daar nog geen verslae van ernstige probleme met toeskouers se gedrag nie. Dit is ’n kompliment vir die organiseerders van al drie toernooie – en klubs kan sekerlik iets by hulle leer.

Beslissings: Maar die skeidsregters loop deur soos altyd met toeskouers wat meen hulle weet beter as die manne met die fluitjie in die hand. “Menslike foute” het mos ’n vloekwoord vir sommige geraak. Skeidsregters moet perfek wees, al is die spelers en die spectators nie eens nie.

Hier volg die program vir die finale:

  • Saldanha Super 8 Easter Rugby Tournament: Saldanhabaai RVK vs Naka Bulle. Afskop: 15:20; Saldanha se tuisveld. Die Naka Bulle van Pretoria het die afgelope paar seisoene in SA Rugby se Goue Beker-kompetisie spanne uit die suide op hul neus laat kyk. Saldanha het as gasheerklub egter baie meer motivering om die skape deurmekaar te jaag. Die wedstryd word op die SuperSport Schools-kanaal uitgesaai.
  • Ebrahim Patel Community Cup: Robertson Town vs Safcol. Afskop: 14:20; Outeniqua Park. Hierdie gaan beslis ’n taai stryd wees tussen dié twee ysterspanne uit Boland se Groot Uitdaag-kompetisie. Safcol van Grabouw het nie heeltemal oortuig in hul semi-finaal teen Botrivier nie, maar teen Town sal hulle die appels vinniger wil pluk en verpak. Global Sports Network saai die wedstryd op Youtube uit.
  • Thurlow Marsh Easter Rugby Festival: Roses United vs Universals. Afskop: 15:00; A-veld by Sanlam Boland-stadion. Roses is natuurlik die plaaslike span en geniet daarom ’n mate van “tuisveldvoordeel”, maar die vissermanne van Stanford is dié seisoen die nuwe Groot Uitdaag-gunstelinge en sal wil wys waarom dit so is. NH Sports TV is verantwoordelik vir die live streaming van die wedstryd.
Leave a Reply