‘Net een traan’ is Sonia Jacobs se ware verhaal van oorlewing, geloof en hoop. Haar eerlikheid gaan jou skok

Hierdie eerste boek-uittreksel vir Mondstuk Media se lesers is die storie van ’n jong meisie wat stilweg trauma dra tot ’n vrou wat weier dat haar toekoms gedefinieer word deur haar gebroke verlede.

“Dis ’n rou vertelling van kindermishandeling, pyn, vergifnis en moed,” sê haar uitgewer, Jaco Koen van Funky Force Youth Development in Riviersonderend.

UIT NET EEN TRAAN DEUR SONIA JACOBS:

Daar was ’n bus wat ons in die oggende skool toe gevat het. Die busstop was ver en ons moes vroegoggend loop om betyds daar te wees. Dit was nog donker in die oggend as my pa ons wakker gemaak het om te was en reg te maak vir skool. My ma was nie ’n oggendmens nie.

Ek was nou al twaalf en ’n mooi groot meisiekind. Ek het gevoel ek is heeltemal oud genoeg om myself te was en aan te trek. My pa het ander idees gehad. In die oggend as hy my wakker gemaak het, was my badwater klaar getap. Ons het ’n groot bad gehad en ek het so klein gevoel as hy daar was.

“Kom, Meisie, trek uit jou nagklere dat ek jou kan was.”

“Ek is mooi groot, ek kan myself was, Daddy.”

“Ek sal nie dat my kinders vuil skool toe gaan nie. Ek sal seker maak dat jy mooi skoon gewas is. Ek wil nie stories hoor nie. Verstaan jy vir my?”

“Ja, Daddy.”

“Nou toe, trek uit.”

Ek moes dan my klere uittrek en in die bad klim. Hy het altyd eers my hande en arms gewas. Dan my borste. Hulle het nou net begin wys. Hy sou die nippel so tussen sy wysvinger en duim rol. Dan het hy die waslap weer seep gesmeer en my onderlyf gewas. Hy het altyd seker gemaak sy duim is nie onder die waslap nie, en as hy dan tussen my bene was, sou hy sy duim in my indruk.

Ek het in stilte gehuil, want ek wou nie my ma wakker maak nie. Ek was so bang dat sy my nie sal glo oor die dinge wat my pa aan my doen nie. Ek was bang dat sy sal sê dat dit my fout is. Ek wou nie hê dat sy dink dat ek probleme tussen haar en my [stief]pa probeer maak nie.

Na elke bad het ek vuiler gevoel as voor die bad. Ek het meer een meer in myself gekeer geword. Ek wou nie meer skool toe gaan nie. Ek was bang die ander kinders vind uit wat met my gebeur en terg my. My gedagtes was ’n warboel. Ek het elke dag gedink daaraan om weg te loop. Ek het gewens ek was dood.

Een oggend was hy meer hardhandig as die ander dae. Hy het my seer gemaak. Ek het begin huil. Hy het my getroos toe my ma in die badkamer inkom.

“Wat is fout, Baby? Hoekom huil jy?”

Voor ek haar kon antwoord, het my pa klaar ’n antwoord reg gehad.

“Sy wil nie skool toe gaan nie. Sy sê daar is van die kinders wat haar boelie.”

“Hoekom het jy nie vir my gesê nie, Meisie?”

Ek het vir my pa gekyk. Ek het daardie kyk geken. Hy het sy kop geskud, stadig en doelbewus. Die boodskap was duidelik. Ek kon niks sê nie.

Sonia Jacobs hoop haar storie sal lesers se harte aanraak en dat dit sal help om vroue- en kindersmishandeling in ons gemeenskappe te beëindig. Haar droom is om ‘’n miljoen boeke te verkoop en sodoende elke vrou te herinner: “Jy het niks verkeerd gedoen nie. Jy verdien om vry te wees.”

  • Bestel Sonia se boek by 083 394 4425.
Leave a Reply