Onbeskofheid en pasiënte wat op vloer slaap, ‘is verkeerd’. Minister glo die NHI sal die wonders kom doen
Die nasionale minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi (regs), was deel van die hoëvlak-afvaardiging wat verlede week die viering van Wêreld TB-dag saam met adj.pres. Paul Mashatile (links) op Caledon bygewoon het.
Waarom is dit belangrik? Mondstuk Media het ’n geleentheid gekry om hom te vra oor onder meer klagtes by plaaslike hospitale oor die optrede van sommige personeel.
30.03.2026 | NUUSMAKERS: Adj.pres. Paul Mashatile was die hoofspreker by die byeenkoms wat verlede week op Caledon in die Overberg gehou is om Wêreld TB-dag te vier. Saam met hom was onder andere die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, die adjunkminister van justisie, Andries Nel, en tot verteenwoordigers van die Wêreld Gesondheidsorganisasie uit Genève in Switserland.

Mnr. Mashatile se personeel het geweier dat die media agterna met hom praat. Dit was waarskynlik oor sy naam in onsmaaklike beriggewing oor beweerde korrupsie, byvoorbeeld, genoem is. Mondstuk Media het toe wel die geleentheid gekry om met dr. Motsoaledi te kon praat.
- Die minister is veral gevra oor klagtes oor diens by die plaaslike Caledon-hospitaal, waar personeel glo soms onbeskof teenoor pasiënte optree. Nie alle personeel word beskuldig nie, moet bygesê word.
- Die ander groot kwessie wat dikwels opgehaal word, is dié dat mense só lank wag om gehelp te word dat sommige sommer vir hulself ’n bed maak op die vloer van die noodgevalle-afdeling.
KYK NA DIE MINISTER SE ONDERHOUD MET MONDSTUK MEDIA op Die Hein Wyngaard Youtube-kanaal.
- Dr. Motsoaledi stem saam dat ongeskikte gedrag deur mediese personeel onaanvaarbaar is.
- Hy herinner die publiek en die personeel dat hulle ’n eed afgelê het om altyd korrek op te tree.
- Professionele liggame, soos die Gesondheidsombud, staan gereed om klagtes van die publiek te hanteer.
Min. Motsoaledi het in die onderhoud groot gewag gemaak van die NHI, of Nasionale Gesondheidversekeringsplan, wat die staat hoop om in werking te stel. Dié sal sorg dat die agterstand met tekorte aan beddens en ander hulpbronne, wat oorbevolking in hospitale veroorsaak, aangespreek word. Menslike gedrag is egter ’n uitdaging, sê hy, in sowel publieke as private gesondheidsorgfasiliteite.
Dienste wat tydens die TB-dag-vieringe aangebied is, sluit in dié vir tuberkulose, kanker, MIV en ook oogtoetse.
