Geen party meer sonder sonde, sê Kaapse Forum by KKNK: ‘Kiesers moet partye glo as hulle ware kleure wys’
Kaapse Forum het kiesers tydens ’n paneelgesprek by die KKNK aangemoedig om partye góéd dop te hou in die aanloop tot die plaaslike verkiesings.
Hoe so? Partye wys gewoonlik presies wie hulle is deur hul optrede en besluitneming op plaaslike regeringsvlak, sê die organisasie by monde van sy uitvoerende voorsitter, Heindrich Wyngaard.
30.3.2026 | POLITIEK: Die gesprek het deel uitgemaak van Netwerk24– en Die Burger se jaarlikse gespreksreeks by die KKNK, wat vanjaar vir die dertigste jaar aangebied word. Dit was ook die eerste gesprek hierdie keer – en die vraag wat bespreek was, was vir watter party die mense van die dorp in November se plaaslike verkiesings moet stem.
Een van die sprekers, Chris McPherson van die DA, het die stelling gemaak dat kleiner partye die res gyselaar hou in gevalle waar veelpartykoalisies ’n plaaslike raad beheer.
Kaapse Forum se voorsitter, Heindrich Wyngaard, het in vraetyd hierop gereageer deur te sê dit is nie noodwendig net ’n geval dat kleiner partye die grotes gyselaar hou nie. Dit gebeur ook dikwels, sê hy, dat kleiner partye deur grotes “gebruik en misbruik” word.
- “Niemand is meer sonder sonde nie,” het hy namens die organisasie gesê.
- Ter verduideliking van sy stelling het hy die sprekers en gehoor meegedeel dat die DA buite stemming gebly het toe die VF Plus se (vorige) burgemeester op Oudtshoorn, Johan Allers, uitgestem is.
- Terselfdertyd bly die VF Plus buite stemming in die Theewaterskloof-munisipaliteit wanneer die DA, wat die meeste setels daar het, hul steun benodig teen die ANC, Good, PA en EFF.
KYK DIE VIDEO HIER
Wat uit die sprekers se reaksie aan die lig gekom het, was dat plaaslike verteenwoordigers dikwels deur die provinsiale en nasionale leierskap van partye voorgesê word oor hoe daar op plaaslike vlak gestem moet word. Mnr. McPherson het hieraan ’n afkeur – hoewel hy begrip het daarvoor dat die senior leierskap na die “groter prentjie” kyk, terwyl die ANC se Zoe Tyatya, tans waarnemende burgemeester, gesê het beleidsoorwegings speel ’n rol in hoe sy party stem.
- Mnr. Allers, wat deur mnr. Tyatya vervang is, was die uitsondering: Hy het gesê die VF Plus laat wel ruimte vir eie besluitneming deur sy plaaslike verteenwoordigers.
Die politieke kommentator dr. Harlan Cloete, wat die gesprek bygewoon het, het aan Mondstuk Media gesê: “Demokrasie moet op die grond gevoel geword en plaaslike mense moet hulle eie lot kan bepaal. Mense moenie [voor] gedikteer word nie.”
Mnr. Wyngaard het gesê kiesers het sedert die 2021-verkiesing genoeg gesien en gehoor van die partye wat tans in rade in die Wes-Kaap dien. “Glo dié partye as hulle hul ware kleure vir jou gewys het tot nou,” sê hy. “Dit is wie en wat hulle is – en jy moet besluit of dit die soort party is vir wie jy behoort te stem.”
