Stamhoof ‘biaza nie’ ná inhegtenisname oor teistering van Tertuis Simmers. Wat gaan die hof Woensdag beslis?
Die PA-lid Brendon (“Stamhoof”) Adams het skaars sy sit in die Wes-Kaapse Wetgewer gekry, toe bel die polisie hom omdat hy hom afgevee het aan ’n beskermingsbevel.
Wat nou? Terwyl hy voortgaan met sy werk deur onder meer sporttoerusting op Uniondale uit te deel, moet hy komende Woensdag in die Thembalethu-hof op George gaan antwoorde gee.
30.03.2026 | NUUSMAKERS: Die saak teen Brendon Adams, alias “Stamhoof”, spruit uit sosiale media-inskrywings en ook stellings wat hy in WhatsApp-groepe teen die DA se Wes-Kaapse leier, Tertuis Simmers, gemaak het. Dit word in die reg as “teistering” beskou en ’n beskermingsbevel is daarom ten gunste van mnr. Simmers uitgereik.
- “Stamhoof” het na bewering nie die inskrywings ter sprake uitgewis nie – en sy DA-opponent, mnr. Simmers, het dit onder die polisie se aandag gebring.
- Die twee, albei afkomstig van die Suid-Kaap, het mekaar nog verlede week in mnr. Simmers se begrotingsdebat as provinsiale minister van infrastruktuur met die tong getakel.
- Mnr. Simmers het gesê dit val hom op dat mnr. Adams – in bekende PA parlance – “baiza” (of terugdeins) noudat hy na vore moes tree om verantwoording teenoor die polisie te doen. Mnr. Adams sê dit was vir hom duidelik dat mnr. Simmers geweet het die polisie sou hom op spesifiek daardie oomblik bel.
Mondstuk Media is ingelig dat mnr. Adams nie self beheer het oor die Facebook- en WhatsApp-groepe waar hy die stellings, geruime tyd gelede, gemaak het nie. Die hof sal Woensdag oor dié verweer moet besluit.
Maar intussen gaan “Stamhoof” voort om sy “stam” te dien. Pas het hy sporttoerusting aan die Uniondale-rugbyklub oorhandig. Die klubverteenwoordigers wat dit ontvang het (van links na regs op die foto saam met hom), is Nanna Meyer, Belinda October en Marcha Booysen.
Voëls van eenderste vere? Mnr. Adams se moeilikheid volg dae nadat ’n ander PA-lid van die Wetgewer beskuldig is van die verkragting van ’n 17-jarige meisie van George. “Stamhoof” was gou om dit duidelik te maak dat die saak niks met hom te doen het nie, maar hy kry blykbaar nou kritiek uit partygeledere omdat daar vermoed word dat hy die nuus met die party se leierskap gedeel het.
- Wat glo gebeur het, is dat mnr. Adams genader is om die beweerde slagoffer na die hospitaal te neem nadat sy pille gedrink het.
- Dit is onduidelik waar die saak tans staan, want die genoemde PA-lid is nog nie in hegtenis geneem nie – ten spyte van die ernstige aard daarvan.
- In ’n stemnota wat met Mondstuk Media gedeel is, glo opgeneem deur ’n DA-raadslid, word ’n jong vrou – vermoedelik die beweerde slagoffer – gevra waarom sy pille gedrink het.
- Die meisie sê dit is omdat haar ma haar dwing om met “oom X” (die beweerde oortreder) te slaap. Sy sê sy kon dit net nie meer vat nie.
“Prez” het gepraat: Die PA se leier, Gayton Mckenzie, het self ’n week gelede in ’n Facebook-live die nuus bekend gemaak dat die lid uit die Wetgewer verwyder gaan word sodat hy op die saak kan fokus. Indien hy skuldig is, moet hy boet, het mnr. Mckenzie gesê, en as hy onskuldig is, “moet hy sue”.
- Mnr. Mckenzie het dit egter ook duidelik gemaak dat die PA alle nodige ondersteuning en beskerming aan die beweerde slagoffer sal bied.
