Die Ebrahim Patel-toernooi sal kan doen met Gayton Mckenzie se beloofde miljoen. Maar wanneer dan?
Die toernooi-direkteur van die EPCC, wat oor die Paasnaweek in George gehou is, sal hierdie week aanklop by mnr. Gayton Mckenzie (middel), minister van sport, kuns en kultuur, oor die geld wat hy hulle belowe het. Dit was in die teenwoordigheid van die oud-Springbok, Ashwin Willemse (regs).
En nou? Romano Lekay (links) het teenoor Mondstuk Media gereageer op vrae wat ontstaan het sedert die minister se aankondiging. Hier is die DRIE VRAE en sy antwoorde daarop
- Was daar agterna weer enige kontak oor die beloofde skenking tussen die minister se kantoor of departement en die toernooi? Enige opvolgwerk van u kant af?
Ek was direk ná die toernooi nog in George om die post-toernooi afbreek te oorsien, asook opvolg- en terugvoerbesprekings te doen. Daarna moes ek voorberei vir ’n oorsese reis wat reeds verlede jaar geskeduleer was, en ek het eers die naweek teruggekeer. Ek sal in die loop van die week met die span opvolg en myself eers oriënteer ná die reis.
- Indien die geld wel oorbetaal word, aan watter entititeit sal dit betaal word? M.a.w is die toernooi as ’n maatskappy/NPO/NPC geregistreer of is daar ’n ander maatskappy waarvan u ’n aandeelhouer is wat die geld in ontvangs sal neem? Ander toernooie is byvoorbeeld aan ’n klub (Saldanha) of stigting (Thurlow Marsh) gekoppel en is dit duidelik waarheen skenkings in hul geval gaan.
Die toernooi word as ’n nie-winsgewende inisiatief bedryf en funksioneer binne ’n gestruktureerde raamwerk. EPCC opereer as ’n NPC, en enige befondsing sal deur die toepaslike entiteit hanteer word in lyn met die Departement se vereistes.
- Laastens, is G-Sports, waarvan u ook deel is, ’n borg of diensverskaffer; en word kleding wat deur die maatskappy vir die toernooi vervaardig word gratis gedoen of teen betaling?
G-Sportswear is ’n borg en langtermynvennoot wat ’n beduidende bydrae lewer tot die toernooi en verwante inisiatiewe. Die maatskappy borg die toernooi se klerasie, insluitend speeltruie, warm-ups, broeke en sokkies. Die toernooi word tans nie as ’n winsgewende projek bedryf nie, en daar is reeds aansienlike private investering gemaak om die toernooi te ondersteun. G-Sportswear dra ook wesenlik by deur verdere investering oor verskeie toernooie en gemeenskapsinisiatiewe.
LEES | Meer inligting oor die toernooi kan hier gevind word.
