32 jaar ná 27 April 1994: Word bruin mense deur die regering vergeet? Of kla bruin mense onnodig?

Die nuuskanaal eNCA het Sondagaand in sy “We, the Nation”-program ’n spesiale bespreking gehou oor die lot van bruin gemeenskappe ná dertig jaar van demokrasie.

Hoekom maak dit saak? Deelnemers het saamgestem dat die ervaring van marginalisering by bruin mense geldig is. HEINDRICH WYNGAARD het gekyk – en meen die fokus moet na ekonomiese opheffing verskuif.

28.04.2026 | STANDPUNTE: Bekende deelnemers aan die gesprek, het ingesluit Fadiel Adams (leier van die National Coloured Congress), Tessa Dooms (medeskrywer van Coloured: How classification became culture), Marius Fransman (leier van die People’s Movement for Change), Cheslyn Steenberg (PA-burgemeesterskandidaat in die Stad Kaapstad), Angus Mckenzie (DA-raadslid op die Kaapse Vlakte), hoofman !Xam Keith Duarte en Ismail Joosub (programbestuurder: Grondwetlike Bevordering by die F.W. de Klerk-stigting).

  • Die vraag op die tafel was: Are Coloured people South Africa’s forgotten community?

Adams se antwoord op die vraag was prontuit: Soos wat die Nasionale Party die verdrukker voor 1994 was, het die ANC ná 1994 die verdrukker van bruin mense geraak.

Hoofman Duarte gebruik as vertrekpunt die afskaffing in 1991 van die Wet op Bevolkingsregistrasie deur oudpres. F.W. de Klerk. “Die ANC het dit in 1994 teruggebring,” sê hy. “Nou word aansoeke deur ons bruin kinders vir poste soos verkeersbeamptes doodeenvoudig uit die hopie gehaal en weggesmyt.”

Fransman het verwys na die inklusiewe, nie-rassige beeld en beleid van die ANC (en die vryheidstryd) voor die aanvang van demokrasie. Die ANC se beleid en ingesteldheid het toe verander na “swart in die algemeen” (wat bruin en Indiër insluit) na “African in die besonder” (wat voorkeur aan sogenaamde “black African”-mense gee).

Dooms beskryf haarself as “politically black” en “culturally Coloured”: “Wat bruin gmeenskappe nou nodig het, is eerstens dat erkenning aan hul stryd [om erkenning en oorlewing] gegee word.”

  • Omdat bruin mense se bestaan in die verlede (deur die wit regeerders) ingespan is om verdeeldheid tussen bruin en swart te veroorsaak, sê sy, is daar diegene (in swart geledere) wat nou meen dit is geregverdig dat teen bruin mense gediskrimineer word.

Mckenzie meen die ou regering kan nie geblameer word oor wat tans gebeur nie. “Ons weet wat apartheid aan bruin en swart mense gedoen het,” sê hy, “maar ons moet verantwoordbaarheid eis van diegene wat die ‘reënboog-belofte’ verbreek het.”

Steenberg het gesê marginalisering is die geleefde ervaring van bruin gemeenskappe. Niks en niemand kan dit betwyfel nie.

Joosub het die res van die paneel en kykers daaraan herinner dat bruin gemeenskappe die tweede grootste bevolkingsgroep in die land uitmaak en sowat 50% van die inwoners van die Wes-Kaap.

  • Dit is veronderstel om gereflekteer te word in die samestelling van die provinsie se politieke leierskap, maar dit is nie die geval nie. Ook nie wat senior betrekkings in die openbare of private betref nie.
  • Slotsom: Bruin mense word nie slegs polities nie, maar ook administratief afgeskeep.

Saampraat: Mondstuk Media se inhoudshoof, Heindrich Wyngaard, gooi ook sy stuiwer in die armbeurs:

  • “Dit is verblydend dat die lot (of die ervarings) van bruin gemeenskappe ’n nasionale besprekingspunt bly. Ons moet egter verby die slagofferfase kom en meer gereeld oor ekonomiese opheffing begin praat.”
Leave a Reply