‘Rickey G’ is ’n 33-jarige Suid-Kaapse radio-omroeper. Nou wil hy Oudtshoorn se burgemeester word
Die DA volg die ANC se voorbeeld uit die 2021-plaaslike verkiesing met ’n jong burgemeesterskandidaat. Chad Louw het destyds gewen, maar nie lank gehou nie.
Waarom maak dit saak? Henricus Gysman is gewild op die radio. Gewildheid alleen sal hom nie die pos verseker nie, want Oudtshoorn se politiek is onvoorspelbaar.
30.3.2026 | POLITIEK: Henricus Gysman het Saterdagoggend ’n vraag uit die gehoor gestel aan die paneel tydens die KKNK-gesprek oor vir watter party Oudtshoorn se mense in die 2026-plaaslike verkiesing moet stem.
- Die vraag het hy met ’n ellelange stelling ingelei: “Ek voel daar is te veel uitdagings op die dorp. Klein uitdagings, wat uitloop op groot probleme. Infrastruktuur, verouderde pypleiding, verhoed dat ons paaie herstel word – en, om een uitdaging te noem, wat honderde miljoene rande sal beloop om te vervang of te herstel. Op hierdie stadium benodig ons nie beloftes soos ras, klas, kultuur of geloofsoortuiging nie. Dit nodig ons glad nie op hierdie stadium nie. Ons benodig ’n goeie diens, soos die goeie belasting wat ons betaal. Soos dinge tans staan op hierdie dorp, lyk dit nie of die leierskap hul prioriteite in orde het nie.”
Die paneel het bestaan uit die huidige (waarnemende) burgemeester, Zoe Tyatya van die ANC; die vorige burgemeester, Johan Allers van die VF Plus; en die DA-burgemeester wat voor Allers in die pos gedien het, Chris McPherson.
- Mnr. McPherson het destyds die eerste post-2021-burgemeester van die dorp, Chad Louw van die ANC, vervang.
- Nou het die tyd aangebreek om weer om die pos mee te ding.
Stille weg: Maar niks in mnr. Gysman se optrede Saterdagoggend het enige aanduiding gegee van wat gister onthul sou word nie, naamlik dat die DA hom as die party se burgemeesterskandidaat vir die 2026-verkiesing aangestel het. Waarnemers sou onmiddellik let op sy betreklike jong ouderdom (33) – en herinner word aan die ANC se 2021-kandidaat, Chad Louw, wat toe 24 was. Die wankelrige koalisie-politiek op die dorp het van mnr. Louw ontslae geraak, soos ook van sy twee opvolgers, naamlik mnr. McPherson daarna en mnr. Allers mees onlangs. Dit bring nie mnr. Gysman van stryk nie.
- “Ek gaan fokus daarop om die gemors te verwyder wat ons as inwoners elke dag moet verdra,” het hy gister selfversekerd by die bekendstellingsgeleentheid gesê. Teenwoordig was onder andere premier Alan Winde en die DA se provinsiale leier, Tertuis Simmers. “Ek staan as burgemeester om my mense te help en my dorp reg te ruk.”
- Mnr. Gysman sê ook as radio-aanbieder het hy “aan die duskant gestaan en gerapporteer (…) oor hoe ons dorp en die mense agteruitgaan”. Nou het hy sy hand opgesteek om ’n verskil te help maak.
Dié seun van oorlede oom Mike en oorlede antie Spaas Gysman, het groot geword op die plaas Welbedacht. “Een ding wat my ouers my geleer het,” sê hy as Mondstuk Media hom vra wie sy rolmodel is (die antwoord is sy pa), “is dat dit maak nie saak hoe min jy het nie, jy bly dankbaar.” Naas sy ses broers en vier susters, het hul ouers ook vyf ander kinders aangeneem. “Ek ken van droë brood en suikerwater as ’n maaltyd,” sê hy. “Ek ken van my bed maak op die vloer. Opstaan, opvou en dit wegpak.”
Mnr. Gysman was die afgelope 15 jaar ’n omroeper.
- “[Ek] het nie net gepraat nie – [ek] het geluister ook,” sê hy. ‘[Ek] het ook nie net uitgesaai nie,” sê hy verder, “ek het ook opgestaan.”
- In veldtogtaal sluit hy af: “Vandag staan Henricus op die drempel van ’n nuwe hoofstuk as Burgemeesterskandidaat.”
- En verder, asof dit iemand anders is wat oor hom praat, voeg hy by: “Onthou die naam. Vertrou die stem. Kies die leier. Hy is die leier wat Oudtshoorn nodig het: Eerlik, dapper en altyd daar vir sy gemeenskap.”
Dit is wat hy gister gesê het. Die vorige dag wou hy van die paneel by die Netwerk24– en Die Burger-gesprek weet: Watter pro-aktiewe planne het hulle in plek vir die dorp, “maar ook gemik op geleenthede vir ons as inwoners van Oudtshoorn”?

Die paneellid wat hom eerste geantwoord het, was mnr. McPherson van die DA. Hy het hom gevra om sy naam te herhaal. Hy was bly dat hier nou ’n jonger persoon aan die gesprek deelgeneem het.
- Mnr. McPherson het oënskynlik nie geweet dat dié jonger persoon deur sy party geoormerk word om die burgemeestersketting te dra, wat eens om sy nek gehang het nie.
- Die geheim is in sy naam opgesluit: “Henricus”, Latyns vir Henry, beteken “leierskap”, “om vir ander te voorsien” en ’n man “wat sy familie en gemeenskap beskerm”.
- Nou is sal alle oë op hom gerig wees en die pad is nog lank na die verwagte verkiesing in November.
