Hy hou ons naam HOOG op die atletiekbaan. Nou mik hy na 2028 se Olimpiese Spele – en sy afrigter glo dis ‘definitief moontlik’

’n 17-jarige atletiekster van Swartberg Sekondêr op Caledon, Mateo le Roux, het beslis geen hoogtevrees nie.

Waarom maak dit saak? Hy is nie net die nasionale o/18-kampioen in hoogspring nie, maar ook nou die senior kampioen. Los Angeles Spele 2028, hier kom hy en sy afrigter, Heinrich Fortuin.

28.04.2026 | SPORT: Sien jy hom op straat in die woonbuurt Bergsig op Caledon, tref hy jou as ’n doodgewone gr. 10-leerder, wat hientoe of soentoe op pad is saam met sy vriende. Nederig en met ’n vriendelike gesig; en min gepla dat baie mense wat verby stap, nie sommer besef dat nasionale én Afrika-medaljes by sy ouerhuis hang nie; of dalk nie eens weet dat hy deesdae ook ’n nasionale senior hoogspringkampioen is nie.

  • Soos Mateo le Roux (17) sê: “Om teen ouer atlete deel te neem, het my nie afgesit nie. Dit is waarna ek uitgesien het.”
  • Die groot droom is nou om aan 2028 se Olimpiese Spele in Los Angeles, Kalifornië deel te neem.

Een van die baie mense wat ’n blink sporttoekoms vir Mateo voorspel, is Trevor de Bruyn, afgetrede onderwyser, wat op sy dag Caledon se eerste noemenswaardige hoogspring-kampioen onder die ou Sacos-vaandel was. Hy sê hy was reeds 23 jaar oud toe hy ’n (destydse) rekordhoogte van 2,10m gehaal het, wat weens tegniese redes nie erken kon word nie, maar hy kon op sy beste gemaklik op 2,05m oor die lat seil. ’n Mens kan uiteraard nie, beklemtoon hy, die verskillende eras met mekaar vergelyk nie.

  • Oor Mateo sê mnr. De Bruyn: “Ek het bitter, bitter lanklaas ’n hoogspringer op so ’n jong ouderdom met soveel potensiaal gesien. Daai is inherente potensiaal; en daai potensiaal kan – met die regte leiding en die regte afrigting – verseker dat hy hoër hoogtes behaal.”
Kampioen.

Die nasionale senior hoogspringtitel het Mateo s’n geword met ’n beskeie hoogte – as jy sy beste hoogte in ag neem – van 2,05m. Sy topprestasie tot nou was 2,15m. Dit is wat hom aanspoor om 2,20m vanjaar en volgende jaar 2,25m – selfs 2,30m, sê hy – af te stof.

  • Wat die onmiddellike toekoms betref, lê en loer die Wêreld o/20 Atletiekkampioenskappe vroeg Augustus by die Universiteit van Oregon in Amerika vir hom. Maeve Jonkers, sy ma, sê hulle behoort teen einde Mei te weet of hy die groep gehaal het.

Agter die skerms: Die man wat sorg dat Mateo goed voorberei vir die byeenkomste waaraan hy deelneem, afrigter Heinrich Fortuin, tree nie sommer na vore nie – tensy jy, soos Mondstuk Media gedoen het, aan sy deur kom klop. Ons het hom gevra:

Beskryf hoe dit is om met Mateo saam te werk:

  • Hy is ’n energy bunny wanneer hy by die baan is. Mens kan sien dat hy regtig lief is vir atletiek (of hoogspring in sy geval). Hy het ook ’n baie goeie begrip van wat dit verg en nog gaan verg om die beste te wees en te bly; hy “snap” baie vinnig as ons nuwe goed probeer en pas dit baie goed toe.

Waaraan moet hy nog werk om sy volle potensiaal te bereik?

  • Dit is ’n loaded vraag en nie maklik om te antwoord nie. Huidiglik oefen hy maar net drie tot vier dae per week en ons doen baie spesifieke oefeninge. Ek glo dat hoogspringers ook vinnig moet wees en spoed is een van die areas wat hy nog baie op kan verbeter, asook soepelheid. Bygesê: daar is baie meer faktore wat aan gewerk kán en móét word.

Ons verstaan Mateo mik vir die 2028 Olimpiese Spele en om dié jaar 2.20m te haal (en volgende jaar 2.25 of selfs 2.30). Hoe moontlik is dit?

  • Dit is definitief moontlik. Hy het emmers vol talent en baie potensiaal om nog te ontdek – so wat ookal hy sy kop op sit, is haalbaar vir hom. Solank as wat hy gefokus bly en die programme en strukture vertrou, kan hy dit vermag.
Leave a Reply