‘Tuiste’ is SUIDOOSTERFEES se tema vir 2026. Hier is 5 feesboodskappe; en 8 shows wat jy móét gaan kyk

Die 23ste Suidoosterfees (SOF) word vanaf Woensdag, 29 April, tot Sondag, 3 Mei, hoofsaaklik by die KunsteKaap-teater gehou.

Hoekom maak dit saak? Dit val saam met KunsteKaap se 55ste bestaansjaar; en “Kinderlê” (met o.a. Miché van Wyk en Theodore Jantjies) is een van die shows waarna Mondstuk Media uitsien. (Foto: GYS LOUBSER)

28.04.2026 | KULTUUR: Naas Azelia Morkel, oor wie se aanstelling as nuwe direksievoorsitter Mondstuk Media in ons 14de uitgawe geskryf het, speel minstens vier ander vroue belangrike rolle in die aanbieding van die Suidoosterfees.

  • Hulle is Jana Hattingh, uitvoerende hoof van die fees; Henriëtte Loubser, hoofredakteur: Netwerk24; Sonél Brits, besturende direkteur: ATKV; en Marlene le Roux, uitvoerende hoof van KunsteKaap, waarheen die fees in 2007 geskuif het. Ons haal hier aan uit hulle boodskappe in die feesprogramboekie:

Morkel: “Vanjaar se tema, ‘Tuiste’, lê my besonder na aan die hart, want dis hier waar ons wortels kan herontdek en saam met ander vier,” skryf sy. “Tuiste is meer as ’n plek. Dit is ’n gevoel van behoort en herkenning, van hartskos, stories wat mense aan mekaar verbind en lekker kuier.”

Hattingh: Die feestema, sê sy, “herinner ons dat ’n tuiste ’n plek is waar stories gedeel word, stemme gehoor word en waar mense mekaar vind”. Sy sê ook: “Die kunste bied ’n ruimte waar ons almal kan behoort en aan ons drome kan bou.”

Loubser: “Die fees het gegroei uit ’n behoefte om plek te maak vir stemme wat nie altyd elders gehoor word nie, vir verhale wat te belangrik is om verlore te raak en vir gesprekke wat moet plaasvind, al is dit soms – selfs dikwels – ongemaklik.”

  • Sy voeg by: “Jy kan immers nie praat oor tuiste sonder om onderwerpe soos vervreemding, identiteit en om te behoort, te ondersoek nie – altyd relevant in ons land; toenemend ’n spilpunt in die wêreld.”

Brits sê: “Met vanjaar se tema, Tuiste, word ’n mens opnuut herinner aan die kunste se samesnoerende waarde.”

Le Roux skryf: SOF het oor die jare ’n reputasie opgebou as ’n fees wat vereenselwig word “met eindelose deure en geleenthede wat oopgan om gedeelde en onvertelde ervarings na vore te bring”.

  • “Dit is hoe mens platforms vir gemeenskappe skep om mekaar se ervarings onder een dak te deel,” sê sy verder, “en sodoende ’n ‘tuiste vir almal’ te bied.”
  • Oor KunsteKaap se 55ste bestaansjaar voeg sy by: “Saam met die Suidoosterfees is ons op reis om nog meer ervarings met mekaar te deel en mekaar nog beter te verstaan, te respekteer en om die skeppende kunste se noodsaaklikheid in ons samelewing te beklemtoon.”

Mondstuk Media se keuse van VYF SHOWS wat jy moet gaan kyk:

  1. Adam Small 90
  2. Songs van die Hart (met Jodi Jantjies en Karen Petersen)
  3. Early B & Salome
  4. Hoort – Stephanie Baartman se semi-outobiografiese kabaret
  5. The Echoes of the Cape Doctor: Remembering Robbie Jansen

En dan ook hierdie drie verhoogstukke:

  • Kinderlê, gebaseer op Lynthia Julius se gelyknamige digbundel;
  • Eugene, geskoei op Kirby van der Merwe se gelyknamige roman; en
  • Joshlin: Meer as ’n naam (oor die verdwyning van Joshlin Smith), geskryf deur Herschelle Benjamin.

KLIEK | Om meer volledige inligting oor vanjaar se Suidoosterfees te kry, lees alles hier.

Leave a Reply